Waarom Wakanda fiksie gaan bly

wakanda

Die fiktiewe nasie van die hipermoderne stad Wakanda in die fliek ‘Black Panther’. Foto: Face2faceafrica.com

Deur Anton Meijer

President Cyril Ramaphosa se idee van ’n trots Suid-Afrikaanse Wakanda gaan op verskeie vlakke misluk.

Eerstens is hy verkeerd as hy dink ons het nuwe stede nodig. Ons het reeds genoeg stede wat nie die nodige dienste aan sy inwoners kan lewer nie. ’n Nuwe stad, met wolkekrabbers, skole, universiteite en hospitale is nie die oplossing vir die agteruitgang wat ons tans in ons stede beleef nie. Dit is ’n maklike manier om die realiteite in ons huidige stede te ignoreer. So ’n stad sal net ʼn groter kopseer en agteruitgang teweegbring. Ramaphosa moet eerder fokus op die instandhouding en opknapping van die infrastruktuur wat ons reeds het.

Tweedens gaan sy Suid-Afrikaanse weergawe van die fiktiewe Wakanda nooit realiseer indien die regering enigsins ’n rol gaan speel in die oprigting van die stad nie.

Jy hoef nie ver te gaan soek om voorbeelde te vind van ʼn regeringshand wat lugkastele kelder nie.

Sou ons nie ’n wêreldklas-kragopwekkingseenheid gekry het nie? Dit was die regering se belofte, nou sit ons met Eskom se Medupi-kragsentrale wat weens staatsinmenging nie optimaal presteer nie. En die gevolg? Beurtkrag.

Sou ons nie alreeds ’n wêreldklas-spoornetwerk gehad het nie? Nou sit ons met Prasa-treine wat te hoog is vir ons spore.

Sou ons lisensiekantore, binnelandse sake en openbare uitsaaier nie lankal gedigitaliseer word nie? Ja, maar weens die staat, sit Suid-Afrikaners steeds ure aaneen in rye buite die kantore, en word ons breëbandspektrum steeds gekaap deur ’n uitsaaier wat nie kan oorskakel na moderne tegnologie nie.

In Suid-Afrikaanse konteks is die werklikheid dat so ’n stad nie gaan ontstaan weens die regering se insette nie, maar eerder weens desperaatheid vanuit die gemeenskap wat agterweë gelaat is in die reeds bestaande stede.

Gemeenskappe vind slim oplossings vir simpel probleme wat geskep word deur die staat. Weens ’n gebrekkige staatsdiens het gemeenskappe hulself georganiseer om slim te wees met kragopwekking, slim te wees met sy sekuriteit, en slim te wees met die oprigting van nuwe universiteite.

Die vierde industriële revolusie gaan die inisiatiewe vanuit die gemeenskap net verder versterk, en gaan die regeringsmonster net nóg meer oorbodig maak.

Derdens moet Ramaphosa besef dat jy nie slim stede kan bou sonder slim mense nie. Indien Ramaphosa sy droom van ’n nuwe slimstad vir Suid-Afrika wil verwesenlik, sal hy dringend moet begin om die uittog van slim, gekwalifiseerde Suid-Afrikaners stop te sit.

Hy sal moet wegdoen met drakoniese beleid wat innovasie kniehalter. Weg met regstellende aksie wat voorwaardes stel aan maatskappye wat wil help om die ekonomie te bou. Basta met kwotas by universiteite wat talentvolle studente weerhou van geleenthede om te studeer in ’n rigting van hul keuse. Skrap die minimumloonwetgewing en hersien die buitensporige belastingjuk op maatskappye se skouers.

Indien Ramaphosa sy slimstad wil hê, sal hy die brawe ding moet doen en sones moet skep waar vryemarkbeginsels heers. Hy sal sy eie ANC-party se beleid moet opsyskuif, en sy comrades moet verraai. Dit is sekerlik een van die grootste redes waarom sy Wakanda net fiksie sal bly.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Disselboom ·

Daar was bv eens op ‘n tyd ‘n betroubare, veilige treindiens van die noorde van Pretoria tot die suid van Johannesburg, en verbindings van die Wes- tot die Oos-Rand, lank voor die Gautrain beplan is. Die Gautrain as hoëtempo sneldiens is nie te versmaai nie, maar as die land beter bestuur en misdaad vasgevat word, sou baie meer infrastruktuur beskikbaar gewees het en baie meer geld vir doeltreffende aanwending. Die land dra swaar aan die “bevryding”.

