Watter politieke ontwikkelinge lê vir ons voor in 2023?

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

2023 is die jaar ná die ANC se leierskapsverkiesing in Desember 2022, en die jaar voor die 2024 algemene verkiesing. Hierdie twee feite gaan politieke ontwikkelinge in 2023 beslissend beïnvloed.

In die ANC-kamp en -regering

As gevolg van die ANC se verkiesingskonferensie, gaan daar vroeg in 2023 ʼn kabinetskommeling wees. Daar is twee vakatures (Ayanda Dlolo en Fikile Mbalula) en ʼn hele paar moontlike skuiwe.

Nkosazana Dlamini-Zuma en Lindiwe Sisulu het hulle beide in die openbaar sterk teen president Ramaphosa uitgespreek en behoort vervang te word. David Mabuza het reeds bedank en Paul Mashatile sal eers as lid van die Nasionale Vergadering (NV) ingesweer word en daarna as die land se adjunkpresident aangestel word.

ʼn Hele rits ander ministers is nie weer op die nasionale uitvoerende komitee (NUK) verkies nie en kan dalk vervang of verskuif word. Onder hulle tel Naledi Pandor (buitelandse sake), Blade Nzimande (hoër onderwys), Ebrahim Patel (handel en nywerheid), Pravin Gordhan (openbare ondernemings), Nathi Mtetwa (sport en kultuur), Tulas Nxesi (arbeid) en Maite Nkoana-Mashabane (vroue, jeug en gestremdes).

Die vraag wat almal vra (ook Ramaphosa se naaste ondersteuners) is of die president vir die eerste keer in sy termyn beslissend gaan optree in die kabinetsaanstellings en of hy die ontwykende eenheid in die ANC weereens eerste gaan stel. Op hierdie antwoord sal gewag moet word, maar die feit dat Ramaphosa nog nie oor die kabinet besluit het nie, lyk nie goed nie.

Die Phala Phala-debakel is ook nog nie verby nie. Daar is berig dat die openbare beskermer se ondersoek afgehandel is, maar die verslag is nog nie openbaar gemaak nie. Die ondersoeke van die Valke, die Inkomstediens en die Reserwebank duur nog voort. Enigeen van hierdie verslae (veral dié van die Valke) kan Ramaphosa steeds polities seermaak en hom selfs dwing om te bedank.

Ramaphosa is wel polities sterker as voor Desember met die top sewe (met die uitsondering van Nomvula Mokonyane) en 70% van die NUK wat hom steun. Of hy hierdie feit gaan gebruik om sterker in sy hervormings te wees, is egter te betwyfel. Op sestig plus verander mense se natuurlike styl van kompromis-soek en eenheid najaag nie maklik nie.

Die ANC se topsewe (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Die ANC is deeglik daarvan bewus dat die party in 2024 by die stembus in die moeilikheid gaan wees, en dat hy dalk minder as 50% van die stemme gaan trek. Dit gaan daartoe lei dat die ANC (en regering) se besluite deur die korttermyn bepaal gaan word, of dit nou elektrisiteit of sosiale toelaes of iets ander is. Die ANC (soos wat in Desember se konferensie gesien kon word) bly verdeeld en wanfunksionerend.

Daar is ook al meer bewyse dat baie ANC-takke as kriminele sindikate funksioneer. Die ANC gaan wanhopig ook nóg meer ideologies oor rassetransformasie wees. Die ANC is finansieel bankrot en sal moeilik geld in die hande kry om ʼn groot verkiesingsveldtog te voer. Daarom sal hy probeer om staatsfondse vir sy partypolitieke doeleindes te gebruik.

Wat die ANC-regering spesifiek betref, kan kiesers nie verwag dat dienslewering gaan verbeter nie. Daarvoor is die kanker van staatskaping, kaderontplooiing en rassetransformasie te diep gewortel. Selfs nuwe kabinetslede sal nie ʼn verbetering binne die bestek van een jaar bring nie, veral as ʼn mens in gedagte hou met watter kaliber amptenare hulle sit. Die meerderheid ANC-stadsrade gaan nog meer disfunksioneel raak, en namate besighede toemaak en trek, gaan baie van daardie dorpe blote arbeidskampongs word.

Die enigste uitsonderings gaan wees waar die privaatsektor en/ of gemeenskapsorganisasies betrokke is (soos in Frankfort). Op nasionale vlak sal daar ook verdere wanhopige pogings wees tot sentrale beheer – selfs in gebiede waar dit reeds misluk het. As gevolg van die gebrek aan vaardighede in die regering gaan daar nie veel kom van onteiening sonder vergoeding en die nasionale  gesondheidsversekeringstelsel nie.

(Foto: Reint Dykema)

Die opposisie

Sommige opposisiepartye sal besef dat die stryd om van die ANC ontslae te raak, nie in 18 maande afgehandel kan word nie. Daar sal dus by hulle ʼn bietjie langer-termyndenke en strategie wees. Alhoewel hulle wel alles gaan insit om in die 2024-verkiesing goed te doen, is die eintlike keerpunt waarvoor hulle beplan, 2029 se algemene verkiesing.

