Wladimir Poetin – die Russiese kragreus teen die Weste

Wladimir Poetin president van Rusland. Foto: Rusland-regeringskantoor

Wladimir Poetin word deur verskeie mense beskou as ʼn skurk en diktator. Westerse regeringsleiers wantrou die Russiese president, joernaliste stel hom voor as as iets tussen Adolf Hitler en Josef Stalin. Hy het ook sy aanhangers, en nie almal is Russe nie, en is amper ʼn soort kultusfiguur vir nasionaliste wêreldwyd. Ons het dus te doen met ʼn teenstrydigheid: Poetin word gereken as die persoon wat weer konflik met die Weste gaan aanwakker en wat die Derde Wêreldoorlog gaan begin met sy agenda van ekspansionisme. Maar hy word ook beskou as ʼn meesterlike strateeg wat die Weste uitoorlê. Met hierdie artikel word gepoog om Poetin se rol te evalueer.

Poetin red Rusland

Baie kenners probeer Poetin ontleed as ʼn voormalige KGB-agent, dus koud en klinies. Wat wel van belang is, is dat Poetin die president geword het nadat Boris Jeltsin in 1999 moes uittree. Jeltsin, die mees pro-Westerse leier wat Rusland nog ooit gehad het, was ʼn totale mislukking as leier. Hy was ʼn dronklap en het die reusestaatsbedrywe feitlik verniet weggegee aan ʼn klein kliek Russe in sy binnekring. Daarmee het die oligarge tot stand gekom wat die Russiese staat nie net gekaap het nie, maar tot op die rand van algehele verval gebring het.

Moskou in die 1990’s was amper soos ʼn afgeskeepte Afrika-hoofstad. Verval, ongelooflike armoede, erge korrupsie, min werksgeleenthede en ʼn ekonomie wat in duie gestort het. Rusland was ook in ʼn greep van terrorisme vasgevang weens ʼn jare lange oorlog teen Tsjetniese Moslem-rebelle in die Kaukasus-bergreeks. Daar was nie veel oor van die eens magtige Sowjetunie nie, wat basies in 15 dele (state) opgebreek is. Eers het kommunisme die Sowjetunie tot ʼn val laat kom, daarna demokrasie en ʼn vreemde soort uitbuitende kapitalisme.

Poetin, wat eintlik niks anders as ʼn burokraat en nie ʼn politikus was nie, kon kwalik die enorme staat in swakker omstandighede oorneem. Nogtans het Poetin in agt jaar van 2000 tot 2008 die land van totale mislukking gered. Hy het as troefkaart nasionalisme gespeel, en dus het die Russe, wat vir jare gekondisioneer is om hul “moederland” bo alles te stel, hom ondersteun. Verder het hy nog ʼn reusebondgenoot gehad: ʼn ongelooflike groei in oliepryse in die eerste paar jaar van die 2000’s. Rusland, as die grootste olieprodusent ter wêreld en een van die grootste verskaffers van gas vir Europa, het skielik ontluik as een van die sterre van die wêreldekonomie.

Die Weste het sy probleme met Poetin gehad, maar Rusland was nou deel van die G8, ʼn groep toonaangewende industrieel ontwikkelde lande. ʼn Ongekende kapitalisme het in Rusland posgevat en die najaag van materiële sukses was die mantra van die Russe. Rusland het nietemin weer ʼn vername rol in die wêreld gespeel.

Poetin was die held van die Russe en het ongekende steun geniet. Maar dit was nie alles maanskyn en rosegeur nie. Poetin en sy binnekring van lojale vriende het die korrupte oligarge se stelsel in stand gehou. Natuurlik het die Poetin-lojaliste ook gedeel in die rykdomme wat geskep is. Ander is uitgesny en sommige oligarge, wat nie Poetin se leierskap wou aanvaar nie en hom uitgedaag het, is tronk toe of het uit Rusland gevlug. Poetin duld nie teenstand nie. Hoewel hy beslis enorme steun geniet het en demokraties verkies is, het sy sekuriteitsdienste seker gemaak opponente en afvalliges word uitgeskakel. Aan die een kant ʼn web van korrupsie en uitskakeling van opponente, maar dan weer ongelooflike groei, skep van werk, en bowenal, herstel van die Russiese trots.