Andreas ·

Die ingesteldheid van mense is die probleem, die oorgrote meerderheid het nie ‘n passie vir die onderwys, die geneeskunde, die natuur nie, hulle voel nie geroepe vir enige werk of taak nie, hulle het niks veil vir die land nie, hulle gee nie uit hulself ‘n pinkie nie. Hulle het nie geleer om terug aan die aarde te gee nie, nee die aarde skuld hulle. In die eerste reaksie na geboorte het hulle na die asem gesnak, ‘n teug gevat, daarna het hulle aan ma gespeen en vandag het hulle g’n niks verander nie.

Vissie ·

Nee wat, die ANC kan nie eers ‘n dorpie in stand hou nie, watwou ‘n stad bou. Cyril se ANC soustreintjie is fluks oppad Zimbabwe toe, maar hulle dink hulle gaan Wakanda toe….. praat van uit voeling wees met werklikheid, als net twakpraat stories en leuns, gelukkig ken ons die ANC so….

nabetragting ·

Stadsbeplanning was nog altyd een van die funksies van munisipaliteite. Wat die standaard van hierdie funksie vandag is weet ek ook nie? Weet nie veel van die prosesse en eienskappe wat ‘n stadsbeplanner moet he en volg nie, maar ek raai dat sake soos toekomskunde, projeksies, inpakstudies en deeglike beplanning vir die dag van more belangrike komponente in die beroep is. Dit vereis seker ook hoe vlakke van kognitiewe denke.?

John ·

Watter stad het die ANC al gebou? Hulle spog orals oor wat SA al bereik het… bedoelende dit wat voor 1994 opgerig is. Voor 1994 is groot geld gegooi na die tuislande om dit ontwikkel, maar die mense wou eerder tussen wit mense woon en koop. So ‘n stad sal leeg staan totdat migrante en leegleèrs dit ontdek en gou sal dit die droomrommelhoop van die land word.

Michael ·

Gee eers aan die Boere Volk in die Noord Westelike hoek van die land hul eie Staat , daar waar dit warm is en droog. So 400km by 400km direk onder Suid-Wes en teen die see.

Waar ons kan gaan en van niks af weer begin werk aan `n nuwe toekoms vir ons nageslag.

Ons trek uit en hul en hul vat alle grond en staande eiendom.

Vir die voëls sorg HY aan die wat op HOM vertrou sal HY leiding gee en voorsien.
Met niks het ons in die werêld gekom en met niks sal ons heen gaan.

Piet Snot ·

Wens dit kon wees. Maar dit kan realisties nie.
Om te praat van ‘n eie gebied is netsoveel tydmors as Cyril se Wakanda praatjies.
Kom ons kyk ‘n slag na die werklikheid, en probeer dit verander.

Deon ·

Ons weet wat is die werklikheid, maar niks en niemand kan dit verander nie.

Deon ·

Ek stem saam. Maar 20 000 vierkante km sal ook doen. Dis so ‘ n raps kleiner as Israel. Kyk wat vermag hulle. Hierdie SA gedrog het misluk.

Marthinus Willemse ·

Die stede waarna Cyril verwys het, Kaapstad, Johannesburg, Pretoria en Durban, is nie een onder direkte, algehele ANC-beheer nie. Cyril soek `n stad waar die ANC in beheer is. Dis oor mag, nie iets filosofies nie.

aj ·

Julle vergeet dat Cannabis gewettig is!

De Aar verander in Ramakaia na die derde trek aan die zol!

En alles is volmaak … ruimte- eeus!

Jerry ·

Indien CR sy comrades verraai, verraai hy homself en dit gaan nie gebeur nie. Dit was insiggewend dat CR en Gordhan nie een van die bevoegde gekwalifiseerde mense op Solidariteit se lysie wil vat om Eskom reg te ruk nie. Die skrywer se voorstel dat CR slim mense gaan moet kry om die stad te bou, glo ek sal CR ter harte neem, maar dit gaan beslis nie iemand wees wat op Solidariteit se lysies verskyn nie. Al daardie slim mense word nou vir n rede saam met Solidariteit uitgesluit aan enige verdere ekonomiese deelname. Hulle sal moet emigreer en vanuit die buiteland as deel van buitelandse maatskappye moet deelneem aan ekonomiese deelname in SA. Die slim voorbokke van Solidariteit/Afriforum was telkemale gewaarsku om nie uit te lok en skoor te soek nie, maar wou nie luister nie. Solidariteit/Afriforum het julle gelei na n klimaat waar almal nog daarvoor gaan ly!

Marius ·

Gun cr sy stad. Ek hoop baie soorgelyke narre verkas na die “droom”. Mens kan doen sonder hul…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.