Dagboekinskrywing van ʼn VIP-Benoni-inboorling

Deur Gideon du Plessis

Liewe Dagboek

Dag 1 – 12 November 2022

My Suid-Afrika-besoek

skryf-kenny-eliason-unsplash.jpg

Foto: kenny-eliason/unsplash

Dit is so lekker om vir ʼn slag met “Liewe Dagboek” te begin, en nie in Hollywood te sit en in Afrikaans te dink, maar met “Dear Diary” te begin nie.

Ek is so opgewonde om 2022 af te sluit met ʼn weeklange besoek aan my geboorteland. Ek gaan die 3 dae ten volle benut, omdat ek in 2016 laas in die land was. Ek kan nie wag om te sien wat die afgelope 2 jaar, sedert 2016, verander het nie.

By OR Tambo-lughawe vra ek die huurmotoragent hoe lank dit sou neem om van Johannesburg na Kaapstad per motor te reis. Hy noem dat dit ongeveer ʼn 14 ure rit sal wees as ek by die spoedperk hou en elke twee ure stop.

Ek is so opgewonde, want soos ek Avis se landkaart met my vingers afmeet, lyk dit soos ʼn 400 km “road trip”, en as ek dit oor twee dae doen beteken dit ʼn reis van omtrent 50 km per dag.

Ek het 08:00 by die lughawe weggetrek en 13:00 was ek in Bloemfontein – net betyds vir die eerste twee ure stop.

Ek trek by Bloemfontein se Ultra City in, en die petroljoggie sê opgewonde in suiwer Afrikaans: “volmaak”. Ek sê toe verleë ja, maar noem tog dat ek ook foutjies het.

Met ʼn frons kyk hy my aan en versoek of hy dié brandstoftenk moet “vol maak”? Baie verleë vir die misverstand sê ek: “Ja, asseblief”. Maar heel vreemd vra hy toe 93 of 95? Waarop ek antwoord: “Nee, 100% vol, want ek moet tot in die Kaap ry”.

Hy vra toe of hy die bande moet pomp? Ek knik instemmend, maar toe volg nog ʼn vreemde vraag. “Hoeveel?” Beleefd antwoord ek al die bande, met ander woorde beide.

Hy loop met ʼn frons weg en draai weer terug en vra in sy mooi Afrikaans of ek die TV-program Orkney Snork Nie kan onthou? “Natuurlik”, sê ek, waarop hy antwoord dan onthou ek seker Ouboet se uitdrukking van “ook maar lekker stupid”?

Ek lag lekker, want ek onthou toe ek jonk was en ek Ouboet dit die eerste keer hoor sê het. Ek het my Ma gevra wat “stupid” beteken, want in Benoni word min Engels gepraat. Nadat my Ma verduidelik het, het ek sommer lekker “stupid” gevoel.

My eerste oornagstop was ʼn luukse wildreservaat in die Karoo, wat spog dat hul die Groot Vyf het.

Daar aangekom, pak ek af en wou dadelik op die Groot-Vyf-wildrit gaan. Die eienaar het my herken en aangebied om my alleen op die wildrit te neem. Ek was dankbaar, want die wildrit-voertuig het vier rye banke, en ek het uitgewerk as daar vier mense in elke ry sit, ek die rit met drie ander mense sou moes deel.

Ons was so gelukkig en sien die Groot Vyf binne die eerste 10 minute. Die volgorde was eerste die olifant, toe die buffel.

Dag 2 –13 November 2022

Liewe dagboek, vandag het ek die laaste 50 km-tog vanaf Beaufort-Wes na Kaapstad aangepak.

Met my stop in Leeu-Gamka word ek weereens deur die petroljoggie in die mooiste Afrikaans gegroet, en so word ek ook laatmiddag met my aankoms by die Cullinan Hotel in Kaapstad ook in suiwer Afrikaans gegroet.

Ek kry ʼn hotelkamer op die 8ste vloer wat oor Tafelberg uitkyk. Doodmoeg stap ek my hotelkamer binne weens die tol van die 400 km-reis en nadat ek drie keer op die 3de vloer van die hotel uitgeklim het, omrede ek aangehou het om die nommer “8” met “3” te verwar.

Soos ek op my bed neerval, sien ek Die Burger langs my bedkassie. Ek het net genoeg krag gehad om die voorblad te lees. Ek was so beïndruk om te sien hoe professioneel die Springbok-rugbyspan geword het dat hul dieetkundige van ʼn dubbelganger gebruik maak.

