Waar staan “vryheid” 30 jaar na ’94?

ANC- en Nelson Mandela-ondersteuners hou ‘n voorverkiesingsbyeenkoms in 1994. (Foto: demo.bulktheme.com)

Herinneringe van ’94

Ek was maar nog ʼn kind in 1994 – ek onthou dié tyd as benoude dae: pa’s wat as kommandolede in bruin uniforms by ons klein plaasskool waggestaan het. Ek onthou nagte sonder slaap as gevolg van ʼn roep op die burgerband-radio oor ʼn voertuig vol gewapende mans en ʼn polisiehelikopter wat heel nag met ʼn soeklig naby ons plaashuis rondvlieg.

Geldige weerstand?

Dit is baie moeilik, maar ons moet in nederigheid kritiek op ons eie verlede lewer. Indien ons dit nie self doen nie gaan ander dit doen en gaan ons van die geleentheid ontneem word om te leer en te groei – meer nog, ons gaan nie bydra tot die vorming van ʼn gebalanseerde geskiedenisbeeld nie.

Daar was goeie en dwingende redes om weerstand te bied teen die gesentraliseerde orde van vóór ’94. Mense se menswaardigheid is aangetas. Gedwonge verskuiwings van mense vanaf grond wat hulle geslagte lank bewoon het. Mense is geklassifiseer op grond van ras. Afrikanerfamilies se erfgrond is ook onteien ter wille van ʼn sentrale plan. (Hoeveel hiervan is vandag ʼn werklikheid?)

Foto geneem op 1 Maart 1989 van ‘n bord wat sê “Whites only / Slegs Blankes” in die myndorpie Carletonville. (Foto: Philip LITTLETON / AFP)

Verklaar ons deur hierdie kritiek ons voorouers as boos? Nee. Hulle bedoeling was om die uiters uitdagende historiese vreedsame-naasbestaan-vraagstuk van ons komplekse samelewing aan te spreek. Hulle was egter gewone mense, net soos ons, en mense maak foute.

“Geswoeg vir vryheid”

Die heersende elite vertel graag van hul “geswoeg vir vryheid” om die voor ’94 orde omvêr te werp. (“Stryd” is immers nie ʼn goeie vertaling vir “struggle” nie.)

Het dié geswoeg vrugte afgewerp? Wel, elke volwasse individu het stemreg, en elke individu binne die grense van Suid-Afrika (soos dit vasgestel is hoofsaaklik deur optrede van die Britse Ryk) is nou burgers van die land – en volgens die Handves van Regte is alle burgers ook gelyk. Dus is almal nou “vry” – te danke aan die “bevryders”.

“Meet” van vryheid

Dit is egter hier waar ʼn diepliggende verskil bestaan, want ons dink anders oor vryheid. Is ʼn mens vry wanneer jy ʼn volwaardige burger van ʼn staat is en die reg het om te stem? Meet ʼn mens vryheid aan “insette” soos laasgenoemde, of eerder aan “uitkomste” – die eenvoudige werklikhede op voetsoolvlak? Is vryheid iets wat slegs op ʼn individu betrekking het, of ook op kultuur- en plekgemeenskappe?

Kan “vryheid” en “gelykheid” enigsins saam bestaan?

Nelson Mandela lig ‘n gebalde vuis op sy aankoms by die musiekkonsert wat deur plaaslike kunstenaars gereël is om die ANC-leier se vrylating van 27 jaar gevangenisstraf te vier op 17 Maart 1990. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Individu en gemeenskap

Vir ons het vryheid ook betrekking op kultuur- en plekgemeenskappe, nie slegs op individue nie. ʼn Individu word (ideaalgesproke) gebore binne ʼn gesin, op ʼn plek, binne ʼn gemeente, as deel van ʼn volk. Hierdie (organiese) gemeenskapsorganismes is die veilige ruimtes waarbinne ʼn individu gevorm word, en as mens deur genade gespaar bly, die plek waar ʼn mens dan weer jou Godgegewe roeping kan uitleef. Dít is ook deel van vryheid – om die ruimte te hê om as individu wat deel is van jou kultuur- en plekgemeenskap jou roeping te ontdek en uit te leef.