Poetin moes daarna (weens die Russiese grondwet), die presidentskap afstaan aan Dimitri Medvedev, ʼn volgeling. Poetin word van 2008 tot 2012 die eerste minister, maar het steeds die mag behou. Daarna kon hy weer president word en is in 2012 verkies. Die grondwet is intussen verander sodat die president se termyn ses jaar sal wees, wat beteken Poetin kan in 2018 herkies word en tot 2024 regeer.

Herstel van die Sowjet-invloedsfeer

In sy tydperk as eerste minister het Poetin en die Russiese regering egter teëspoed gekry. Die olieprys het platgeval ná die groot ekonomiese resessie van 2008 en ʼn vat ruolie het skaars ʼn derde van die vorige prys gehaal. Poetin het ʼn oud-Sowjetstaatjie, Georgië, wat te groot geword het vir sy skoene en eerder met die Weste verbind wou wees, binnegeval en maklik verslaan. Georgië, wat gehoop het die Weste sal hom militêr bystaan, moes inderhaas ʼn skietstilstand aanvaar en die Russe beheer toe groot dele in Georgië (met die oënskynlike doel om die Russiese bevolking in daardie gebiede te beskerm).

Poetin poog nog altyd tydens sy president- en premierskap om die ou Sowjet-invloedsfeer weer te herstel. Dit is nie aanvaarbaar vir die Weste nie, wat ná die Tweede Wêreldoorlog Oos- en Sentraal-Europa op ʼn skinkbord aan die Sowjetunie oorhandig het. Hulle wil toekomstige Russiese beheer hiér verhoed en eerder pro-Westerse state wat deel van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is, daarstel. Missiele sou ontplooi word in die Tsjeggiese republiek en Pole om die Russe in toom te hou. Rusland voel dus bedreig en probeer hierdie bondgenootskap verhoed.

Poetin het wel heelwat bondgenote in hierdie lande opgebou ná pro-nasionalistiese partye oral ontstaan. Baie is deur Rusland ondersteun, ook in Wes-Europa. Hierna het ʼn propaganda-oorlog uitgebreek wat intussen ʼn kenmerk van verdeeldheid in Europa en ook die VSA geword het. Aan die een kant is daar die liberale Westerse en pro-integrasiemodel van EU-lande en die VSA met sterk identiteitspolitiek en menseregte. Openheid en demokrasie is basies die grofgeskut wat teen die opposisie gebruik word om hulle aan die Westerse model te onderwerp. Daarteenoor is daar die konserwatiewes: nasionaliste, selfs kommuniste en hier en daar ʼn paar neo-Nazi’s. Sommige  word deur Rusland ondersteun.

Hierdie stryd het in die Oekraïne oorgekook tussen die pro-Russiese konserwatiewes en pro-Westerse progressiewes. Poetin, wat homself beywer vir die herstrukturering van Europa en die nasionalistiese Slawiese (pro-Russiese) deel wil uitbrei, het die geleentheid benut en in 2014 die Krim-skiereiland (met meestal Russiese bewoners) in die Oekraïne beset. Daarna het ʼn burgeroorlog in die Oekraïne uitgebreek. Die burgeroorlog is enersyds aangewakker deur pro-Westerse magte wat die verkose regering omvergewerp het en andersyds deur Russiese ondersteuning van pro-Russiese rebelle in die ooste.

Poetin se skuif was berekend maar riskant. Dit het verseker dat die strategiese Krim-skiereiland weer Russiese grondgebied word en die Europees gesinde Oekraïne verval in ʼn staat van langdurige onstabiliteit. Die gevolg was egter dat die Weste Rusland nou toenemend probeer isoleer het. Rusland is uit die G8 geskop, daar was toenemend konflik tussen die Russe en die Weste oor gebiede soos Libië, Sirië, Irak en Iran. Sanksies is teen Rusland ingestel en baie Westerse maatskappye het onttrek. Handel met die Weste het afgeneem. Die Weste poog ook om die Oos- en Sentraal-Europese state te speen van Russiese gas.

