Chris Chameleon: ʼn Vlieg in die salf

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Eers was dit die slaai, en toe oral oor die rou vleis wat nog so ʼn paar minute langs die vuur moes talm vir die kole om net reg te wees. Toe ons die vleis uiteindelik op die rooster uitpak, het die volgende teiken van sy treitering die gemoedelike gaste geword. Die vlieg moes een of ander spesifieke tekort in sy gestel gehad het want hy was in die besonder op mense se lippe en gesigte gefikseer. ʼn Proesgeluid en vele waaigebare later bereik my verdraagsaamheid die perke van sy eie omvang en storm ek kombuis toe om die vlieëplak te gaan haal.

My skielike verdaging ontstel my 14 maande oue dogtertjie, Lente, wat nou die reuk van kos gekry het en gevolglik meer honger en minder geduldig raak.

Ek kom terug, vlieëplak dreigend omhoog met ʼn wreedaardig wraaksugtige uitdrukking op my gesig, maar met die soort intuïsie wat skynbaar besit word deur alle diere wat bestaan om die mens se lewe te versuur, soos muskiete, vlooie ensovoorts, is die vlieg, noudat ek bewapen is, eensklaps nêrens te sien nie.

Ons braai maar voort en wen uiteindelik die stryd van geduld teen die vlieg, (maar nie die klaende kleuter nie) wat weer sy verskyning maak en vliegpoefpresentjies laat op alles waaraan hy raak. Vliegpoef op die lepels, vliegpoef op die venster en vliegpoef op jou geselsende lippe!

Ek vermoed hy gooi draaie in die lug naby my gesig sodat hy soos ʼn swierig draaiende waterskiër nog ʼn fyn sproeisel vliegpoef kan afset op my geïrriteerde gelaat. Ek sit die braaitang neer en hervat my greep op die plak en gaan op jag. Na ʼn paar wilde swaaie, soms gevaarlik naby aan koestende gaste, tref die vlieëplak uiteindelik sy teiken en die irriterende swernoot stort soos Icarus te gronde. Maar, anders as in die geval van Icarus, val hy hom nie dood nie. (Terloops, het jy geweet dat geen dier kleiner as ʼn kat homself kan doodval nie? Al laat val jy ʼn muis vanuit ’n vliegtuig, sal hy nie doodval nie. Wanneer die dier so groot soos ʼn normale, lenige kat is, kan hy baie seerkry, maar hy sal hom nie doodval nie).

Half lewend lê die vlieg en spartel. Vyftigpersent van sy vlerke en 100% van sy wilskrag funksioneer nog en ten aanskoue van ons geamuseerde gaste en my hardop laggende baba dogtertjie (honger tydelik vergete) dans ek nou in die braaikamer rond en mik woeste houe na die ontwykende vlieg in sy spirale baan.

“Hulle maak eenvoudig nie meer die vlieëplakke soos in die ou dae nie!” probeer ek my onbeholpenheid half verleë verweer.

Uiteindelik tref die plak sy teiken en die vlieg se laaste skoppies lyk soos ʼn pianis met ses vingers aan die een hand wat ʼn cadenza klaar speel.

Johan leuen agtertoe in sy stoel en vra waarom ek myself so ooreis het – die vlieg was immers so goed as dood.

Ek verduidelik dat al sou hy gewis gesterf het, het hy in daardie stadium nog gelewe. Ek kan die ongeloof in sy blik verdra, maar my gekrenkte ego sukkel met die onmisbare sweempie van “Chris jy’s ʼn idioot” in daardie kyk.

En daar gaan ek alweer, versuur ʼn braai met my filosofieë.

Ek vertel vir hom dat as ʼn vlieg gemiddeld sowat een maand lank leef, ʼn mens van 80 jaar dus 960 keer langer leef. Wat beteken dat elke sekonde vir ons, vir die vlieg soos sestien minute is. Een minuut is vir hom dus soos 16 ure. Nou ja, om vir ʼn minuut op jou rug te lê en spartelend te ly voor jy sterf is al erg genoeg. Maar om dit vir 16 ure te doen – dis immers oormatige vergelding vir ʼn paar minute se treitering by ʼn braai, nie waar nie?

“Net op ʼn punt van orde,” wys een van my slimmer gaste my tereg, “die vlieg het ons vir ten minste tien minute gepla, wat vir hom soos 160 ure is. Dis amper sewe dae se onophoudelike treitering. Ek sou sê enigiemand wat ʼn ander persoon vir ’n hele week lank onophoudelik treiter, is ʼn psigopaat.”

“Miskien, maar die treitering is die gevolg van sy handelinge, nie die doel daarvan nie,” vul ek die armbeurs.

“Buitendien,” kap hy terug, “het jy die larwe- en papiestadium ook in jou maand ingereken?”

Ek maak my mond oop en wil-wil hom troef met ʼn dosis diepe retoriek, maar word in die rede geval deur dáárdie stemtoon van my vrou wat gewoonlik net een ding beteken:

“Chris, hoe oud is jou dogter?”

“Wablief liefie? Dis tog 14 maande?”

“En hoe oud is jy?”

“Eh… vyftig?”

“So, met julle tien minute lange geredekawel laat jy jou dogtertjie… (die berekening flits vinnig oor haar gesig) 7 ure wag vir haar maaltyd!”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.