Deur dr. Wilhelm von Ludwig
Ek en my kinders is gaande oor die reeks wetenskapfiksierolprente, Star Wars. Met die nuwe flieks is die oorspronklike manne en vroue baie oud en ten spyte van die grimering, is hulle redelik beplooi. Wat my wel opgeval het, is dat die helde se hare steeds welig en viriel op hulle kopvelle pronk.
Haarverlies is amper so kompleks soos die Star Wars-heelal. Name van die verskillende oorsake klink so eksoties soos dié van Obi-Wan se vriende. Pili torti, Marie-Unna en Telogen effluvium om maar net ʼn paar te noem.
ʼn Verdere ding wat die saak bemoeilik, is dat hare stadig groei. Vrek stadig. Teen ʼn slakkepas van ʼn bietjie meer as 1 cm per maand. Gevolglik gaan enige verandering in die hare se groei lank neem om na vore te kom. Stres kan ʼn baie groot uitwerking hê: Van ʼn aflegging by die werk, tot ʼn hospitalisasie en selfs ʼn inbraak. Al hierdie dinge is egter nie dadelik sigbaar in hare-jare nie. Die lokke kan selfs drie tot ses maande later tussen jou vingers of op jou kopkussing verskyn.
As daar ʼn behandelbare oorsaak is, gaan die medikasie ook dieselfde tydperk neem om te begin werk. Ongelukkig het die moderne pas ons lui gemaak om te wag.
Oorsake kan as lokaal of algemeen geklassifiseer word. Die area van haarverlies kan ʼn lokale probleem hê, soos in die geval van ʼn kopvelinfeksie. Dan kry ʼn mens algemene siektes wat die hele liggaam se beharing affekteer, soos outo-immuunsiektes of skildklierprobleme.
Behalwe vir die tekort aan hare, dink pasiënte dikwels hulle het ander tekorte ook. Hulle vergryp hulself aan vitamines wat maklik die situasie kan vererger. Vitamiene A-tekort is, byvoorbeeld, ʼn bekende oorsaak van haarverlies, maar ʼn oormaat daarvan kan dieselfde tot gevolg hê. Sommige dink weer ʼn hormoon-wanbalans is die sondebok, oftewel die blesbok (jammer ek kon myself nie keer nie). Hulle trek bloed met die hoop dat die laboratorium ʼn antwoord swart op wit sal uitspoeg, maar ongelukkig leef ons nog nie in die 24ste eeu met al die fênsie mediesetoerusting van Star Trek se Enterprise-ruimtetuig nie.
Selfs al het ons, sou dit in elk geval nie gehelp het nie aangesien kaptein Jean-Luc Picard van laasgenoemde ruimtetuig, steeds kaalkop is. Net so terloops – ʼn mens moet nogal hare op jou tande hê om Star Wars- en Star Trek-metafore so te meng, aangesien daar diep onenigheid tussen die twee groepe se aanhangers bestaan.
Die meeste van ons gaan egter sukkel met androgene haarverlies. Dis nou die gewone blesword van ouderdom wat beide mans en vroue ervaar. Behalwe vir haar-oorplantings en ander kosmetiese toertjies, lyk dit nie of ons vinnig ʼn kuur vir hierdie toestand gaan kry nie.
As jy op hierdie punt van die artikel met jou hande in jou hare wil sit, is jy nie alleen nie. Ek verwys gewoonlik teen die spoed van lig as ek hierdie klagte die hoof moet bied. Ongelukkig maak die oënskynlike hopeloosheid van haarverlies die deur wawyd oop vir allerhande kwaksalwers en smouse.
Daar is verskeie middels en roompies op die rak wat vir jou belowe dat hulle jou jeugdige lokke weer sal terugbring.
Slegs twee middels is egter in studies bewys om androgene haarverlies teen te werk, naamlik minoxidil en fenasteried. Die probleem met hierdie behandelings, is dat ʼn mens dit elke dag moet gebruik en daaglikse pille en room was nog nooit ons aardbewoners se forte nie.
Daar is dalk ʼn rede hoekom die helde van Star Wars se hare nie uitgeval het nie. Lae dosis laserterapie is in talle studies bewys om effektief te wees om haarverlies te beveg. Die VSA se medisyneowerheid, die FDA, het ook die gesogte groen lig gegee aan hierdie manier van behandeling.
Die groot voordeel van laserbehandeling is dat jy dit in jou daaglikse roetine kan inkorporeer. ʼn Mens kry byvoorbeeld laserkamme wat jou soos ʼn Jedi-haarkapper in die oggend laat lyk. Laser-Alicebands is ook beskikbaar en dan is daar ʼn hoed wat aan die buitekant soos ʼn sportspet lyk, maar binne-in soos ʼn laserdisko van die vroeë negentigs.
Wees egter gewaarsku: As jy dit oordoen, kan jy dalk opeindig soos Chewbacca.
Hehe! Jou skrystyl BAIE geniet, Wilhelm! Ja nee, om vrede te maak met hierdie haarverlies moet jy, ironies genoeg, hare oppi tanne hê!
As kind het ek gewens ek word gou bles, bloot omdat hare was en kam vir my ‘n irriterende noodsaaklikheid was en omdat ons te veel slae gekry het oor hare wat aan die kraag raak en lang ‘sidies’. Nou is ek net grys, en pes nog steeds die tydrowende was en kam ????
Nou lekker gelag!!! Baie goed geskryf. Dankie :-)