Hoe bou ’n mens jou immuniteit?

Eet gesond. Te veel suiker belemmer immuunstelselselle wat bakterieë beveg. (Foto: iStock)

Deur dr. Wilhelm von Ludwig

“Hoe kan ek keer dat my kind die hele tyd siek word?” vra die ma terwyl haar kleintjie spartel op haar skoot. Dit is die derde keer in twee weke dat ek dié kleuter met die ondeunde oë sien.

Terwyl ek my antwoord formuleer, vuur sy nog een af: “Hoe kan ons sy immuunstelsel versterk?” En nog een: “Watter aanvulling stel Dok voor?”

Al hierdie vrae dans rondom die veronderstelling dat aanvullings (en veral vitamines) die ruggraat van ʼn mens se immuunstelsel is.

Ek het verlede maand die voorreg gehad om die 11de Suid-Afrikaanse Vigs-kongres in Durban by te woon. Omdat MIV ʼn immuunonderdrukkende siekte is, was daar verskeie lesings oor die werkinge van die menslike immuunstelsel. Die komplekse interaksies tussen selle, antiliggame en antigene is genoeg om enige mens in verwondering te laat. Elkeen van ons is voorwaar ʼn gedugte biologiese oorlogsmasjien.

Maar met die winter wat rondom ons knyp, is vitamines die groot, wit olifant in die dokter se spreekkamer.

Alhoewel vitamines eers in 1913 ontdek is, is die kosse waarin hulle voorkom lank terug gebruik om sekere siektes teen te werk. Skeurbuik is van ʼn vroeë tyd reeds herken as ʼn tekort aan vars vrugte (vitamien C) en dokters in antieke Egipte het lewer (vitamien A) voorgeskryf vir nagblindheid. Die laaste vitamines is in die veertigerjare ontdek, en terselfdertyd het bemarking van die molekules begin.

Wetenskaplike studies is deur maatskappye aan die publiek voorgehou as bewys dat elke kwaal denkbaar toegeskryf kan word aan ʼn vitamien-tekort. Dié wonder-molekules is toegevoeg tot voedsel en ook as losstaande aanvullings verkoop. Vir die eerste keer in die mens se geskiedenis is dit nou moontlik om aan hipervitaminose (ʼn oormaat van vitamine) te ly!

(Foto: iStock)

Die idee dat vitamines ʼn mens se immuunstelsel bou, is so in geprogrammeer in die publiek se DNS, dat enige dogma in die teenoorgestelde rigting dadelik as kettery bestempel word. Gevolglik word ek gereeld ongelowig aangekyk as ek sê dat vitamines nie die antwoord is vir ʼn sterk immuunstelsel nie.

Onder normale omstandighede word ʼn mens se immuniteit opgebou deur blootstelling. Net soos spiere deur oefening versterk word, word die liggaam se weerstand as’t ware “geoefen” deur blootstelling aan verskeie siektes. ʼn Praktiese voorbeeld hiervan is dokters, wat daagliks aan baie siektes blootgestel word en gevolglik nie maklik siek raak van verkoues of griep nie. Kinders kry ook meer infeksies as volwassenes, aangesien elke siekte wat hulle immuunstelsel sien, splinternuut is. Inentings is ʼn kunsmatige manier om blootstelling te bewerkstellig.

Toegegee, vitamines is belangrik vir ʼn gesonde immuniteit, maar om slegs te fokus op aanvullings, is soos om jou motorenjin vol olie te hou terwyl die res agterweë gelaat word. ʼn Goeie gebalanseerde dieet bevat ook koolhidrate, proteïene en vette, wat almal boustene is van die witbloedselle en antiliggame wat ʼn mens teen winterpes beskerm. Genoegsame slaap is in vele studies bewys om by te dra tot ʼn wakker weerstand. Gereelde oefening is ook op die lange duur bevorderend tot die werking van ʼn mens se immuniteit.

Op pad terug van die Vigs-kongres af, het ek iets gesien wat verband hou met die idee dat vitamines die alfa en omega-3 van ʼn gesonde immuniteit is. ʼn Paar kilometer noord van Durban, het die Zoeloe-hutte dikwels ʼn motorband of twee op hulle dakke. Een van die redes hiervoor, is baie prakties – dit hou immers die sinkplate in hul plek.

Dr. Wilhelm von Ludwig (Foto verskaf)

Maar die ander rede staan wydsbeen tussen wetenskap en bygeloof – die storie loop dat die rubber in die bande die hut teen weerlig beskerm. Dikwels word die meeste bande gevind op die dak van ʼn hut wat onder of naby ʼn kragmas opgerig is.

Die kragmaste trek natuurlik die meeste weerlig. Met meer motorbande op die dak kan die inwoner van die hut rustig agteroor sit en wag vir die swaar weer. Ons weet egter dat die rubber in die bande geen beskerming bied vir die hut nie. Dit is die groot kragmas wat as ʼn weerliggeleier optree langs die hut.

Ironies genoeg, is dieselfde oorsaak van die probleem, ook die oplossing. Elektrisiteit word keer op keer weggelei deur die kragmas. Net soos wat die herhaaldelike blootstelling aan virusse, ironies genoeg, die pad tot ʼn sterk immuniteit is.
En die bande op die dak?

Dit laat die eienaar (en die ma) lekker slaap.

  • Wilhelm von Ludwig is ʼn algemene praktisyn wat in Polokwane praktiseer. Volg hom op TikTok of Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wicus ·

Wow, wat ‘n nugter manier van verduideliking van ‘n logiese saak, dankie. Vitamiene aanvullings maak net die visse vet en kan natuurlik na lewer- en nierkwale lei.

Charles ·

Altyd gewonder hoekom die seevaarders van ouds skeurbuik gekry het na maande se seevaart sonder vars groente, maar deesdae se “NET VLEIS” etende mense wat letterlik nét vleis eet kry nie skeurbuik nie. En dit is na jare se net vleis eet.

Johan ·

Ek (80) en my vrou (77) is blakend gesond en ons kry selde verkoue en ken nie so iets soos griep nie. Ons gebruik geen medikasie vir kroniese siektes nie. Vir donkiejare geniet ons elke dag ‘n stewige ontbyt van ‘n verskeidenheid vars vrugte. Ons hou van groente en is versigtig vir te veel stysel en suiker. Advertensies vir gewrigspyne en hope aanvullers, val op dowe ore en sakke geld wat ons bespaar, stel ons in staat om biltong met lekker dik vet te koop om onsself te bederf.

Suzette ·

Eet natuurlike kosse, die wat sonder preserveermiddels en kleursels is. Daardie goed kan nie goed vir ‘n mens wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.