Vir eensgesindheid lê dié saak te na aan die hart

Willem van der Schyf

By die onlangse FAK-Simposium rakende die Malema-haatspraaksaak, het Mnr Willie Spies ‘n verwysing gemaak na die Franse Generaal de Villebois-Mareuil. In die staaltjie wat Spies oorgedra het, vertel hy van hierdie buitestaander se akute observasie oor die Boer. Die Generaal vertel in sy dagboek hoe die Boere ‘n krygsvergadering sal belê, elkeen sal sy opinie gee, hulle sal onder mekaar baklei en stry en op die ou end steeds nie tot ‘n vergelyk kom oor wat hulle te doen staan nie.

Deur die verloop van die aand het dit baie duidelik geword dat, alhoewel die Simposium belê is met die doel om ‘n pad vorentoe te formuleer, het elke party reeds sy eie pad vorentoe geformuleer. Spies en Advokaat Roelof du Plessis het dit baie duidelik gemaak dat die saak verder geneem sal word, sonder voorbehoud, totdat ‘n gesaghebbende uitspraak gelewer word vanuit die oppermagtige Grondwetlike Hof. Malema word tans in ‘n hoek gedruk en dit is presies waar hulle hom wil hê. Die uitlatings wat hy maak is prima facie haatspraak en kan nie geduld word in ons moderne samelewing nie. Hierdie is ‘n stryd tot die einde, en hulle sal nie skik nie. Dit is alles of niks.

In skerp kontras met die bogenoemde regslui, het Professor Koos Malan die opsie van bemiddeling en skikking bespreek. Volgens hom is litigasie nie die geskikte roete vir geskille soos hierdie waar gemeenskappe betrokke is nie. Ek is geneig om saam met hom te stem. Litigasie geskied in ‘n adversatiewe stelsel, en ‘n stryd bestaan tussen die partye. Hierdie regstryd is bloot ‘n voortsetting van die onderliggende haat. Die uitspraak skep ‘n wenner en ‘n verloorder, en daarom kan die geheel nooit wen nie. Litigasie gooi sout op die wonde.

Alhoewel ek persoonlik die pad van bemiddelling en konsiliasie sterk ondersteun, het Generaal Chris van Zyl se spreekbeurt my stil gemaak. Om eerstehands te hoor watter struikelblokke die boere moet oorkom, het my laat besef waarom skikking nie ‘n opsie is nie. Sy woorde het my diep geraak en ‘n nuwe perspektief geskep.

Op die ou eind van die aand het elkeen sy spreekbeurt gehad, idees is gewissel, humeure het vlam gevat en is later weer kalmeer. Ons kon saamstem oor sekere goed en verskil steeds oor ander. Ons het nie tot ‘n vergelyk gekom en ‘n goue middeweg gevind nie, ek twyfel of ons ooit sal. Die saak lê te naby aan ons hart.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willem van der Schyf

Meer oor die skrywer: Willem van der Schyf

Willem van der Schyf studeer tans BCom Regte en LLB aan die Universiteit van Pretoria en is ‘n kandidaatprokureur by Len Dekker en Assosiate.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Louis du Plessis ·

DIE ILLUSIE VAN ‘N SKIKKING

1  Netjies opgesom Willem! ‘n Debat is van waarde om allerlei paaie te verken, maar dit móét lei tot ‘n besluit, net soos wat ‘n operasionele waardering deur ‘n bevelsgroep móét lei tot ‘n plan. 

2  Daar is egter ‘n illusie waaruit sommige van ons moet wakker skrik:  dat ons een of ander soort van ‘n skikking met die ANC-regering kan maak.  Jammer Koos, maar dit gaan nie werk nie.  Hoekom is dit ‘n illusie?  Omdat die ANC-leiers die ooreenkomste wat hulle vandag gee, môreoggend weer verbreek.  Die DA sien dit met elke sitting in die nasionale vergadering gebeur.  Geen ooreenkoms oor enige iets, vanaf ‘n voorneme om taalregte te respekteer tot ‘n voorneme om korrupsie te bekamp, is die papier werd waarop dit geskryf word nie.  Die ANC-leiers kan niks in Suid-Afrika beheer nie, omdat hulle as indiwidue nie hulleself kan beheer nie.  Hulle kan nie eers onthou om vergaderings by te woon nie!  Ek is verstom dat sommige Afrikaners so min van die huidige regeerders begryp. 

3  Wat is die uitweg?  Enige stap wat op ons eie vernuf as Afrikaners staatmaak!  Mobiliseer Afrikaansprekendes onder leiding van die Afrikaanse Taalraad!  Werf nog ‘n miljoen swartes in die townships vir die DA!  Veg nog hofsake teen magsmisbruik deur regeerders!  En talle ander aksies.  Maar asseblief, moenie op denkbeeldige ooreenkomste met die ANC-Fariseërs staatmaak nie.  Dis om jou huis sand te bou. 

