Wees bang Julius, ons bou om te bly

EFF-leier Julius Malema by die party se tienjaarvieringe. (Foto: EFF/Twitter)

Iemand vra: moet ons bang wees vir die EFF?

Die rooies het ʼn groot partytjie gehou. 10 jaartjies oud. Hulle het vir 95 000 maatjies busse, kos en ʼn rooi T-hemp gegee. Die FNB-stadion was vol. In plaas van kolwyntjies is beeste opgekap en elkeen het ʼn stuk gekry. Die maatjies het nie rooi koeldrank gedrink nie en een het hom doodgeval.

Die hoofnar kom aangestap. Om hom stap maatjies met soldaatklere. Die ander maatjies juig. 100de ballonne word in die lug gestuur. Die hoofnar gaan staan op ʼn hyser en styg op. Die maatjies is mal oor die toertjie. Hy vaar op, soos ʼn redder.

Hulle juig nog meer. Die nar is nog ʼn towenaar ook. Hy gaan al die probleme van die maatjies wegtoor. Hulle gaan nie meer honger wees nie, beurtkrag gaan verdwyn en almal gaan werkies kry.

Die hoofnar kan nog sing ook. Die maatjies sing almal saam dat ander maatjies doodgemaak moet word. Hulle wys geweertjies met hul vingertjies en maak geluide soos geweerskote.

Maar die nar sak weer af en die maatjies gaan weer huis toe. Die stadion is leeg en die beloftes ook. Na die groot saamtrek is daar niks, behalwe meer haat.

Die Solidariteit Beweging het vanjaar 121 jaar oud geword. Ons het 570 000 lede in die groter Beweging. Ons hys niemand op nie, maar koppel die gemeenskap aan mekaar. Ons maak nie beloftes nie, maar bou werklikhede.

Die uitkoms is Solidariteit wat werk beskerm, AfriForum wat munisipale dienste lewer en veiligheidstrukture oor die hele land vestig. Sol-Tech se spogkampus, ʼn wêreldklas universiteit Akademia, Bo-Karoo Opleiding en die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinsitituut. Dit is die Helpende Hand Studietrust wat vanjaar R50 miljoen uitbetaal het. Dit is Solidariteit Helpende Hand wat gemeenskappe ontwikkel met 120 winkels.

Dit is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum wat skole help om uitnemend te bly en planne maak vir nuwe Afrikaanse skole. Dit is Maroela Media met meer as 2 miljoen unieke lesers, AfriForumTV en die FAK wat kultuur beskerm en uitbou en die Voortrekkermonument bestuur. Dis die Orania Ontwikkelingsmaatskappy wat help om ʼn stad te bou. Dit is ʼn beleggingsmaatskappy, ʼn regsfonds, ʼn boufonds, ʼn finansiële dienstemaatskappy, ʼn eiendomsmaatskappy en meer. Dis ʼn netwerk selfhelpinstellings.

Dit is veel groter as die rooies se partytjie met die hoofnar wat weer afsak.

So Julius, terwyl jy skreeu en raas sê ons: ons sal self!

Wees jy dus bang Julius, ons gaan nêrens heen nie. Ons bou om te bly!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Johan D ·

Ironies genoeg, malema en die skare sing lustig van doodmaak en daar val een vd ondersteuners 3 verdiepings na sy dood.

Kwikkie12 ·

Ai as Dirk Hermann net President van hierdie land kon word! Hy weet waar sy hulp vandaan kom!

B-Man ·

“Die stadion is leeg en die beloftes ook.” Beste deel van die stuk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Malema weet hoe word dinge in Afrika gedoen. Hy weet wat kom. Is Solidariteit gereed?

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou is ek gerus en kan voortgaan met my rustige en veilige lewe. Hier sal mos niks gebeur nie, of hoe?

Fluisterwind ·

Die vraag of EFF deur Nathan Kirsh gefinansier word, na aanleiding van ‘n foto van ‘n R9-miljoen donasie, het twyfelagtigheid opgewek (fop-nuus). Politieke partye moet meer deursigtig wees oor befondsing in Suid-Afrika, waar tans geen wetgewing dit reguleer nie. Politieke partye moet gedwing word om hul befondsingsbronne bekend te maak. Want wie het betaal vir die affêre?

Fran ·

Afrikaners, slaan jul oë op na die berge. Waar sal ons hulp vandaan kom? Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Niks en niemand anders nie. Glo en vertrou op Hom.

Anna-marie ·

Dis van net hoop, glo, vertrou en agteroor sit dat dit so gaan.

Fluisterwind ·

Sien ek reg in die foto? Vlag van Kuba
nasionale vlag met drie blou en twee wit horisontale strepe en ‘n rooi driehoek by die hysbak met ‘n wit ster. Het my pa-hulle nie op die grens-oorlog teen die Kubane ook geveg nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis Kuba daai! Waar alles goed gaan. SA is nou Klein Kuba.

skurweberg ·

Die implikasie om EEF te stem is dat almal skuldig is aan haatspraak. Dus: “Wat is die kans dat die howe hulle vorige besluit oor die lied nou gaan verander?”

