Begroot, dit bly die hoeksteen van persoonlike finansies

(Foto: Pexels/Pixabay)

Daar is sekere basiese beginsels wat in die lewe geld, of ons daarvan hou of nie.

Soos in gesond eet: Dis wys om twee keer soveel groente as vleis te eet. Of in braai: begin met droë hout. Of in rugby: Maak sag voor en slaan hard agter.

Die meeste velde en dissiplines het dit. So ook finansies. En gesonde finansies begin by ʼn begroting. Dis nou nie so sexy soos “Minki in ʼn bikini” of “ANC staak kaderontplooiing” nie. Maar dis vrek belangrik.

Ek weet, niemand is nou lus om hulle in die feestyd hieraan te steur nie. Jy wil nie aan wêreldse konsepte soos “bekostigbaarheid” of “skuld” dink terwyl jy na Eloff luister en vir die see kyk nie.

Maar: Alanis Morissette sing: “Life has a funny way of sneaking up on you when you think everything’s okay”. Dit geld ongelukkig ook vir finansies. Kop-in-die-sand-druk gaan nie help nie.

Hieronder vertel ek meer oor hoekom begrotings belangrik is en hoe jy dit sou doen. En onthou: Praat asseblief met jou makelaar, bankbestuurder of ʼn klankbord wat vir jou sal werk, oor jou spesifieke situasie, vir gepaste advies.

Hoekom moet jy begroot?

Gestel jy wil Riebeeck-Kasteel toe trek. Gaan jy die eerste en beste huis wat jy sien op Property24 koop? Of gaan jy eers na die plek kyk? Foto’s gaan jou nie stygende vog in die studeerkamer wys nie.

Jy gaan ook nie die skoonmense nooi om te kom kuier oor Krismis as jy nie eers peil wat in jou spens aangaan nie. Jy wil darem weet daar is steak om te braai. (En ekstra brandewyn op die vrugtekoek om die geselskap dowwer te maak.)

Nou so is ʼn begroting ook.

Wat jy eintlik doen, is jou vergewis van die status quo. Waar is ek? Waar kan ek beter vaar? Waar dop ek? Waar kry ek hoogste lof?

En bo-op dit: dit help jou om planne te maak, ook op die langtermyn. Dit help ook om jou gedagtes en behoeftes te orden. Wat wil ek oor vyf jaar bereik? Pas my DStv-intekening in by hierdie plan? Dink mier, eerder as sprinkaan.

Nou goed, Mike Tyson het gesê: “Everyone has a plan until they get punched in the mouth”. Maar dis die wonderlike ding van planne: dis gewoonlik makliker om hulle aan te pas, as wat dit is om van vooraf iets op te tower.

Wat het ek nodig?

Daar is hierdie konsep in rekenaarwetenskap: garbage in, garbage out.

In gewone taal: jy kan nie verwag om met treurige insette uitnemende uitsette te lewer nie.

Wat ek meen is dit: ten einde ʼn sinvolle begroting op te stel, moet jy dit sinvol invul. Jy gaan dus moet begin met wat jou inkomstes en uitgawes is. Maar ek praat nie hier net van groot uitgawes – jou huisverband, jou selfoonrekening, jou Hilux – nie.

Kyk ook vir die klein goedjies: daai ekstra duur melk van die fênsie supermark (wat eintlik maar dieselfde smaak as die by die hoekkafee), of die biltong wat jy skelm in die kar eet want dan hoef jy dit nie met die kinders te deel nie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig sulke druppels en stroompies die emmer laat oorloop.

Gaan trek ook jou bankstate – dan kan jy presies sien wat jy waarop uitgegee het. En hou vir ʼn maand tred met waarop jy kontant spandeer. Want wat jy dink jy spandeer, en wat jy werklik doen, is gewoonlik nie dieselfde nie.

Kom ons maak dit prakties

Daar is, dank hemele, baie gereedskap daarbuite om jou te help. As jy net “budgeting toolsop Google gaan soek, gaan jy miljoene antwoorde kry en die meeste daarvan gratis.