Die gematigde opposisiepartye (DA, VF+, Action SA, IVP en ACDP) sal hard probeer om te leer uit die lesse wat uit die huidige koalisieregerings te leer is. Die idee dat hulle aan die 2024-verkiesing as ʼn soort nuwe UDF-sambreelliggaam kan deelneem, kom nou sterk na vore. Ander meer reaksionêre opposisiepartye soos die EFF en die Patriotic Alliance (PA) gaan steeds op die korttermynwinste en poste fokus.

Daar kan verwag word dat die DA meer sigbaar in die openbaar gaan wees, met optogte soos dié laasweek na Luthulihuis en in Kaapstad, asook hofsake. Hulle sal probeer om hierdeur die DA se geloofwaardigheid onder veral swart Suid-Afrikaners te versterk.

Twee nuwe spelers in die opposisepolitiek is Musi Maimane se Build One SA en Songezo Zibi se Rise Mzanzi. ʼn Mens kan verwag om meer van hulle te sien en te hoor, maar die vraag bly of hulle genoeg geld en tyd het om voor 2024 ʼn duik op die politieke landskap te maak en of hulle impak eers in 2029 gesien sal kan word.

Rise Mzanzi is die enigste gemagtigde opposisieparty wat spesifiek daarop fokus om ontgogelde kiesers van ANC af te rokkel, en om nie maar in die 30%-poel van DA, ActionSA, VF+, IVP en ACDP te vis nie. Dit maak potensieel van hulle ʼn baie belangrike rolspeler, aangesien al die gematigde opposisiepartye saam nie meer as 35% van die kiesers kan trek nie. Die ekstra 15% om die 50%-merk te haal, moet van die ANC se ontgogeldes af kom.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. (Foto: Twitter)

Elektrisiteitsvoorsiening en Eskom

Beurtkrag is hier om te bly, en waarskynlik gaan fase drie en vier vir 2023 die nuwe norm wees. Eskom gaan waarskynlik ʼn nuwe minister kry – hopelik nie Gwede Mantashe met sy verstokte idees nie. Eskom gaan ook ʼn nuwe uitvoerende hoof in die plek van André de Ruyter kry. Daar is gerugte dat daar beroepe op president Ramaphosa gedoen word om Jan Oberholzer, die aftredende bedryfshoof, se aftreedatum uit te stel om die nuwe uitvoerende hoof te help om in sy pos aan te pas.

Die redelike nuwe direksie sal hierdie saak met wysheid moet bestuur. Soos al baie gesê is, is daar geen korttermyn oplossing vir Eskom nie. Die nuwe verhoogde tariewe gaan finansieel ietwat help, maar die ou steenkoolkragstasies, kriminialiteit en korrupsie gaan steeds Eskom se eleketrisiteitsvoorsiening ernstig kniehalter.

Soos wat nou reeds bekend is, sal gewone Suid-Afrikaanse burgers wat dit kan bekostig al hoe meer vir hulle eie elektrisiteit moet sorg. Die inisiatief van Afriforum sal fyn dopgehou word.

Water

Skoon en genoeg watervoorsiening gaan ʼn al groter probleem word, ook omdat dit deur beurtkrag beïnvloed word. Dit gaan egter ook oor verouderde infrastruktuur wat omtrent glad nie in stand gehou en gediens is nie. En dit is onafwendbaar dat die stort van afvalwater in ons rivier en damme die een of ander tyd die grondwater en ons rioleringstelsels negatief gaan tref.

Ander dienslewering, insluitend paaie

Daar gaan in die staat se dienslewering op alle terreine (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) geen noemenswaardige verbetering wees nie. Telefone gaan steeds onophoudelik lui sonder dat hulle geantwoord word, stelsels gaan meer gereeld af wees en dit gaan moeiliker wees om ordentlike diens by noodsaaklike instansies soos munisipale kantore, aktekantore en dies meer te kry.

Slegs die nasionale paaie gaan steeds redelik wees. Natuurlik is daar een provinsie waar alles ʼn kerf hoër is, naamlik die Weskaap.

Wat die e-tol-stelsel in Gauteng betref, gaan dit waarskynlik nog nie verdwyn nie. Die politieke besluit is wel geneem, maar daar is geen uitvoering daarvan nie. Die ANC dink dat as iets besluit is in ʼn vergadering, dit outomaties gaan gebeur. Dit werk nie so nie, veral as ʼn mens nie meer die bevoegdheid en toegewydheid het om dit te implementeer nie.

ʼn Bietjie goeie nuus

Daar is tog ʼn bietjie goeie nuus. Ten spyte van Eskom, water- en moontlike voedseltekorte later in die jaar (ook as gevolg van beurtkrag), sal daar nie ʼn herhaling van die grootskaalse KwaZulu-Natalse onluste wees nie. Daardie gebeure was te spesifiek aan oud-president Zuma gekoppel – en sy invloed is beduidend minder en aan die taan.

Polisiebeamptes tydens die oproer in KwaZulu-Natal (Julie 2021). (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Rasseverhoudinge gaan steeds goed wees op grondvlak, maar op die politieke- en sosialemediavlak gaan die moedswilliges ons as landsgenote verder probeer polariseer – om hulle eie verdelende agenda te bevorder.

