Dekking vir gevreesde siekte help ook om gate te stop

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ek begin gewoonlik hierdie rubriek met een of ander pittigheid – oor kadertreurigheid, of iets in der voege. Hierdie week nie, want die onderwerp is maar swaar.

As jy die gemiddelde mens gaan vra wat hulle grootste vrees is, gaan ek jou wed dat drie antwoorde hulle gaan herhaal: hulle eie dood, ʼn geliefde se dood, of dat ʼn ernstige siekte, iets soos kanker, hulle of hulle naastes gaan tref.

Statisties gesproke is jou kanse om dood te gaan een tot een. Ons almal gaan eendag in die stof lê, kom wat wil.

Ek wil jou nie bang praat nie, maar ernstige siektes is ʼn realiteit en ook ʼn groot risiko. Byvoorbeeld: Een uit vier Suid-Afrikaners ken iemand wat met kanker gediagnoseer is. En: Daar is daagliks omtrent 130 hartaanvalle in Mzansi. (Ek sal hier onder in meer detail uitbrei oor wat gevreesde siektes behels.)

Die punt is, as so iets met jou gebeur is dit ʼn gatslag. Kom ons maak hierdie baie duidelik: geld gaan nie jou probleme oplos nie. Maar een van die groot strespunte na so iets, is ongelukkig finansies, want behandeling is nie goedkoop nie. Ja, jou medies en jou gapingsdekking gaan vreeslik baie gate toe stop, maar daar lek maar altyd ietsie.

En dis waar hierdie inkom.

Ek klink seker al soos ʼn plaat wat vashaak, maar gaan sien jou finansiële adviseur. Hierdie is bloot oorsigtelik, en hierdie goed kan nogal tegnies raak.

Wat is gevreesde siekte-dekking?

Hierdie tipe dekking het verskeie name: In Engels: dreaded disease, severe illness, critical illness. En in Afrikaans: gevreesde siekte, ernstige siekte, kritieke siekte en so aan.

In wese bly dit dieselfde, maar daar is natuurlik dinge om in ag te neem.

Ek gaan dit vir die doeleindes van hierdie rubriek bloot gevreesde siekte noem. Dis ʼn vorm van langtermynversekering, en vorm gewoonlik deel van jou lewenspolis.

Langtermynversekering dek jou liggaam, terwyl korttermynversekering eiendom dek.

Hierdie kan tegnies raak, maar ek gaan dit probeer eenvoudig hou. Terwyl daar baie ooreenkomste is tussen gevreesde siekte en ongeskiktheid en inkorting, is dit nie dieselfde nie.

Ek oorvereenvoudig, maar ongeskiktheid verwys na jou vermoë om ʼn inkomste te kan genereer of jou beroep te kan beoefen. Vir verskillende werke lyk ongeskiktheid anders: as jy verlam is in jou onderbene gaan jy sukkel om ʼn professionele rugbyspeler te wees, maar jy sal waarskynlik nog ʼn rekenmeester kan wees.

Inkorting, weer, het merendeels te make met funksies van die liggaam – soos dat jy in ʼn rolstoel is. Jy is dalk nie beroepsongeskik nie, maar jy is ingekort (of impaired, soos die Rooitaal hom roep).

Beide hierdie tipes dekking kan ʼn ruk neem voor jou polis uitbetaal, want permanensie moet eers vasgestel word.

Gevreesde siekte, aan die ander kant, is ʼn diagnose ding. Jy word gediagnoseer met kanker of ʼn hartaanval en die polis betaal uit (maar daar is fynskrif; meer hieroor onder).

Die mees algemene eise is vir kanker (getalle wissel van maatskappy na maatskappy – 44% en 52% word genoem) en dis ook gewoonlik die meeste mense se groot vrees. Dit kan ook ʼn ongelooflike duur siekte wees om te behandel, afhangende van watter tipe kanker jy onder lede het.

(Vonkelfeit: Dr. Marius Barnard (Chris van die harte se broer) het met hierdie tipe dekking vorendag gekom in 1983.)

