Wie maak die Koue Oorlog warm?

akademia3

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.

~ N.P. van Wyk Louw

Daar is weer ʼn Koue Oorlog tussen die Weste en die Russe en hierdie oorlog word al hoe warmer. Een oordeelsfout in die konflik in Sirië of die Oekraine kan die lont vir ʼn veel warmer ‘regte’ oorlog aan die brand steek. Die vraag is watter kant moet die grootste skuld vir hierdie oplaaiende konflik dra.

Natuurlik beskuldig die Amerikaners en die Russe mekaar oor en weer. Die Weste voer aan die Russe se anneksasie van die Krim-skiereiland en hul agressiewe militêre hulp aan die diktatoriale Assad-regime in Sirië is voldoende bewys dat dit die Russe se skuld is. Daarby versterk President Vladimir Putin van Rusland se ondemokratiese bewind hul siening dat die Russe weereens ʼn bedreiging vir wêreldvrede is. Daarom het die VSA en Europa omvattende sanksies teen Rusland ingestel, om Putin te probeer dwing om terug te staan in die Oekraine en die Krim.

Maar is die saak so eenvoudig, dat ʼn ondemokratiese Russiese president weer die Russiese Ryk wil laat herleef deur ander lande kwaadwillig te onderwerp? Kom ons kyk vir ʼn slag daarna vanuit die Russiese oogpunt. Daarvoor is dit nodig om te weet hoe die wêreld gelyk het aan die einde van die vorige Koue Oorlog in 1990. Die destydse verswakking van Rusland het daartoe gelei dat die Weste en in besonder die VSA, na 1990 ʼn dominerende rol in Oos-Europa begin speel het. Hul doel was om demokrasie en kapitalisme in daardie lande te bevorder, na dekades van Kommunistiese wanbestuur en verdrukking.

Verwesters die Ooste

Maar in werklikheid het die eerste “skote” in die tweede Koue Oorlog reeds in 1995 geklap, met Navo se bombardering van Serwië, die Russe se bloedverwante en tradisionele bondgenoot. Rusland se destydse president, Boris Jeltsin, het woedend opgemerk dit is ʼn voorteken van wat kan gebeur as Navo tot teen die Russiese Federasie se grense uitbrei. Hy het skerp gewaarsku dat dit die “vlamme van oorlog regoor Europa kan laat uitbars”.

Maar ongelukkig het Westerse beleidmakers nie sy waarskuwing ernstig opgeneem nie en die Europese unie en die militêre Noord Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) het ooswaarts begin uitbrei. Dit het tot ʼn diplomatieke kettingreaksie gelei en by die Russe en hul bondgenote die indruk geskep dat die Weste met die miltêre uitbreiding van Navo in werklikheid die Koue Oorlog aggressief wou voortsit.

Die vet was in die vuur toe Westerse lande Rusland se buurman, die Oekraïne, by die Europese unie en Navo wou betrek.  Dit het gevolg op Navo se insluiting van talle ander lande wat tradisioneel in die Russiese invloedsfeer was, soos Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek in 1999. Die tweede ronde Navo-uitbreidings na voormalige Oosblok-lande vyf jaar later, het Bulgarye, Roemenië, Letland, Estland, Litaue, Slowakye en Slowenië ingesluit. Dit het destyds tot groot ontsteltenis in Rusland gelei, wat weens sy verswakking na die val van die Sowjetunie niks daaraan kon doen nie.

Bestaansbedreiging

Maar dit het die Russe ernstig laat waarsku dat hulle enige verdere ooswaartse uitbreiding van Navo as ʼn regstreekse bedreiging vir Russiese veiligheid sou sien. Russiese leiers het daarop gewys Amerika sou nooit toelaat dat enige ander moondheid Amerikaanse buurlande in ʼn militêre alliansie teen die VSA betrek nie. Dink byvoorbeeld hoe Amerika sou reageer as China ʼn sterk militêre alliansie sou opbou en Kanada en Mexiko daarby wil betrek!

Dit was nie net Russiese leiers wat teen die Navo-uitbreiding gekant was nie. Die VSA se veteraan diplomaat, George Kennan, het self gewaarsku die ondeurdagte uitbreiding van Navo in die Russiese invloedsgebied sou Rusland tot vyandskap dryf. Frankryk en Duitsland het self bekommerd begin raak dat die intrek van tradisioneel Russiese bondgenote in ʼn Westerse militêre alliansie Rusland ernstig kan vervreem. Hierdie waarskuwings het egter op dowe ore geval en in 2008 het Navo verder oos begin kyk en planne begin maak om Georgië en die Oekraïne ook in te lyf.

Dit was die finale strooi wat die kameel se rug gebreek het en Rusland het Georgië in 2008 ingeval om te keer dat dit deel van Navo word. Die Weste het nie hierdie waarskuwing ernstig opgeneem nie en in 2009 het Navo Albanië en Kroasië ook as lede toegelaat.

