Die rente vreet steeds my sente

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die repokoers is soos ons hier sit 8,25%, en die primakoers, die koers waarteen banke geld uitleen aan hulle beste kliënte, 11,75%. Dit is die hoogste sedert 2009, in die nadraai van die 2008-finansiële krisis.

As dit ʼn gebou was, het jou oë getraan van die wind en dun lug as jy bo staan en na die kim kyk, so hoog is dit.

Vang maar daai trane op om later jou skottelgoed mee te was, want inflasie het ook goed geklim die laaste ruk, en alhoewel daar tekens van verligting is, sit dit ons almal se sakke onder druk.

Die ding met rente, natuurlik, is dat wat jy sien afhang van waar jy staan. Vir die van ons met ʼn verband- of ander skuld, kou hy ons soos die staffie langsaan jou laaitie se krieketbal doen.

As jy rente trek op beleggings – gestel jy is afgetree of so – lag jy bank toe.

Om te kla of skryf hieroor is ook niks nuuts nie: sowel die Bybel as Kerkorrel het hulle al hieroor uitgespreek, en almal tussen-in. Ek sou selfs raai daar het iemand op ʼn klipmuur in Jerusalem in Dawid se dae as koning daaroor gekla.

In hierdie skrywe gaan ek ʼn oorsig gee oor wat rente is, hoekom dit styg, en wat jy kan doen – vir beide kante van die rente-wipplank. Onthou, gaan sien jou adviseur vir spesifieke advies.

(Nota: ek het al voorheen hieroor geskryf. Jy kan daar gaan verder lees vir nog agtergrond, maar let daarop dis agter ʼn betaalmuur.)

Wat is rente?

In wese is rente die betaling wat iemand ontvang wat geld uitleen aan iemand anders. Of, van die anderkant beskou, is dit die koste wat jy betaal om geld te kan leen.

Aan die een kant: as jy ʼn kontantdeposito by die bank het, verdien jy hopelik rente daarop, maar aan die anderkant, en soos reeds genoem, as jy skuld het, betaal jy dit.

Dink so daaraan – jy werk nie omdat jy van jou baas se sonnige persoonlikheid hou nie, jy doen dit omdat jy moet eet en leef.

Bates – aandele, eiendom, so aan – werk ook vir inkomstes. Rente is die inkomste wat kontant en effekte genereer. Ek gaan nie in vreeslike detail oor bateklasse hier ingaan nie – dis ʼn skrywe vir ʼn ander dag en kan nogal tegnies raak.

Soms praat mense van rente, maar verwys eintlik na hulle opbrengskoers. Dit is in die geval van byvoorbeeld ʼn effektetrust by ʼn beleggingshuis. Daai onderliggende fondse genereer verskillende tipes opbrengs, wat in die breë sommer rente genoem word.

Juig of huil?

Of jy by die hoër koerse gaan baat of nie, soos bo genoem, gaan afhang van waar jy staan.

As jy dit betaal, braai jy seker al polonie in plaas van sirloin. As jy dit ontvang, is jy dalk so gelukkig dat jy nou Dom Perignon in plaas van bokswyn drink. (Ek oordryf natuurlik vir dramatiese effek hier).

Vir mense met skuld – huis, kar, kredietkaart – hoef ek nie te vertel wat die impak is nie. Jy sal dit aan die stygende premies op jou Sandero voel. Afhangend van jou huisverband se bedrag en die koers wat jy destyds gekry het, sal dit waarskynlik ʼn paar duisend meer wees.

Aan die anderkant van die munt: as jy jou inkomstes trek uit rentedraende beleggings soos minstens ʼn deel vir meeste afgetredenes, dan sou jy gesien het hoe jou inkomstes klim die laaste jaar of wat.

Natuurlik hoe langer die siklus van stygende koerse, hoe groter die impak, beide kante toe. Rente trek rente, dit is wat ons bedoel as ons praat van saamgestelde rente.

Hoekom styg dit?

Daar is al etlike boeke geskryf oor hierdie onderwerp, deur mense baie slimmer as ek en met baie grade in ekonomie. Ek gaan probeer om eeue se teorie in bondige terme saam te vat, maar weet dis meer kompleks as dit.

Rentekoers in Suid-Afrika word vir alle praktiese doeleindes vasgestel deur die Reserwebank. Dit doen hulle deur die uitleenkoers vas te stel – die repokoers. Dis hierdie koers waarteen hulle geld aan banke leen. As die repokoers opgaan, gaan die banke se primakoers op, en omgekeerd.

Die Reserwebank doen ʼn paar dinge, insluitend die regulering van finansiële instellings, die bestuur van goudreserwes en die uitreik en vernietig van note en munte. Hulle oorhoofse rol is egter om finansiële stabiliteit in Suid-Afrika te beskerm.

Ek oorvereenvoudig nou totaal en al, maar hoër rentekoers bring (gewoonlik) inflasie af. Die meganisme wat dit bepaal is tegnies en diep.

Hierdie ruimte is nie die plek vir vreeslike tegniese verduidelikings nie. In my ervaring dop mense se oë om as jy in te veel detail ingaan, behalwe die wat belangstel.

Amper soos my oë hardop en pad-af rol as president Cyril ons vertel hoe die regering nou regtig iets gaan doen aan die een of ander probleem wat in die eerste plek deur hulle geskep is.

Om inflasie onder beheer te hou, is ʼn bitter belangrike hoeksteen van finansiële stabiliteit. Vra maar ons bure in Zim wat gebeur as hy op hol gaan.

Wanneer inflasie dus galop soos hy nou doen, verhoog die Reserwebank die koerse om hom te laat stadiger hardloop. In hierdie analogie sou dit wees soos om ʼn groter jokkie sommer so in die ry op sy rug te sit.

So wat doen jy daaraan?

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

As jy dit trek, geniet die inkomstestyging. Probeer om nie alles te gebruik nie – wees meer soos die mier as die sprinkaan hier. Onthou, die hoër koerse gaan nie vir ewig hou nie.

As jy dit betaal, gaan jy nog ʼn rukkie aftjop. Prioritiseer jou duurste skuld, en betaal dit so vinnig as moontlik af. Kredietkaarte is byvoorbeeld veel duurder as jou huisverband. Of: teiken jou kleinste skuld, en probeer dit so vinnig moontlik afbetaal, en beweeg dan aan na die volgende.

Dit maak dalk ook sin om sekere skulde te konsolideer – gaan praat jou bank hieroor. As dit regtig knyp en jy sien hier kom moeilikheid en jy gaan dit nie kan bybring nie, gaan sien ook jou bank. Nou is nie die tyd om jou trots voor te hou nie.

Probeer ook om jou kostes te sny, soos jy kan. As jy op die punt staan om huis of kar te koop, dink mooi oor wat jy koop. Daar is nie enigheid onder ekonome of die verhogings verby is nie; beplan dus dat dit nie is nie en werk moontlike stygings in jou begroting in.

Laastens, en ook ietsie tegnies, en vir ʼn volgende rubriek, maar as jy afgetree is in ʼn ILLA-produk, en jou inkomste sukkel, kan jy oorweeg om te skuif na ʼn lyfrente, dalk selfs gedeeltelik. Met die koerse so hoog soos nou, behoort jou annuïteitsinkomstes hoër te wees as andersins.

Hier is ʼn rubriek daaroor, maar baie belangrik: gaan sien asseblief iemand wat na jou spesifieke situasie kan kyk en jou kan adviseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.