Poetin, wat sekerlik lank reeds hierdie situasie in die vooruitsig gestel het, het mettertyd reeds alternatiewe ontwikkel. Brics is ʼn groepering wat lande soos Rusland, Sjina, Indië, Brasilië en Suid-Afrika bymekaar voeg en basies ʼn teenpool teen die G8 (nou G7) is. Rusland poog om handelsbande met hierdie lande te versterk en die Westerse beheer van handel, wat in 2008 met die geldkrisis gewankel het, teen te staan. Hy versterk ook bande met ander lande (meestal anti-Westers) soos Kuba, Venezuela, Turkye, Sirië, Iran, en so meer.

Sal Poetin oorleef?

Poetin as president het uiteraard baie gebreke. Sy land is amper totaal afhanklik van mineraal- en oliepryse, daar is weinig ander sterk bedrywe, armoede is nog steeds wydverspreid en baie ryk Russe probeer steeds ʼn beter lewe in die Weste of ander lande maak. Hoewel steeds gewild, probeer Poetin klein maar werklike anti-Poetin-opponente soos Alexei Navalny neutraliseer in volgende verkiesings. Rusland is dus nie werklik ʼn demokrasie in die streng sin van die woord nie. Aan die ander kant, hoeveel lande is werklik? Die meeste Afrikalande se “demokrasie” is maar ʼn klugspul. Ook in baie lande in Suid-Amerika en Asië. Soos elders, is korrupsie, nepotisme en oorheersing van oligarge steeds ʼn Russiese fenomeen.

Die Weste het Poetin lankal as ʼn potensiële bondgenoot verloor deur Poetin keer op keer te probeer uitmaneuvreer en isoleer op die internasionale terrein, maar ook in Rusland se eie agterplaas. Poetin is egter vasberade en sal nie terugstaan nie. Met Brics-bondgenote en betrekkinge met ander lande soos Iran, Sirië, en so meer, speel Rusland toenemend ʼn belangrike internasionale rol. Poetin se inval van Georgiese en Oekraïense grondgebied is ook nie veel anders as veral die VSA se dekade lange oortreding van internasionale reg met oorloë of geopolitieke speletjies in Irak, Afghanistan, Sirië, Libië, Kosovo en tans Noord-Korea nie. Die verskil is dalk dat Poetin wel sy invloedsfeer probeer uitbrei naby die huis, maar hy speel veilig ver van die huis af.

Opsommend kan die volgende vrae beantwoord word: Is Poetin se regering korrup? Ja. Het Rusland ʼn werkende demokrasie? Nie regtig nie. Is Poetin die beste ding wat met die Russe kon gebeur het ná die verval in Jeltsin se tyd? Beslis. Is Poetin dalk die kragreus wat die Russe nodig het om in die volgende sewe jaar ʼn dominante rol te speel? Waarskynlik. Sal Poetin die Weste uitdaag in ʼn oorlog? Onwaarskynlik.

Tans is Poetin Rusland en Rusland word gedefinieer deur Poetin. In die Russiese mentaliteit wat ʼn sterk leier aan beheer wil sien, kan ʼn mens kwalik insien dat ʼn ander leier Russiese belange beter sal beskerm as Wladimir Poetin.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Rina Pretorius ·

Ons het so ‘n leier nodig in SA, hy is n no-nonsense mens, net wat ons nodig het

Eish ·

Ek hou van die man en sy onderhoude met die pers is tops. Sy redenasie tydens onderhoude spreek van onderwerpskennis soos min Westerse leiers. Ek dink die Weste maak n helse fout om hom te vervreem.

chris ·

hierdie man het vernuftig voorkom dat die weste ná jeltsin rusland se enorme potensiaal vir hul selfdienende doeleindes kaap. ek vermoed dis die rede dat die westerse hoofstroommedia putin ten minste dubbeld so sleg as uitbeeld as wat hy is , wat beteken hy is dubbeld so goed as wat hy lyk, wat nogal skaflik is.

