Vryheid van spraak nie so eenvoudig

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Dit was ’n klinkende oorwinning vir die demokrasie en die vryheid van spraak toe die appèlhof verlede week besluit het dat die definisie van die begrip haatspraak in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie (Wet nr. 4 van 2000) ongrondwetlik is. Die definisie in dié wet, ook bekend onder sy Engelse akroniem Pepuda, is naamlik veel wyer as dié in die Grondwet.

Kom ons kyk eers na die haatspraakbepalings in die twee dokumente.

Artikel 16(1) van die Grondwet omskryf die “vryheid van uitdrukking” en reken daarby in, onder meer, mediavryheid, artistieke vryheid en akademiese vryheid. Maar dan kom subartikel 2, waarvolgens die volgende sake van die regte in subartikel 1 uitgesluit word (en dit word geag die grondwetlike definisie van haatspraak te wees):

  • Propaganda vir oorlog;
  • Die aanstigting van dreigende geweld; en
  • “Die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing op leed te veroorsaak, uitmaak”.

Dis duidelik dat die Grondwet se drie beperkings op spraakvryheid almal ’n gemeenskaplike element bevat: Al drie het met die bepleiting van geweld te make. Suiwer op die Grondwet beoordeel, mag – sê maar – Julius Malema sê alle wit mense is diewe, maar hy mag nie byvoeg dat alle wit mense dus vermoor, aangerand of in die see gejaag moet of mag word nie.

Nou na Pepuda art. 10(1) van dié wet sê niemand mag woorde “publiseer, propageer, verkondig of oordra nie, wat redelikerwys vertolk kan word as sou dit ’n duidelike bedoeling hê –

“(a) om kwetsend te wees;

“(b) om skadelik te wees of om skade aan te stig;

“(c) om haat te bevorder of te propageer.”

Art. 12 voeg by dat niemand enige inligting mag versprei of uitsaai “wat redelikerwys vertolk of redelikerwys begryp kan word as sou dit ’n duidelike bedoeling hê om teen enige persoon te diskrimineer nie”. Openbare belang, artistieke skepping en akademiese navorsing word egter van dié beperking uitgesluit.

Dis duidelik dat Pepuda se net baie wyer as dié van die Grondwet uitgegooi word. Die Grondwet se gemeenskaplike element van geweld is afwesig. Kragtens die wet, kan ’n mens redelikerwys aanvoer, mag Malema nie eens sê alle wit mense is diewe nie, laat staan dat hulle in die see gedryf moet word. (Nie dat daar enige redelike moontlikheid is dat Malema oor só iets skuldig bevind sal word nie. Hy is ’n brute stoomroller wat in die praktyk byna alles kan sê of doen – maar dit daar gelaat.)

In ’n artikel van ’n paar jaar gelede het die swart joernalis Jon Qwelane geskryf dat dit nie in orde is om homoseksueel te wees nie. Hy is aangekla en op grond van Pepuda skuldig bevind. Hy het geappelleer, en die appèlhof het die twee artikels van die wet nou as strydig met die Grondwet bevind.

Die hof het die parlement 18 maande gegee om die wet in ooreenstemming met die bepalings van die Grondwet te verander.

Op sigself moet die hofbeslissing verwelkom word. In beginsel is die vryheid van spraak een van die grootste verworwenhede van die liberale demokrasie, wat beslis een van die hoekstene van die stelsel genoem kan word.

Die vryheid van spraak, wat deur ons Grondwet beskerm word, gee my die reg om oudpres. Jacob Zuma ’n korrupte politikus en Malema ’n swart rassis te noem. Hulle sou dan die reg hê om my van laster aan te kla, maar my verweer sou wees dat dit in die openbare belang is om dit te doen, aangesien ek redelikerwys kan bewys dat my woorde feitelik korrek is en hulle openbare figure is.

Die storie is egter nog nie op ’n end nie. Dit het verskeie implikasies.

Ten eerste is die appèlhof se woord moontlik nie finaal nie. Dit hang nou af van die vraag of die Menseregtekommissie, wat Qwelane aangekla het, na die konstitusionele hof gaan appelleer. Doen hulle dit nie, bly die appèlhof se beslissing staan. Indien wel, moet die konstitusionele hof die finale woord spreek.