Daar is ook etlike apps hiervoor. Sommige banke het ook begrotingshulp, en die voordeel is hulle kan sommer dit vir jou vooraf invul. Les bes kan jy ook iets soos Excel gebruik, of dit selfs met die hand op papier neerpen.

Gewapen met die inligting wat jy hierbo ingewin het, kan jy dan jou begroting opstel. Jy begin deur jou inkomstes te lys, en dan jou uitgawes hiervan af te trek. Die meeste mense sal waarskynlik hulle netto inkomste, m.a.w. na belasting, gebruik.

Ek sou voorstel jy lys jou pensioen en medies en dies meer as afsonderlike items op jou begroting.

As jy klaar is, glimlag jy dalk breed. Meer waarskynlik wil jy in jou hande huil, want onbeperkte behoeftes het pas vir beperkte hulpbronne ontmoet, en eersgenoemde lyk of hy met ʼn uitklophou wen.

Dis dan hier waar die eintlike werk begin. En jy gaan moet eerlik wees met jouself.

Gaan kyk wat het julle werklik nodig, en wat nie. Kan jy regtig nie die skoolfonds bekostig nie, of is die probleem eerder die tweede Prado wat jy net gebruik om die karavaan na Hartenbos te sleep?

Is musiek, drama, interpretiewe danse, koderingslesse en judo regtig nodig vir klein Pieter-Johan se heil? Dalk sal hy dit ook waardeer om net te kan asemhaal.

Koop dalk maar jou onties by Pep, of drink vir ʼn wyle bokswyn eerder as Kanonkop se beste. So sal daar meestal ruimte wees om vet te sny.

En dan moet jy hierdie regte begroting gaan toets teen waar jy wil wees, en sy weerbaarheid in die wêreld daarbuite vir ʼn maand of drie.

Onthou, dis nie die begroting wat dit vir jou doen nie, net so min as wat dit die .308 is wat die bosbok skiet – jy trek die sneller, en net so is dit jy wat die plan moet toepas.

Dit gaan nie noodwendig maklik wees nie. Afhangend van hoe woes jou sake lyk, kan dit maande of jare neem. Jy word besluit vir besluit finansieel fikser. Trust the process.

 Nog ʼn paar dinge

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

As jy getroud is, stel saam ʼn begroting op. Of laat beide ʼn begroting hê. Daar is baie konflik in huwelike oor geld en openhartigheid maak dit minder. Dit hou jou ook verantwoordbaar aan iemand buite jouself.

Begin met die belangrikste goed eerste. Soos ek laas genoem het, begroot in persentasies: 30% vir behuising, 15% vir kos, so aan. En betaal jouself eerste, deur eerste jou spaargelde te allokeer. Jy sal vind as jy probeer spaar wat oor is, is daar nooit iets oor nie. En betaal eerste jou skuld af, veral jou duur skuld.

Onthou ook dat elke maand gaan anders lyk. Die lewe gebeur – jou kar breek, skooltoere verskyn uit die niet, jou Errol Arrendz pas dalk nie meer wat jy na die bure se dogter se troue wou dra nie. Vandeesmaand het jy waarskynlik Kersgeskenk-uitgawes, en daai kombi-draairoomys by die strand is nie verniet nie.

Probeer dan ook maandeliks ʼn buffer inbou, as jy kan, vir hierdie onvoorsiene uitgawes. Bou aan ʼn noodfonds. Hersien jou begroting gereeld, en toets hom teen die werklikheid.

As dit regtig sukkel, probeer vir een maand om alles wat jy kan, kontant te betaal. Ons beskou harde kontant anders as ʼn kaart.

En laastens: moenie te hard wees op jouself nie. As dit maklik was, het almal dit reggekry. Dit sal dalk help om ʼn finansiële adviseur te kry om te help. Jy kry nie ekstra punte as jy dit op jou eie doen nie.

Dis ʼn proses van jouself leer om anders te dink oor geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.