Die Weste het deurlopend die geurige wortel van ekonomiese voordele gebruik om die verarmde eertydse Russiese bondgenote na die Weste te lok. Die ironie van die Westerse strategie om Navo in 2014, as die honderdste herdenkingsjaar van die Eerste Wêreldoorlog te vergroot, is dat hierdie oorlog juis ontstaan het weens die uitgebreide alliansiestelsels wat ʼn globale oorlog onafwendbaar gemaak het toe konflik met net een lidland uitgebreek het.

Westerse waardes

Maar die Russe was nie net ontsteld oor die Westerse politieke- en militêre inmenging in hul tradisionele invloedsfeer nie. Die Westerse pogings om hul waardes en stelsels na die Oosblok uit te voer, is deur die Russe vertolk as ʼn veldtog om die “ooste te verwesters”.

Die VSA het sedert 1991 byvoorbeeld meer as $5 miljard bestee om die politiek in die Oekraïne te beïnvloed, deur onder meer Westersgesinde partye en leiers te befonds om Westerse “demokrasie te bevorder”. Nadat die pro-Russiese president, Yanukovych, in 2010 demokraties in die Oekraïne aan bewind gekom het, het Amerikaanse “pro-demokrasie”-organisasies, wat deur die VSA befonds is, teen hom gedraai en die opposisie begin steun, wat uiteindelik tot sy ondemokratiese omverwerping gelei het. Dit het nie die Russe gepaai dat hy ʼn swak en korrupte president was nie.

Terselfdertyd het Amerikaanse leiers, wat in die Oekraïnse bewindsverandering betrokke was, soos Carl Gershman, die president van die Stigting vir Demokrasie, begin uitsprake maak dat hulle Rusland en die Poetin-bewind self in die oog het. Westerse liberale sien Westerse liberale stelsels as die algemene wêreldstandaard waaraan alle lande moet voldoen. Hulle wil nie daarvan hoor dat die afdwing van Westerse stelsels tot ʼn teenreaksie onder nie-Westerse moondhede, soos Rusland en China, kan lei, wat dan weer tot nadeel van die Weste en liberalisme kan strek nie.

Napoleon en Hitler

Die omverwerping van die Oekraïnse president vroeg in 2014 het die Russe laat optree en Russiese magte het die Krim-skiereiland binnegeval. Die Krim was vir eeue lank deel van Rusland, maar is in die laat vyftigerjare deur die Sowjetunie se president Khrushchev na die Oekraïne oorgedra om sy lojaliteit aan die USSR te verseker. Die Krim se bevolking is oorwegend Russe, wat na die verbrokkeling van die USSR deurlopend gevra het om weer deel van Rusland te word. Daarby is die Krim van strategiese militêre belang vir Rusland, soos die hawe van Sewastopol, wat die tuiste van die Russiese Swartseevloot is en die enigste vlootbasis van die land wat nooit vasvries nie.

Die Oekraïne is histories ʼn belangrike buffer vir die Russe teen invallers uit die Weste.

Napoleon se soldate het in die vroeë 1800’s daardeur ingeval en die Duitsers in die Eerste- én die Tweede Wêreldoorlog. Daarom het Poetin met ʼn aggressiewe teenstrategie in die Oekraïne begin, veral in die ooste van die land, waar etniese Russe ʼn groot meerderheid van die bevolking vorm.

Die optrede van die VSA het die Russiese vrees bevestig dat die Weste besig is om Rusland self te bedreig, toe die Amerikaanse vise-president Joseph Biden en die direkteur van die CIA, John Brennan, tydens besoeke aan die Oekraïne steun beloof het teen die Russe. Die president van die Europese Unie, Manuel Barroso en Navo se sekretaris-generaal Anders Rasmussen, het die Russe ook die harnas ingejaag met hul aanbod om die Oekraïne se militêre vermoë te help uitbou.

China en die Islam

Die Weste se vervreemding van Rusland is hoogs waarskynlik musiek in die Chinese-, Islam- en Indiese ore. China en die Moslem-wêreld word gewoonlik gesien as die twee belangrikste magsblokke wat die Weste moontlik kan bedreig. Daarom is daar allerweë verwag dat die Weste strategies nader sou beweeg aan Rusland en Indië, omdat hierdie lande self vir China en Moslemlande  as moontlike teenstanders sien. ʼn Internasionale bondgenootskap tussen die Weste, Rusland, Indië en Japan sou die globale magsbalans beslissend in die Westerse guns laat swaai, en vir dekades vrede en die Westerse oorheersing van die wêreld verskans. Maar die Westerse strategiese fout om Rusland te vervreem, het tot ʼn historiese herskikking van die globale magsbalans gelei, presies ʼn eeu na die Eerste Wêreldoorlog. Die belangrikste magsverskuiwing was dat dit Rusland, China en Indië in mekaar se arms gedryf het, en die Weste gelyktydig isoleer het. Indien die Weste nie dramatiese stappe doen om hierdie magsverskuiwing om te keer nie, kan dit onomkeerbare gevolge hê vir Westerse waardes soos demokrasie, menseregte en die markekonomie. Die ironie is dat die Weste se groeiende isolasie juis spruit uit hulle projek om hierdie waardes op die ander magsblokke af te dwing.