Republikein in die Wes Kaap ·

Die lied word nou ‘n algemeen aanvaarbare slagspreuk. Indien die hof anders besluit gaan die poppe dans. Die 99 000 in die stadion plus duisende ander lede sal daarvoor sorg. Dis die strekking van my vraag aan Dirk Herman.

Nettie ·

Mens kan nie die laaste 10 jaar van die rooi maatjies vergelyk met die laaste (of eerste) 10 jaar van Solidariteit nie.

Dankie Solidariteit, dat julle bou en die mense ophef, nie die leiers nie. Dankie dat julle nie ledegeld mors op groot partytjies en t-hempde nie, maar op Sol-Tech, hulpbehoewendes en om te veg vir Afrikaans.

Mag julle volgende 10 jaar net nog meer hiervan inhou.

houopkruip ·

Ek is reg vir daai mannetjies – lankal gereed gemaak. Binnekort sports.
Net jammer baie van ons mense nie reg kan wees vir daai mannetjies nie (ou mense, kinders, ens). Hulle (en ons) slaan verseker steeds ons “oe op na die berge”.

Jaco ·

So Solidariteit het 570 000 lede. Dis 570 000 volwassenes en dus 570 000 stemgeregtigdes. Solidariteit dink ook 99% dieselfde oor die politiek soos die Vryheidsfront-Plus. Maar kom dit by ‘n verkiesing, dan kry die VF-Plus skaars 400 000 stemme. Wats dan fout? Ek weier om te glo dat die ander omtrent 200 000 almal DA stem. Hoe kan ons mense stem vir ‘n party wat ten gunste van regstellende aksie is? Iewers is KLOMP van ons eie mense wat bloot nie aan verkiesings deelneem nie, maar ons is GOU om te kla oor alles wat skeefloop in SA. Eendag wanneer ons mense almal weg is, sal ons grafskrif lees “ten gronde gegaan weens gebrek aan belangstelling en gebrek aan samewerking”.

annie ·

Die VF Plus is ‘n familiebesigheid. Pieter was al ‘n minister van die ANC en nou wil hul saamsmelt met die Kaapse met Pieter as koning. Die Afrikaners sal verdwyn op die vlakte. Wat verstaan jy nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Afrikaner verdwyn ook in die stede. Wat verstaan jy nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Mense sluit om verskillende redes by Solidariteit aan. Van vakbondlede, Voortrekkers, FAK, buurtwag, Helpende Hand tot erfenis. Nie almal steun noodwendig dieselfde politieke idiologie nie.

Hendrik ·

Ek stem al ‘n paar verkiesings nie en ons bou aktief aan ‘n selfstandige ontafhanklike gemeenskap wat lei na selfbeskikking. Ja ons woon nie op ‘n eiland nie maar hoeveel mense, wat stem , het al vir my gevra of daar plek vir hulle as alles suid gaan. Ja ons het goeie water, krag en riool. Mense moet nie halfpad in ‘n oplossing gaan nie en meeste mense het nie regtig ingekoop in die demokrasie nie.

Hendrik ·

Deur hard te werk in jou gemeenskap gaan gemeenskap red. Wat het jy nou weer gedoen in jou gemeenskap ? 1x in vyf jaar stem beteken niks vir jou gemeenskap. Is jou gemeenskap gerat teen, misdaad, water onderbrekings, riool besodeling, elektrisiteit onderbrekings, sosiaal aanslag ens. Wat doen jy behalwe stem en as jy werkliks iets doen kan jy weer met my praat of my te oortuig dat ek moet gaan stem.

Santie Gildenhuys ·

Fantastiese skryftalent, mnr Hermann. Maar meer nog is ek trots daarop om deel te wees van Solidariteit, Afriforum en vele kultuurprojekte. Trots op al die vooruitstrewende inisiatiewe. Ek gaan ook nêrens heen as om te help bou en herbou in ons vaderland nie!

popsa ·

Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

Chris ·

Baie goeie geskrifte. Ek sal/kan ook ‘n “verhaaltjie” oor die Effies kan skryf maar dit sal helaas nie geplaas word nie. Die bende kry te veel blootstelling. Ongelukkig werk dit so, ‘n nukkerige kind/persoon probeer om met ondeurdagte optrede aandag/simpatie te kry. Gelukkig werk die regte terapie gewoonlik vir/op ‘n toerekeningsvatbare skepsel. Die erns van die lot se oortuigings slaan my dronk. Daar is drie emosies in ‘n mens. Haat, liefde en apatie. Die enigste medisyne vir die bende is apatie.

trotsNAMSA ·

Afrikaners, moenie dat Julius julle ontstel nie, Brittanje, VSA en nou die Russe gaan ons bystaan. Die drie lande weet sedert 1800’s hoe om ‘n land “skoon te maak van gevare” en wat gaan van hul minerale en eiendomme in SA word ? :) Ons kinders is ook oningelig wat in SA gebeur het en wat nog gaan gebeur ? Vra ‘n kind waar is ‘n land op ‘n kaart en hulle het geen idee nie. Ek is meer bang vir onse kinders ! :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.