Die doel van gevreesde siekte-dekking is nie noodwendig om al jou onkostes te dek of om jou inkomste te vervang nie. Dis gewoonlik aanvullend tot jou medies en so meer.

Natuurlik, hoe meer jy het, hoe verder gaan dit. Maar dis nie ʼn goedkoop vorm van versekering nie, omdat die voorkoms van hierdie tipe siektes nogal hoog is.

Maar lees jou fynskrif

Daar is hierdie ou grappie onder regslui: “What the big print giveth, the small print taketh away”. Dalk ʼn bietjie sinies vir my, maar dis nie sonder ʼn mate van waarheid nie.

Vir ons doeleindes: Nie alle gevreesde siekte-dekking is dieselfde nie.

Daar is alleenstaande, teenoor versneller, byvoorbeeld. Laasgenoemde is gekoppel aan jou lewensdekking – dink daaraan as ʼn koppie vol water. As jy eis vir byvoorbeeld kanker, verminder dit die water in die koppie (en dus jou lewensdekking) proporsioneel.

Die probleem daarmee is dat terwyl jy net een keer dood gaan, jy ongelukkig genoeg kan wees om meer as een tipe gevreesde siekte in jou lewe te hê. Die probleem met alleenstaande dekking is dat dit duurder is. (My voorstel sou byna altyd egter wees om dit alleenstaande te neem, as jy dit kan bekostig.)

Dan is daar omvattende teenoor basiese dekking. Die mees algemene tipes gevreesde siektes is vorme van kanker, hartaanvalle, hartomleidings en sekere beroertes. Dis ook waar die meeste van die eise vandaan kom.

Maar benewens dit is daar allerlei ander siektes wat ook, afhangende van jou polis en maatskappy, as gevreesde siekte beskou kan word: van motorneuronsiekte en selfs orgaanvervangings, tot iets soos multipele sklerose (MS).

Basiese dekking is gewoonlik vir net die mees algemene tipes, terwyl omvattende dekking die ander tipe siektes ook insluit. (Weereens sou my voorstel byna altyd wees om eerder omvattend te vat, as jy dit kan bekostig).

Laastens, gaan dit oor hoe die polis uitbetaal. Sommige polisse betaal in vlakke van erns uit, terwyl ander in baie gevalle van eerste diagnose die hele ding uitbetaal. Daar is natuurlik, weereens, baie fynskrif hier, maar dis byna altyd beter om een te hê wat van die begin af alles uitbetaal.

Maar: reg geraai, dis heelwat duurder. As jy dit egter kan bekostig, gaan daai roete. Soos reeds genoem – jy gaan meer as genoeg dinge hê om oor te stres; dit sal baie help as geld minstens nie een van hulle is nie.

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Daar is natuurlik ander goed ook om in ag te neem – sommige plekke dek net kankers, byvoorbeeld. Sommige plekke dek ook van jou naasbestaandes in sekere gevalle as hulle iets sou oorkom.

Let net daarop dat baie plekke ʼn 14 dae-oorlewingsklousule het. M.a.w. jy moet diagnose met 14 dae oorleef voor hulle sal uitbetaal. Persoonlik dink ek dit is nie regverdig nie – jy betaal immers die premie – maar dit is wat dit is, en wees bewus daarvan.

Soos ek reeds genoem het, hierdie kan nogal kompleks raak. Ek stel baie, baie sterk voor jy gesels met jou makelaar en maak seker jy weet hoe joune funksioneer, minstens in beginsel.

En nee, hierdie gaan nie maak dat die moeilike pad van byvoorbeeld kanker ewe skielik verdwyn nie. Maar dit gaan jou dalk toelaat om oorsee behandeling te kry wat jou lewe red. Of vir jou tyd koop sodat jy behoorlik kan afskeid neem van diegene wat agterbly.

Meer oor die skrywer: Leon-Ben Lamprecht

Leon-Ben is 'n skrywer en finansiële adviseur van Wellington.

Deel van: Rubrieke, Verbruikersake

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.