Tweedens kan jy, in ooreenstemming met die hofbeslissing, die ou Republiekvlag in die openbaar swaai sonder om van haatspraak aangekla te word. Dis ’n gevoelige klap in die gesig van die Nelson Mandela-stigting, wat die openbare vertoon van die ou vlag tot haatspraak verklaar wou kry.

In die derde plek moet ’n mens egter steeds jou gesonde verstand bly gebruik. Ek sou byvoorbeeld reken om die ou vlag op grond van die hofuitspraak in Soweto of Langa te gaan rondswaai, is gewoon moeilikheid soek.

Onnodige beledigings het nog nooit vriende vir enigiemand of enige saak gewen nie. Kyk maar na die heftige reaksie op prof. Jonathan Jansen – iemand wat blykbaar nooit maniere tuis geleer is nie – se jongste twiet na aanleiding van iemand wat hom op Afrikaans aangespreek het.

Om iemand die h- of k-woord toe te snou, is kragtens die hofuitspraak weliswaar nie haatspraak nie, want die element van geweld, wat deur die Grondwet vereis word, is nie aanwesig nie. Maar dis kwetsend en getuig van slegte maniere.

Suid-Afrika is ’n verskeurde land. Mense se bloed praat dikwels (dalk meestal) harder as die grys selle tussen hul ore.

Ek onthou jare gelede sien ek hoe ’n wit en swart man mekaar op die parkeerterrein van die Tygervalleisentrum in Bellville takel. Tot my vrou se ontsteltenis het ek, sonder om te dink, die twee uitmekaar gehaal (sy was bang ék kry ’n paar klappe). Maar later besef ek: Sonder dat ek die vólle voorval gesien het of die agtergrond ken, het ek outomaties gemeen die wit man is reg en die swart man verkeerd.

Dalk wás dit so, maar dis nie die punt nie. My emosie het harder as my rasionele denke gepraat.

In ons land – eintlik oral in die wêreld – moet ons sover dit moontlik is, vriendelik en hoflik met mekaar omgaan. Só maak jy vriende.

Die appèlhof se uitspraak is ’n rigtingwyser dat ons Grondwet ons sekere regte verleen. Ons moet egter besluit: Is die uitoefening van ’n reg (soos die swaai van die vlag) wesenlik (soos Afrikaanse onderwys)?

Indien wel, veg ferm en beleefd daarvoor. Anders, bêre die vlag maar in die kas of hang dit hoogstens in jou sitkamer op.

Vriendelikheid kos niks.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arak ·

Twee dinge wat ek wonder:
1) Wat van die Vicki Momberg geval? Gaan sy nou uit die tronk gelaat word, gesien dat die wet waardeur sy vervolg is nou onwettig is? Wat van die ou op die Griekse eiland en Penny Sparrow wat basies vernietig is deur die howe oor dieselfde wet?
2) Gestel daar word appelleer en die grondwethof bevind die Pepuda wet nou weer geldig, wat beteken dit vir die land se regstelsel? Dus wat beteken dit as die twee howe verskil oor die wet?

Feite ·

“Vriendelikheid kos niks nie”, op sy eie is net nie meer goed genoeg in SA nie. Vriendelikheid tesame met versoenende optrede (nie noodwendig voete was nie) en verdraagsaamheid is tans n moet in SA. In die SA van vandag sal jy dit ook nie langer kan waag om betrokke te raak by twee persone wat in n onderonsie betrokke is nie. Vryheid van spraak kan egter heel gemaklik beoefen word, indien mense haatspraak en rassisme uitsluit. Jy mag die vlag op jou kar plak, maar dit is glad nie aan te beveel nie, want jy mag dan skade ly wat aan jou eie toedoen toegeskryf kan word. Jy mag n persoon met die grootste vrymoedigheid beledig en n trol noem aangesien dit tans net die h en die k is wat as kwetsend geag word! Crimen Injuria werk nie vir beledigings soos trol nie, maar vir wanneer jy valslik beskuldig word en jou reputasie of goeie naam geskaad word en jy daardeur skade ly! Leopold het dus vir Marthinus beledig en hoef Marthinus net omverskoning te vra indien Leopold graag sou wou, dit is egter nie n wetlike verpligting nie en dus sal Marthinus vir die res van sy lewe beledig voel en later begin dink dat hy dalk tog n trol is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.