Die rol van burgerlike- en gemeenskapsorganisasies gaan nóg sterker word. Die volgehoue pogings om “staatsbestand” te word en openbare dienste sonder openbare fondse te voorsien, gaan vrugte afwerp en mense nuwe hoop gee.

Gesprekke en dialoog vermeerder en verdiep

Suid-Afrikaanse burgers oor alle grense, nie net Afrikaners en Afrikaanssprekendes nie, deel ʼn gemeenskaplike “gatvolfaktor”. Dit sal ʼn belangrike element wees om die gesprekke tussen indiwidue en organisasies te laat begin en te laat aanhou (soos die vennootskap tussen Afrikanerorganisasies en die Thabo Mbeki Stigting, soos dit gestalte kry in die Afrikaner Afrika Inisiatief (AAI)).

Daarom is die balans tussen die bekende “binding na binne” en “brugbou na buite” so belangrik. Ons mag ons nooit as eilandjies van geïsoleerde gemeenskappe sien nie. Ons het ʼn taak en verantwoordelikheid in die groter eenheid van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

As Christene moet ons boweal perspektief behou. Geloofsperspektief, omdat ons ʼn roeping in hierdie land het en uiteindelik aan God verantwoordbaar is. Tydsperspektief, omdat hierdie moeilike jaar ook sal verbygaan. Realistiese perspektief, sodat ons nie net in ons eie probleme vaskyk nie.

En die perspektief van humor, wat ons onder moeilike omstandighede steeds laat lag, vir onsself en vir mekaar.

  • Hierdie artikel is ʼn geredigeerde weergawe van ʼn aanbieding wat op 25 Januarie 2023 by die Solidariteit Beweging se Leiersberaad gelewer is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Die enigste oplossing vir RSA sal wees om die Republiek te verander na FSSA (Federale State van Suid-Afrika) te word. Dan kan Artikel 235 van die grondwet ook uitgevoer word na gemeenskappe wat selfbeskikking nastreef. Met die lesse geleer die afgelope 30 jaar sal baie gemeenskappe wil sesseer en selfstandige selfbestuur toepas . Die meerderheid tirannie op minderheidsgroepe maak RSA baie baie ondemokraties.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die Wes Kaap of gedeeltes daarvan afstig is ons nie ‘n eiland nie. Terloops, die idee dat 4% van die bevolking ‘n grootste taak en verantwoordelikheid hier het is uitgedien. Die meerderheid voel vere vir ons. Ons mense verarm en is gemarginaliseerd.

Hendrik ·

Dit lyk asof Theuns Eloff ‘n beduidende treë na regs geneem het. Hy noem selfs die VF+ gematigd. Die Theuns Eloff wat met die ANC in Dakar gepraat het sou dit nooit gedoen het nie. Ek stem met hierdie artikel saam.

Hendrik ·

Die huidige model werk nie en sal ook nie werk in die toekoms nie agv die oordonderde meerderheid. Baie Afrikaners spandeer liewers op stemdag in hule eie gemeenskapas om te stem. Die stemmery bied maar net proposioneel sitplekke aan minderhede op elke vlak van regering strukture en ons weet hoe die Demarcation Board die grense getrek het om gemeenskappe nooit die geleentheid te gee om as gemeenskap ‘n sitplek in ‘n raad te kry nie. Dus die meerderheid se tirannie se resultaat is die staatsverval wat ons nou sien. Almal ken die lysie van organisasie wat eenvoudig net nie meer werk nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geografies is die land net en te groot en te divers om as eenheid bestuur te word. Dis tyd om te ontbondel. Afrikaners is vasgevang in swart nasionalisme wat die land in die grond bestuur. Om ‘n minderheid in ‘n mislukte staat te wees is die ergste scenario denkbaar. ‘n Regte double whammy soos die Engelse sê.

skurweberg ·

Iemand met profetiese gawes sê aan die Koning:”as jy nie dit of dit gaan doen nie, gaan die volgende gebeur” Daar is te min mense in SA wat hierdie gawes openbaar. Die rede is moontlik vrees vir baie dinge wat hyself en sy geliefdes kan oorkom.

Andre ·

Die “ bottom line” is dat dit nie normaal is om so ‘n leefwyse te ervaar nie en dan tree abnormale lewenswyses in. Hoe dit opgelos kan word is nie duidelik nie maar verdeling van land tussen gematiges en populiste?

Groen Ghoen ·

En so ploeter ons aan, liewe doktor Eloff. Ons het van die grootste minerale rykdomme van alle lande maar het darem die hoogste werkloosheidskoers van almal. Van ons stede is van die mees gesogte bestemmings maar ander is globale misdaadneste. Ons het medici wat internasionale roem verwerf het, maar het ook openbare hospitale waar daar nie eens genoeg skoon beddegoed vir almal is nie. Ek wed vir jou, doktor Eloff: Oor tien jare sal jy hierdie artikel woordeliks kan herhaal en slegs ‘n paar name hoef te verander. Want S.A. sal so bly voortploeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.