Om vry te wees moet kultuur- en plekgemeenskappe ook inspraak hê in die dinge wat hulle raak – anders is hulle nie vry nie, maar oorheers. (Een voorbeeld is inspraak in hul kinders se skool waar kultuur oorgedra word.) Vryheid het dus alles te doen met die individu, en alles te doen met die gemeenskap – daar bestaan ʼn balans, ʼn geheel.

Verskeie Afrikaner-straatname is na 1994 verander om ere te bring aan struggle-helde in die openbare sfeer. (Argieffoto)

Meer vry?

Is individue en gemeenskappe binne Suid-Afrika 30 jaar na ’94 (meer) vry? Die antwoord op hierdie vraag is na my mening “ja” – maar die oorsaak van dié vryheid is as gevolg van onbeplande gevolge, nie doelbewuste optrede nie.

Falende sentrale staatsorde

Die gesentraliseerde staatsorde van Suid-Afrika is besig om in duie te stort. Ons almal sien dit: beurtkrag, beurtwater, stukkende paaie, misdaad – sigbare werklikhede van ʼn falende staat. Die swak beleid van die regerende elite het ʼn baie negatiewe uitwerking op beleggersvertroue en daarom op die ekonomie, wat gemeenskappe en individue direk raak. Die swak staat probeer egter verbete aan sy gesentraliseerde mag vasklou en probeer selfs meer mag inpalm, soos deur die Bela-wet.

Al “wil” die staat egter ook wat – dit het nie meer die vermoë om te “kan” nie.

Onbeplande gevolge

As gevolg van hierdie verswakking het individue en gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika meer vryheid as ooit om ʼn toekoms te skep. Nie omdat die “bevryders” of die sentrale staat dit vir ons gegee het of gee nie – maar omdat die sentrale staat, wat histories die enigste krag is wat Suid-Afrika as gesentraliseerde eenheid laat bestaan, so verswak is dat dit nie meer vryheid noemenswaardig kan beperk nie.

Mense staan in ‘n ry om in die 1994-algemene verkiesing te stem. (Foto: bet.com)

Planmaak en saamwerk

Kultuur- en plekgemeenskappe word gedwing om te organiseer, te beskerm, self planne te maak en saam te werk – ook oor kultuurgrense heen. Geen volk hier leef op ʼn eiland nie – ons is lotsverbonde. Ons voorouers het dit verstaan, en daarom het hulle deurgaans bondgenote gehad in hul pogings tot selfhandhawing en -verwesenliking. Dalk maak omstandighede vandag ons weer nederig genoeg om soos ons voorouers, in afhanklikheid van God, met ander volke saam te werk om ʼn toekoms vir ons almal se kinders hier aan die suidpunt van Afrika te verseker.

Nie vanselfsprekend nie

ʼn Falende, vervallende sentrale staat met slegte beleid maak vervullende voortbestaan nie maklik nie, in teendeel. Maar ons moet dankbaar wees vir die vryheid wat ons het om gemeenskapsinstellings te bou en só ʼn toekoms te skep. Ons moet dié geleentheid met ope arms, in nederigheid; en veral in geloof, aangryp. Ons moet besef dat dié soort vryheid in die meeste Westerse lande (en op ander plekke) eenvoudig nie bestaan nie.

Hierdie soort vryheid is nié vanselfsprekend nie. Dit het ook nie net op ons neergedaal nie, dit is oor geslagte heen op knieë en met sweet en bloed verwerf.

Wyse woorde

Onder die huidige, uitdagende omstandighede is dit goed om weer kennis te neem van NP van wyk Louw se wyse woorde in “Kultuur en Krisis”:

“Gestel dat ʼn volk ‘tussen die engtes’ ingekom het – vind dat hy hom op lewe en dood moet verdedig –; hy span alle stoflike en politieke kragte in, behoed en brei sy geestelike, tegniese, intellektuele besit uit, doen alles wat hy kan, om te bly voortbestaan […] Dan kom hy voor die laaste versoeking: om te glo dat die blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid […] belangriker is dit om te sê dat daar seker geen volk is wat nie op een of ander tyd so gesondig het nie; en belangrikste van alles is om te weet dat die versoeking die bestendige versoeking is wat vir elke volk in die woestyndae inwag – dat dit die grootste, die byna mistieke krisis is waarvoor ʼn volk te staan kan kom. Ek glo dat op ʼn vreemde manier dit die krisis is waaruit ʼn volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie ‘donker nag van die siel’ waarin hy gesê het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.”