Dit het onmiddellik by my aanklank gevind, want as bekende aktrise maak ek ook van dubbelgangers gebruik vir gevaarlike aksietonele. Ander groot sterre gebruik selfs dubbelgangers vir liefdestonele, maar ek verkies om dit self te doen, omdat dit glad nie gevaarlik is nie.

Soos ek na Tafelberg staar, laat dit my terugdink aan my besoek aan Nelson Mandela hier in Kaapstad nadat ek my Oscar gewen het. Ek het net soveel deernis vir die man gehad wat, soos ek kan onthou, 72 jaar in die tronk moes deurbring.

Maar toe dink ek ook aan die stresvolle tyd toe ek al ʼn jaar voor my Oscar-benoeming ʼn gerug gehoor het dat ek benoem gaan word. Dit was die langste twee maande van my lewe.

Soos ek die luukshede om my raaksien, besef ek hoe bevoorreg ek is en besluit om die 10de wat ek aan liefdadigheid skenk, na ʼn 20ste te verhoog.

Ek het wel my goeie daad vir die dag gedoen toe ek by Matjiesfontein se hotel ʼn kennisgewing gesien het wat lui: Rekenmeester benodig: R40 000 – R50 000. Ek het die hotel binnegestap en die bestuurder ingelig dat daar nie nodigheid is om ʼn rekenmeester te kry om die som uit te werk nie, want die antwoord is: -R10 000. Die bestuurder het my verstom aangekyk, maar ek stap net weg met ʼn glimlag want in die VSA sou die meeste mense die som kon doen.

Net voordat ek aan die slaap raak, dink ek aan die goeie ervaring van al die wonderlike mense wat my vanaf Bloemfontein tot by die ontvangs van die Cullinan in die mooiste Afrikaans bedien het.

Ek wonder toe hoeveel mense praat Afrikaans in my geboorteland. Ek Google en sien dat die meeste Afrikaanssprekendes Swart is, maar ek kry nie meer inligting nie.

Gelukkig onthou ek Spanner Swart wat saam met my op skool was. Spanner se pa het die paneelkloppers in Benoni besit en ek het by sy ma ekstra wiskundeklasse gekry met die hoop dat ek nie meer die grap van die wiskunde klas sou wees nie. So kon ek ook tannie Stienie help om vir haar rehab te betaal. Spanner het altyd gespog dat daar 30 mense hul jaarlikse Swart-familiebyeenkoms bygewoon het.

Ek reken toe as ek Spanner-hulle se Swart-familie van 30 vat wat Afrikaans praat, en ek voeg die Therons en paar nie-Swart-mense by wat ek ken, daar so 40 mense moet wees wat Afrikaans praat.

Maar weereens “lekker stupid”, want toe onthou ek van die 2 petroljoggies op my reis, die eienaar van die wildreservaat en die dame hier by die hotel wat ook Afrikaans praat, wat beteken dat daar 44 Afrikaanssprekende mense in die land moet wees.

Maar 44 klink nie reg nie en ek sal môre by ontvangs gaan vra wat die regte getal is, want ek onthou die bordjie by die ingang wat aandui: “Kontak ontvangs vir enige navrae”.

(Hierdie uittreksel kom uit ʼn dagboek wat ʼn VIP-gas in die Cullinan Hotel agtergelaat het. Die klant het die hotel geskakel en gevra om die dagboek vir haar te bewaar vir 6 jaar, want sy sal weer in 2024 ʼn draai kom maak. Toestemming is verleen vir die publikasie van dele van haar dagboek, met voorbehoud dat haar naam nie bekendgemaak mag word nie).

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alana ·

Ai Gideon, dankie, ek het lanklaas so lekker gelag! En ek het boonop in suiwer Afrikaans gelag.

Spook ·

Jou ou karnallie! Dis my gunsteling woord in Afrikaans. Ek is siek en sat vir ‘n sekere Amerikaanse karnallie wat vir haar nuwe landgenote wil wys dat al ons 44 dalk net so agterlik soos sy is.

MARELIZE ·

Ja-nee kyk!
Daar is heelwat meer wakkergeskud, opgeruk en uitgepluk met hierdie dubbelvier as wat enige beperkende wetgewing, sluit van Afrikaanse skole en ontkenning van die derde grootste landstaal kon regkry.

Dankie vir hierdie suiwer stukkie Afrikaanse humor.

Aikie ·

Die afstande af Kaap toe het my gekielie op snaakse plekke en ek wou eers dit reg stel. Toe lees ek liewers aan voor ek aan die onbeheerste “foot-in-mouth” siekte begin ly.
Dit was ‘n uitsonderlike stukkie skryfwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.