Theresa ·

Strategiese denker. Op hierdie stadium ontbrekend in ons dierbare sonskynland. Sy naam alleen laat rillings langs die ruggraat afgaan: Vladimir Poetin.
Weet iemand hoeveel kommuniste nog die wêreld vol beweeg? Mos half uitgesterf of hoe? Bitter outydse manier van dink aangesien dit nie gewerk het nie? Is daar vars statistiek daarvan (asb. los maar Suid-Afrika se syfer uit – ons is maar bietjie agter met als?) maar in die res van die wêreld – hoeveel oor?).

Pekinese ·

Hy staan vierkant in die pad van die globaliste en hulle globalisme. Daarom word hy gedemoniseer deur hulle via hulle spreekbuis die hoofstroom media. Tussen Poetin en Trump is daar dalk hoop. Hoop net Trump kan kophou want hy word geweldig gekompromiseer.

Denise ·

Wladimir Poetin is die beste hy weet waarvan hy praat !!!!!!

Pietman ·

Goeie artikel. Baie geballanseerd. Poetin speel vuil , maar so ook die weste. Die weste het hul agenda en propaganda maar so ook die russe. Ek dink die gemiddelde burger van die voorheen kommunistiese lande ( rusland, Pole, Oekraine ens ) is meer bewus en ingelig oor die rol van propaganda en die huidige wêreld magspel. Die gemiddelde westerling het vele afleidings ( sport, vermaak, Hollywood ens).

Marthinus Willemse ·

Nico, wat bedoel jy met Poetin se “agenda van ekspansionisme”. In 1991 het die Sowjetunie verbrokkel, die 14 republiekstate het almal weggebreek en onafhanklik geword, en sedertdien het Rusland nog nie een vierkante sentimeter tot haar grondgebied bygevoeg nie. Tot met die Oekraïne-krisis, waar Poetin toe die besluit moes neem om die Krim oor te neem. (Navo wou die Krim gebruik as basis, en Rusland se Swart See-vloot sou uit Sewastopol geskop word. Selfs Poetin se kritici erken dat hy nie gereken het daarop dat Rusland ooit weer die Krim sou terugkry nie.) Die Georgiese oorlog het gebeur nadat Navo díé land bygestaan het, en Dmitri Medwedef verplig was om sy landsgrense te beskerm. Westerse media is lief om Aleksei Nawalni en wyle Boris Nemtsof “opposisieleiers” te noem, wat natuurlik verkeerd is. Die opposisieparty in Rusland, sedert die 2012 verkiesing, is die Kommunistiese Party, met Gennadi Zjoeganof as leier. In 1990 is die Sowjetunie se leier, Michail Gorbatsjof, belowe dat, as hy toestemming gee vir die herunifikasie van die twee Duitslande, en indien die nuwe Duitsland lid van Navo word, Navo geen uitbreiding ooswaarts sou maak nie. Gorby se toestemming was nog warm toe Amerika Navo tot op Rusland se landsgrense skuif. Is dit so onredelik van Rusland om haar landsgrense te beskerm teenNavo wat eintlik net `n gekamoefleerde Amerikaanse militêre eenheid is? Na die staatsgreep op 21 Februarie 2014 in Kiëf, het Amerika dadelik “ongeveer 300” (volgens die Pentagon) lede van die 173rd Airborne Brigade in die land ontplooi.

Gerhard ·

Hoe is dit Rusland se reg om ander lande binne te val en hulle grond te annekseer op grond van hul vrees vir NAVO? Dit is daardie lande se besluit met wie hulle assosieer.

Eish ·

Sal met liefde daarheen emigreer indien hul my vlugtelingstatus sal verleen.

Gerhard ·

Al wat Poetin nog ooit goed gedoen het is sy konserwatiewe/nasionalistiese uitwerking op Russe op kulturele vlak. Hy kan geen aanspraak maak op Rusland se ekonomiese groei nie, want dit sou in elk geval gebeur het agv. olie en gas pryse. Eintlik is hy net ‘ n boelie wat sy mag misbruik on homself te verryk binne Rusland en ook nou in buurlande. Sommige van daardie lande veg al honderde jare teen Russiese oorheersing en Poetin misbruik Westerse globalisme vir sy eie voordeel.

Piet ·

Marthinus Willemse ken sy feite. Baie dankie vir jou korrekte weergawe van die geskiedenis, Marthinus

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.