Dink so oor aansteeklike siektes

Foto ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Deur dr. Wilhelm von Ludwig

Prinses Diana het in 1993 opspraak gewek toe sy melaatses kaalhand aangeraak het. Die foto’s van die koninklike kontak met die gevreesde siekte het vinniger as fopnuus deur die wêreld versprei. En alhoewel ʼn messiaanse tema in almal se gedagtes was, het die tannies voor die TV’s tog gewonder: Gaan sy nie aansteek nie?

In die volksmond is aansteeklikheid sinoniem met gevaar. Die wit oorpakke wat herinner aan ruimtewesens word gereeld gesien tydens Ebola-epidemies en meer onlangs tydens die Covid-pandemie. En alhoewel ʼn verkoue net so aansteeklik is soos Ebola, word eersgenoemde nie met oorpakke of deur sanitoriums hanteer nie.

Die mees aansteeklikste siekte wat ons ken is masels. Hierdie bielie breek alle aansteek-rekords met ʼn aansteektelling van 18. Dit beteken dat in ʼn bevolking wat glad nie ingeënt is nie, sal elke persoon met die siekte gemiddeld 18 ander aansteek. Soos wat siektes aanpas en verander, moet hulle egter dodelikheid prysgee om aansteeklikheid te bevorder. Dooie mense versprei immers nie maklik siektes nie. So ons sien dat elke nuwe variant van ʼn virus gewoonlik meer aansteeklik en terselfdertyd minder dodelik is. Covid is sover ʼn goeie voorbeeld, met elke variant wat in lyn hiermee verander het.

Prinses Diana het verdere opspraak gewek toe sy haar twee seuns na ʼn gewone skool toe gestuur het. Die koninklike geneesheer het seker bontgestaan met die kaleidoskoop van kindersiektes wat klein William en Harry huis toe gebring het.

Prinses Diana by die Premanda-hospitaal vir melaatses in Indië in 1992. (Foto: The best of Princess Diana/Facebook)

Blaam word gereeld gelê voor die deur van ouers wat hul kinders siek skool toe stuur. Hulle gaan immers die hele speelgroepie aansteek! En tog is dit dikwels die kinders wat nog geen simptome wys nie, wat die aansteeklikste is. Verkoues en griepe is die eerste paar dae van die siekteverloop die mees aansteeklikste. En alhoewel ons teen dié tyd weet dat virusse en bakterieë enige plek kan voorkom, hou ons daarvan om ʼn verskeidenheid ander faktore die skuld te gee: die weer, die uitlanders, die anti-vaxxers, groot farma, die regering, China, Zimbabwe, en natuurlik die Nuwe Wêreldorde.

Maar die aansteeklikheid van hierdie infeksies is wat hulle so deksels lastig maak. Kieme skroom nie om jou naaste familielede in biologiese wapens te omskep nie. Of om die braai van laasweek in ʼn verspreidingsgeleentheid te omskep nie. Virusse koop ook nie hulle inkopies net by die goedkoper supermarkte nie, en geniet natuurlik om so dan en wan te gaan fliek ook.

En as jy teen hierdie tyd voel jy wil eerder gaan handewas, is jy welkom. Ek wag vir jou.

Dinge raak nog meer kompleks as jy begin onderskei tussen die kiem en die siekte wat dit veroorsaak. Tuberkulose van die longe is baie aansteeklik, maar tuberkulose van ʼn knie (ja, glo dit of nie, dit is ook ʼn siekte) is nie aansteeklik nie, alhoewel dit deur dieselfde gogga veroorsaak word. Dieselfde gogga kan dikwels keelinfeksie, oorinfeksie en longontsteking veroorsaak. Gevolglik is Charles se infeksie aansteeklik, maar hy gaan nie noodwendig die ander ooms van die Britse Hoërhuis opsaal met dieselfde siekte nie.

Dr Wilhelm von Ludwig (Foto verskaf)

As ons wil hou by ons tema, is antibiotika die Dodi Al-Fayed van die bespreking. Dit maak dinge net meer gekompliseerd en ongemaklik. Want sien, tot en met 50% van alle antibiotikas wat voorgeskryf word (veral in die wintermaande), is onnodig omdat dit vir virale siektes voorgeskryf word. Griep is ʼn virale siekte. Verkoue is ʼn virale siekte. Al jou sogenaamde kindersiektes is viraal van aard. So ook meeste middeloorontstekings en gevalle van bronchitis. In elkeen van hierdie siektes het antibiotika geen impak op aansteeklikheid of verloop van die siekte nie. As antibiotika wel aangedui is, is die omkeer dikwels dramaties. Melaatsheid is byvoorbeeld glad nie meer aansteeklik na 48 uur nie. Wat ons terugbring by die kwelvraag van die prinses se kontak met die siekte. Die pasiënte by Ananbadan was reeds op medikasie en gevolglik nie meer aansteeklik nie. Diana het dit egter klokhelder tuisgebring met die feit dat sy nie slegs daar was nie, maar op die pasiënte se beddens gesit het en hulle hande vasgehou het terwyl sy met hulle gepraat het.

Daar is verskeie ander aspekte van aansteeklikheid wat ek nie eers aangeraak het nie. Soos draerstatus, virale lading en inentings, maar ek is bevrees dit mag dalk die Camilla, Fergie en Megan van die gesprek wees…

  • Wilhelm von Ludwig is ʼn algemene praktisyn wat in Polokwane praktiseer. Volg hom op TikTok of Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Verseker, geen mens kan van ander af wegbly om n infeksie te verhoed nie, sou iemand dit wel doen verminder sy immuun stelsel so dat hy weldra van n gewone verkoue sterf. Ordentlike voedsel voorsien wat die liggaam nodig het vir n sterk immuun stelsel.

OW ·

Baie interessante skrywe.Antibiotika kan nie die aansteeklikheid van ‘n virale infeksie keer nie,maar word wel gebruik om sekondêre bakteriële infeksie te keer,wat gewoonlik kop uitsteek as dit nie behandel word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.