Chris Chameleon: Die lowerreuse van 5de Laan

Argieffoto (Foto: Bluesnap, Pixabay)

ʼn Mens moet seker maar in Johannesburg gebore en getoë wees om my soort liefde vir hierdie stad te hê.

Dis veral haar bome. Ek ken hulle. As kind het ek skool toe en terug geloop en die bome van my voorstad leer ken. Elke boom het sy eie persoonlikheid. Ek het hulle voor my sien groter word. Met die 30 jaar reünie byna op hande, was daar sedertdien heelwat tyd vir groei. Ek onthou hoe hierdie boom en daardie boom eens gelyk het, en hoe hulle nou deur die son en reëns van jare lyf gekry het, uitgedik en uitgestyg het tot lieflike lowerreuse.

Ek is seker maar ʼn bietjie obsessief van geaardheid. ʼn Rukkie gelede het ek al die munisipale bome in 5de Laan in Linden getel. Daar was 96. Ek ken hulle nie almal persoonlik nie, maar heelwat van hulle kom my nie onbekend voor nie.

Ek sal daardie witstinkhout onthou omdat hy wag gestaan het voor die afdraaipad van die systraatjie waar ek by die pianis vlerkgesleep het, om my dolle fietsvaart teen die skuinste af betyds voor te berei vir die swenk. Ek onthou die jakaranda wat voor oorle Juffrou Koekies, die laerskool se bibliotekaris, se huis wag gestaan het. Tiende straat het aldus die bepalings van feng shui in ʼn dodelike drakevloei op haar huis afgepeil, wat in die spervuur van die T-aansluiting gestaan het. Die Sjinese voorspel hiervoor ʼn vroeër dood, maar duidelik het die jakaranda die hou vir Juffrou Koekies gevat want sy het nogal oud geword.

Die karee voor die Engelse kerk, waaruit ek in my verbywandelinge dikwels vroliker liede as die dralerige psalms van my geliefde NG Kerk gehoor het, staan nou nog daar en wieg af en toe op wat soms voorkom as die maat van die lofprysinge daarbinne.

Daar is ʼn boek wat beweer dat wanneer ʼn mens 10 000 ure aan ʼn vaardigheid toegewy het, jy meesterskap behaal. Dis ʼn lang tyd. As ek die twee maal veertig minute wat ek daagliks skool toe en terug gestap het vermenigvuldig met 200 dae se skool per jaar oor die vyfjaartydperk van my hoërskoolloopbaan dan sit ek nog nie eens op 1 500 ure nie. Maar ek voel soos ʼn meester van die bome van Linden, want ek het met liefde en ʼn hegter band as blote verbygang van hulle kennis geneem.

Die bome, daarenteen, is seersekerlik meesters van hulle omgewing. Hulle staan dag in en jaar uit op dieselfde plek. Hulle weet wat die son en die wind en die water doen. Die ritme van die seisoene is hulle ewige musiek. Nasomer kan so warm wees as wat hy wil, hulle meet die sonlig en wanneer die son in Maart al oor die ewenaar sy daaglikse gang noordwaarts voortsit, begin hulle ondanks goeie reën en lig al blaartjies afwerp en energie na binne berg vir die koele winterrus.

En tog het hierdie meesterskap van hulle omgewing hulle nie gehelp teen die aanslag van termiete nie. Dit is hoekom ek die bome van 5de Laan wou tel. Ek wou sien hoeveel bome word deur termiete bedreig. Dit was 76 uit die 96 bome. My hart het gebreek. Ek was kwaad vir die mense wat nie tuiniers het nie, maar veërs, alewige veërs wat die blare, die gras, die bome se kos opvee en wegry. As die termiete nie kos in die verarmde grond kry nie, begin hulle boom vreet.

Ek het egter ook gemerk hoe dit meestal jakarandas is wat onder die termiete-aanslag ly. Die kareebome en witstinkhoute vaar betreklik goed. Hulle is inheems en in hulle DNS lê die meesterskap van vele voorgeslagte opgesluit.

En dan is daar Dehan, ʼn eiendomsagent in die omgewing. Hy het gemerk hoe die bome swaarkry en besluit om iets daaraan te doen. Toegegee, hy heg ʼn lussie met sy besigheidsbesonderhede aan elke boompie vas, maar dit is iets wat ek hom nooit sal verkwalik nie. In die loop van sy jarelange werksaamhede in Linden het hy meer as 300 bome op munisipale gronde geplant. Hy het inheems geplant – witstinkhout en karee.

Ek kyk baie selde films of televisie, maar wanneer ek lus raak vir superheldaksie gaan ek nie rolprentteater toe nie, ek gaan stap in die strate en kyk hoe Dehan se saailinge uitsit.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Daleen ·

Ai, laat dit my nou hinker na my staptogte na skool. Nie net die bome nie, maar die berge in die verte, en die ‘hallo’ sê vir elke 2de huis se hond. Skool toe stap was nie so lekker nie… optraande en die wete jy moet in die skoolbank gaan sit… maar huistoe… te lekker.

E.K. die eerste ·

Gee tog ‘n boek uit met al jou skryfsels – al is dit eers oor ‘n jaar of twee!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.