FW de Klerk en Nelson Mandela. (Argieffoto)

Anderkant die Rubicon

Wat lê vir ons voor anderkant die Rubicon, hier waar ons staan 30 jaar na ’94?

Vir die eerste keer sedert 1902 het kultuur- en plekgemeenskappe die kans om van voetsoolvlak af ʼn nuwe orde hier te vestig wat die komplekse verlede en werklikhede van ʼn streek met soveel verskeidenheid in ag neem – ʼn orde wat ons historiese vreedsame-naasbestaan-vraagstuk aanspreek.

ʼn Toekoms waar verskillende volke, gegrond op wedersydse erkenning en respek saamwerk – omdat ons moet, maar veral ook omdat ons wil – om ʼn samelewingsorde geskoei op gemeenskapsfederalisme tot stand te bring.

Die toekoms in

In die uitdagende vroeë boujare van my grootworddorp, Orania, was daar ʼn oom wat gesê het: “Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie”.

Barend Uys. (Foto: Verskaf/AfriForum)

Vryheid is nie maklik of gemaklik nie – maar dit is die moeite werd: Want slegs wanneer ons vry is kan ons werklik ons Godgegewe roeping vervul.

In geloof, en met ons kinders se toekoms voor oë, stap ons besiel met nuwe krag die toekoms in – onderweg na vryheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

‘Net wanneer ons vry is’… watter waanbeeld. Vrees vir gevolge bind ons Afrikaners aan die klip na benede en ons ondergang. Die hartseer skrywe van ‘n verskrikte Afrikaner.

Hendrik ·

Annie as jy jouself koppel aan die RSA demokrasie gaan jy nooit vry wees nie. Ons in Kleinfontein is vry om in strate rond te beweeg sonder met die vrees om beroof te word en soos Barend sê is dit nie altyd maklik nie. My simpatie is met die dorpe en stede waar mense nie vry is nie en met stinkende dienslewering moet saamlewe. Hulle sal hulself seker uit die penarie uit moet stem of iets doen om die gemeenskap te mobiliseer waarin hulle woon.

Marianna ·

Ons as wit Afrikane was nog nooit vry nie. Ons was nog altyd bedreig. Vir die afgelope dertig jaar moes ons alles opgee. Ons het verarm, ons is verneder, ons is vermoor. Daar is baklei vir vryheid in 1994. Vandag is mense minder vry as ooit. Hoe vry kan jy wees as jy vrees om op straat te stap, vrees iemand gryp jou handsak of selfoon? Hoe vry kan jy wees as jy so belas word dat jy nie ‘n lewe kan maak nie, hoe vry kan jy wees as jy moet baklei vir reg en geregtigheid in die howe? Nee, daar is niks om te vier nie. Absoluut niks!

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie Afrikaners wil ook nie rerig vry wees nie. Hulle is mos lief vir Afrika en sy mense. Sedert 1994 diskrimineer Afrikaners ook in eie belang teen hul eie mense. Die meeste Afrikaners het hul lot aanvaar en wil nie werklik die huidige mislukte staatkundige bestel verander nie. Hulle probeer net aanpas, ongeag die gevolge. Dis eintlik ‘n mors van tyd om hul denke te probeer verander.

Marthinus W ·

Mense in die townships is ook nie vry nie; hulle leef in vrees vir bv die tsotsi’s. n Swart persoon sal slegs die geld wat hulle in n dag nodig het, aan hulle dra, en dit word weggesteek: n R10 in die onderklere, n R20 in die skoen. Die misdaad wat ons nou beleef het eenvoudig oorgewaai vanuit die townships. Een aspek van apartheid wat ek vandag nog ondersteun, is dat dit die verskillende volke uitmekaar gehou het. My pa was n myner, en n goeie mynkaptein sal selfs vandag nog n “apartheids”-span saamstel, want die verskillende volke sal mekaar doodmaak ondergronds. Jy soek die persoon wat lyk na die leier, en vra hom om n span saam te stel. Net so, is daar sekere mense wat weier om n graf te grou; dis benede hulle waardigheid, terwyl ander groepe enige werk sal doen. Die tuislande het in n mate die moord en doodslag tussen die swart volke beperk, maar nou dat daar geen grense meer is nie, tier dit onbeperk. Onthou Boipatong, Bhisho, Marikana: alles “swart-op-swart” geweld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.