Die Sjanghai Samewerkingsorganisasie (SCO)

Die Chinese het nie op hulle laat wag nie, en besluit op ʼn strategie om nie net die bestaande Westers-oorheersde wêreldorde uit te daag nie, maar om ʼn nuwe orde onder Chinese leiding te bou. Die SCO is die Oosterse weergawe van Navo, en het net na Navo se bekende beraad in Wallis hulle beraad gehou, met gesamentlike militêre oefeninge in China. Die SCO sluit onder meer reeds China en Rusland in, met Indië en selfs Pakistan wat graag lede wil word. Maar dis nie die enigste anti-Westerse blok wat gevorm is nie. Die Chinese, Russe, Indiërs en Brasiliërs se “Brics” het Suid-Afrika ook betrek, met die waarskynlike doel om Afrika verder uit die Westerse invloed te kry. Daarby het die Russe ook ʼn teenvoeter vir die Europese unie en Navo gestig, saam met lande soos Belarus en Kazakstan.

Herleef in plaas van oorheers

Die globale magsbalans het in 2014 dramaties verander – en gelei tot ʼn nuwe Koue Oorlog tussen die groot moondhede. Dit maak die wêreld ʼn gevaarliker plek, omdat wêreldvrede grootliks deur die magsbalans tussen groot lande bepaal word – hoewel die nuwe Koue Oorlog nog nie met die vorige een vergelyk kan word nie. Die grootste verloorder in hierdie herskikking van die globale magsbalans is die Weste, met China as die grootse wenner.

Dit is natuurlik nog te vroeg om te voorspel waar al hierdie internasionale skuiwe gaan eindig, maar die Weste behoort die Harvard professor Sameul Huntington se raad te volg. Hy het met verwysing na globale ontwikkeling en die internasionale demografiese veranderings, gesê dat die Weste nie verder moet probeer om die wêreld te oorheers nie, maar eerder om hulself te laat herleef.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese van Schalkwyk

En na die lees van hierdie briljante stuk kan die vraag met reg gevra word of daardie ‘bespotlike, ploerterige’ Donald Trump regtig so verkeerd is om eerder ‘n vriend as ‘n vyand van Vladimir Putin te maak?

John

Mnr Buys jou kop is reg aangeskroef. Moet nie daarmee laat peuter nie. Hou selfs jou tandarts en haarkapper fyn dop…

Nico K

Ek moet net byvoeg. Die lande wat by Navo aansluit doen dit uit vrye wil. Die teenvoeter van Rusland is om Georgië binne te val. Dit is ‘n groot verskil. Navo sukkel nie eintlik om sy invloed uit te brei nie. Die lande val oor hul voete om dit te doen. En is daar regtig ‘n verskil tusssen Oos- Europa en Wes- Europa. Histories was daar geen. Rusland, Hongarye, Pole ens. was al die jare bondgenote van lande in Wes Europa. Dit is kommunistiese Rusland wat hierdie verskil met militêre mag afgedwing het. En dit is Rusland wat probeer vasklou… Lees meer »

Hein

Twee baie belangrike punte moet genoem word. Ten eerste het Rusland nie Georgië binnegeval nie. Georgië het 2 wegbreek streke, Suid-Ossetië en Abkhazia wat na die burgeroorlog in die vroeë 90’s tot stand gekom het. Die burgeroorlog het gespruit uit die verbrokkeling van die USSR, met die 2 streke wat deel van die Russiese Federasie wou bly instede van om deel van Georgië te word. Sedertdien is Russiese, Georgiese en Suid-Ossetiese vredesmagte daar gestasioneer. In 2008 het Georgië die vrede verbreek deur Tshkinval, die hoofstad van Suid-Ossetië binne te val, juis toe spanning tussen Rusland en Navo hoogty gevier het… Lees meer »

Theuns

Flip dis ‘n uitstekende ontrafeling van die omstandighede ten gunste van die Russe en ten nadele van die Weste. Maar ‘n mens moet dieper kyk. Onthou die Russiese Komunistiese Stelsel voel niks vir sy mense nie of ander lande se mense nie en mense is baie laag op hulle priorteits vlak. Soos in Suid Afrika is daar net “usefull Idiots” wat by die trog vreet! Vir die ander wat nie so bevoorreg is nie is daar uiterste armoede en mense-regteskendings. Indoktroneering speel ook ‘n groot rol sodat mense in die russies sfeer moet glo hulle stelsel is die beste. Sodra… Lees meer »