Chris Chameleon: Wanneer ongewone nuus gewoon word

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon/Facebook)

In my truspieëltjie word die majestueuse Oostenrykse Alpe ʼn klein witspitsige horison in die sakkende winterson. Die week in die berge was louter genot. Ek wou reeds sedert ek as kind in die 1970’s stralerjakkers met die paspoorte na internasionale rookgenot op rolprentreklame gewaar het, ook met ʼn pragtige blonde vrou op ʼn stel ski’s die wit poeier van die berge om my in dalende vaart opskop.

Blykbaar is ʼn mens nooit te oud om drome te verwesenlik nie want hier het dit nou gebeur. Volgens die ski-instrukteurs en ervare skiërs in ons groep was my beminde en ek natuurlike talente en was die val-en-ski wat ons uiteindelik kon uitrig bo dit wat van ons beperkte ervaring verwag kan word.

Gelate, effens spyt soos kinders ná ʼn seevakansie en met stywe bene ry ons nou terug Rotterdam toe, vanwaar ons oormôre Suid-Afrika toe sal vlieg. Die weeklange afwesigheid van internetverbinding was dalk gesonder as die gesamentlike voordele van skoon lug, harde oefen, lekker eet, Duitse volksliedjies en gemoedelike samesyn. Maar met die wete dat ʼn week se agterstalligheid tydens die komende week se dolle vaart addisionele druk gaan wek, word die fone een vir een aangeskakel. Data stroom na ons palms, nuus van oral bereik ons en die werklikheid van die alledaagse gryp ons aan die kraag en sleep ons uit ons idilliese droomwêreld.

Maar dan, wie se werklikheid?

Die eerste WhatsApp slaan hard, gryp aan ons Suid-Afrikaanse harte met ʼn wrede klemmende hand. ʼn Vriend en voormalige buurman, Fredri, laat weet sy skoonma is gisternag op haar plaas vermoor.

Ons Nederlandse vriend wat voor, agter die stuur sit, hoor hoe ons dit ontsteld bespreek en vra versigtig uit.

Met Hollanders moet ʼn mens versigtig wees. ʼn Onlangse Pew-navorsingstudie het getoon dat uit ʼn ondersoek na 38 lande se “vertroue in hul media”, Nederland bo-aan gepryk het. Dit sê meer vir my skeptiese Afrikanerore oor die volk se naïwiteit as oor die betroubaarheid van hul media. Daarby is die Nederlandse media, na my persoonlike mening, opvallend bevooroordeeld ten gunste van globalisering, groter regeringsinvloed en die multikulturele ideaal wat moet gedy, al is dit ten koste van die diversiteit wat deur gemeenskappe met eeueoue tradisies, tale en kulture gevorm is. Met hierdie ingesteldheid is daar minder plek vir beriggewing oor die lot van gemarginaliseerde minderhede met ʼn eie verhaal. My gesprekke met Nederlanders oor Suid-Afrika en spesifiek my ervaring van die land as Afrikaner word dikwels met beleefde ongeloof ontvang en word vertolk binne die gevoerde konteks van wat kwansuis my bevoorregte posisie is wat nou bloot in ekwilibrium gebring word.

My vriend is nietemin geskok, simpatiek. Hy vra hoe algemeen sulke aanvalle is. Ek beantwoord hom met die vraag: het jy al ooit iemand geken wat vermoor is? Hy het nie.

Die wrang smaak van die WhatsApp se inhoud laat my die feite soos gal braak.

Ek vertel hom hoe Elana, wat saam met my in die klas was, se pa vermoor is op wat ek vermoed die laaste stukkie landbougrond in munisipale Johannesburg was. Ek vertel hom hoe Nathan, my klasmaat, se pa in sy horlosiewinkel vermoor is. Ek vertel van my oom Koos, ʼn boer, wat in Delmas vermoor is. Ek vertel van Johan en Jacques, my skoolvriende, wat na skool doodgeskiet is. Ek vertel van Krisjan, my kosskool-kamermaat, wat doodgeskiet is. Ek vertel van die grimeringskunstenaar wat saam met my op “Hidden City” gewerk het wat in haar huis vermoor is. Ek vertel hom dat daar heelwat mense aan hierdie lys toegevoeg kan word wat vriende en familie van my kennisse was, maar wie ek nie persoonlik geken het nie. Om van die selfmoorde nie te praat nie: Neil, Ciska se ma, Lize-Mari, Adele se pa, Johan se pa, Tasche, Tsiki, Candice en Huyser. Ek noem ook die onsuksesvolle pogings van Louwtjie, Hennie, Francois, Dave en Adam. My beminde se swaer is op sy plaas geskiet, twee skote in die bors en het wonderbaarlik oorleef. My eie suster is in haar huis aangeval en beroof en ten slotte het ek ʼn soortgelyke aanval in my eie huis nouliks oorleef.

Die kar word stil. My vriend, diep geraak sê:

“Maar Chris, dat is gewoon niet normaal!”

“Dis die probleem,” antwoord ek, “dit ís normaal!”

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

E.K. die eerste ·

En is dit nie skokkend dat dit ons “normaal” is nie. :(

Liamari ·

Dis so normaal dat ek dankbaar kan wees dat ek nog nooit verkrag is nie. Dat ‘n naby geliefde nog nooit vermoor is nie. Die vraag is… wanneer is dit nou my beurt?

jaloers ·

ek wil nie rerig iets hoor van mense wat my agtergelaat het in die gemors en nou lekker rustig agteroorsit en kommentaar lewer terwyl hy niks het om oor te worry nie. Ek moet hier bly sit in die gemors met my kinders wat geen toekoms het nie. Ek is jaloers en bekommerd.

Jakoba ·

Geniet aflewering Chris….Hoe Dankbaar is ek, ook vir my ouers wat nooit politiek👹 met hul ouer-kindopvoeding gemeng het nie. Maw as jong en volwasse het ek stewige waardes en oordeel oor alle lewensopvattings mee kon wegspring in dié lewe. Als oorleef,🙏 my kinders ook so grootgemaak 🙏nog steeds is dié land in “gemors” soos “jaloers” dit stel. Lw ek besit geen paspoort maar dra goeie kennis van kontenente en húl gemors…ONTHOU ons wik maar die Skepper beskik. Kyk OP en GLO tsv gemors dit hou/staan nie vir làńk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.