4  Slotsom.  Help jouself! 

5  Willem, jy werk by ‘n spoggerige firma; allerbeste groete vir Len.

Propatria ·

Louis;
Ek stem saam met jou rakende dit wat nie oorweeg moet word nie, mens kan onderhandel as jy iets het wat die ander party wil he, of n drygende gevaar kan neersit wat die ander party nie wil he nie, in alle ander gevalle is dit nie onderhandel nie maar bedel.

Wat oplossings betref;
Ek gee my voorstelle nie as oplossings nie, maar sien dit eerder as roetes tot oplossings;
1. Maak die jongman bewus daarvan dat hy huidiglik die persoon is wat sy totale nageslag verteenwoordig (Wat letterlik miljoene kan beloop) en dus is hierdie skares na hom geheel en al afhanklik van dit wat hy nou besluit en doen.
Deur hierdie gedagte te laat posvat by manne begin hulle dieper dink oor hul verantwoordelikhede tot volkskap.
Ek ondervind dit n maklike ding om manne van te oortuig, want liefde tot sy naaste in op sy hartstafels geskryf, en wanneer hy besef dat sy verste nie sy naaste is nie, maar sy eie ongebore nageslag nader is aan hom as sy volksvreemde buurman, dan het ons n groot stap geneem

2. Ons moet nie met ander mense saamsmelt in taal verband nie, die Skotte, Walliesers en die Engelse woon al lank saam op een eiland, en almal van hulle praat tog engels, maar is trots op hulle eie volkskap. Hoekom kan ons nie erken dat daar verskillende Afrikaansprkende volke is nie? Selfs verskillende Afrikaansprekende rasse. Ons moet saamsmelt op volkskap, en dus gaan die Boer, die Afrikaner (Bruinmense), en die Cape Dutch Afrikaner elk hulle eie volkshuishoudings moet onderhou. Deur die verskille te respekteer sal reeds n groot stap in die regte rigting wees.

eendag sal ek verder gaan, maar tot hiertoe

Willem van der Schyf ·

Geagte Mnr du Plessis

1. U slaan die spyker op die kop met u stellings onder punt 2. Die huidige regering het geen agting vir die reg nie en dit is juis dan ook een van die punte wat Genl. Chris van Zyl aangeraak het wat my laat besef het dat ‘n skikking vrugteloos sal wees.

2. Die regering weet dat, selfs al kom hulle nie ‘n hofbevel na nie, gaan dit ten minste nog 2-3jaar wees voordat die aansoek vir minagting gehoor sal word, en teen dan is hulle termyn as ampsdraers verby.

3. MAAR vir daardie selfde rede gaan die hof se uitspraak net so min werd wees as enige skikkingsooreenkoms. As hulle nie daaraan gehoor wil gee nie, dan sal hulle nie. Ons sien dan reeds hoe hulle die Gelykheidshof se bevel minag, waarom sal ‘n hoër hof se stuk papier skielik ‘n ander effek hê?

Louis du Plessis ·

AFRIFORUM DOEN ONS ‘N GUNS

1  Willem jy stel ‘n skerp vraag oor die eiesinnigheid van die lede van die regerende party. 

2  My aanvoeling is:  Ons moet onderskei tussen sake waarin hofuitsprake onsuksesvol is en dié waarin hulle wel uitgevoer word.  Ons kan tans nog staatmaak op die konsekwentheid en universaliseerbaarheid van hofuitsprake, veel meer as op die manewales van ANC-voorbokke.  Met ander woorde:  die uitsprake van Suid-Afrikaanse howe is tans aansienlik meer betroubaar as die uitsprake van talle ANC-lede.  

3  Selfs al weet ons sommige ANC-voorbokke probeer hofuitsprake dikwels ignoreer, weet ons ook hulle kom dit dikwels na.  Met sy regsaksies doen AfriForum ons almal ‘n guns.  Hoekom?  Want AfriForum skep ‘n omvattende rekord van regspraak vir die toekoms wat bydra om die oppergesag van die reg te dien – ook vir wanneer Suid-Afrika oor ‘n paar jaar – soos in Zambië – ‘n ander regerende party sal hê.  Die regstelsel, ondanks talle gebreke, dwing wel soms gunstige uitsprake af soos oor die bestuur van Afrikaanse skole en oor die bevordering van werknemers volgens meriete eerder as volgens ras.

4  Tree vir tree.  In onderontwikkelde gemeenskappe werk die aanleer van wetsgehoorsaamheid langsaam, soos die uitwerking van reën, druppel vir druppel.  Al stop talle wit, gekrapte en ingeduikte Hiace-taxi’s in Atholl nie by stopstrate op die hoek van Corlette en Atholl Oaklands nie, is dit, vir die toekoms, noodsaaklik dat ons verkeersregulasies steeds sal probeer afdwing. 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.