Kerke in die bokskryt

Foto: Bogdan Yukhymchuk/Unsplash

Deur David Muller

Ek hou nie daarvan om met mense te stry of baklei nie. Ek hou van vrede. Wanneer dit egter noodsaaklik is om my stem so bietjie dik te maak, wil ek dit in Afrikaans doen. Ek kan nie in Engels kwaad wees nie. Die waarheid is, my taal laat my veilig voel. Dit maak my mens. As ek buite die gemak van my eie taal móét beweeg, gebeur dit buite wie ek regtig is. Of kan wees. Of wíl wees.

Behalwe dat ek myself in Afrikaans uitdruk, doen ek dit ook op ʼn spesifieke manier – die Afrikaner manier. Dit is my kultuur. In ons land beleef ons ʼn skatkis vol kulturele diversiteit. Hierdie diversiteit is iets wat Suid-Afrika, op ʼn positiewe wyse, van baie ander lande onderskei. Dit is ook waar dat hierdie diversiteit ʼn paar uitdagings aan die burgers van Suid-Afrika bied.

Die interessante is dat ons op ʼn natuurlike, amper onwetende manier, weerstand bied teen hierdie soort uitdagings. Ons doen dit deur ʼn proses wat ek noem “versoortiging” – die groepering van, en uitsluiting deur ons dam se eie ganse. Ons trek laer. ʼn Afrikaanse laer vir wit Afrikaners. ʼn Afrikaanse laer vir bruin Afrikaners. ʼn Xhosa-laer van Xhosas. So kan ons aangaan.

Hierdie laers word gekonstitueer deur twee bepalers: taal en kultuur. Maar daar is ʼn derde bepaler, naamlik godsdiens.

Hierdie bepaler skep ongelukkig, selfs tussen die ganse van dieselfde dam, baie probleme, seer en frustrasie. Die hartseer realiteit is dat godsdiens oor die algemeen op hierdie stadium begin modder trap – wêreldwyd. Vir baie lank was die gonswoord “postkerklikheid”, maar ek vermoed ons trek nou al by “post-Christelikheid”.

Daar is soveel polemiek in die kerk, dat duisende mense in Suid-Afrika in die afgelope paar jaar die kerk verlaat het. Sosiale media en boekwinkels is vol skrywes van mense wat hul seer, frustrasie en agterdog oor die kerk deel. Dit is ontstellend om die minste te sê. Tog sit ek nie op die kantlyn nie. Ook ék het my frustrasies en bekommernisse oor die kerk.

Hierdie bekommernis dryf mens tot kritiese vrae en denke oor geloof, godsdiens en die kerk. Een van my grootste vrae is: Hoekom het die kerk ʼn bokskryt geword? Hoekom is dit so dat diegene in die bokskryt dieselfde taal praat en dieselfde kultuur het? Is hulle nie juis veronderstel om saam te staan en ook hier laer te trek nie?

Ek herinner myself aan geloofservarings wat ek al gehad het tussen mense wat nie soos ek is nie… ganse van ʼn ander dam. Dit was ervarings van eensgesindheid ten spyte van diversiteit. Ek het al in Bangladesj ʼn lof- en aanbiddingsgeleentheid bygewoon waar ek nie kop of stert kon uitmaak van wat gesing word nie, maar dit het nie saak gemaak nie – ons het almal saamgestem. In Worcester het ek ʼn soortgelyke byeenkoms by YWAM (Youth With A Mission) bygewoon. Daar was vreemde mense van vreemde lande, wat op vreemde maniere gepraat het, maar die eenheid was onmisbaar. Om die waarheid te sê, dit was goddelik.

David Muller. Foto: Verskaf.

Hoekom ervaar ʼn mens juis die gevoel van eenheid in diversiteit? Is dit nie dalk noemenswaardig dat die kerk se wortels, met die uitstorting van die Gees, in diversiteit lê nie?

Hoe sou ons land, gesinne, kerke en ons anders gewees het as godsdiens en geloof nie as ʼn meganisme van laertrek soos taal en kultuur ingespan word nie?

My vermoede is dat kerke aanhoudend sal verklein en al hoe meer oorlewend sal begin funksioneer indien kerke nie uit die laer van eenderse ganse klim, diversiteit soek en dit omarm nie.

Geloof of godsdiens kan nie langer soos taal en kultuur gebruik word om laer te trek nie, tensy dit aanvaarbaar is dat die kerk (as gevolg daarvan) in die bokskryt boer.

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Judge Dredd ·

….eintlik se hy – so tussen die lyne – dat kerke maar moet aanvaar dat selfde geslag seks nie sonde is – dan is ons mos nou meer divers……

Posduif ·

@Db: Miskien moet jy die stuk weer rustig lees. Indien jy niks van waarde daarin gekry het nie, moet jy (en BR) dalk die vraag vra – Waarom? Waarom is daar niks wat met julle praat nie? Het jy/julle al die skrywer se ondervindings gehad by byeenkomste van verskillende tale en kulture en steeds die Goddelike eenheid beleef? Is jy/julle in ‘n kerk? Dalk nie, reeds agv dit wat hy hier probeer tuisbring!! Dink so ‘n bietjie na en doen introspeksie. Indien jy/julle geen waarde in David Muller se bydrae kan vind nie, wel dan is julle of op ‘n baie goeie plek in julle lewe, of op ‘n baie, baie slegte plek. Geluk in die eerste geval en sterkte in die tweede geval. Blessings!!

Suid Afrikaner ·

Ek kry ook nie mooi die kleintjie by die oor nie. Te veel dinge in paar paragrawe maak geen sin nie

Wessel ·

Baie woorde sonder pitkos. Die tragedie van die hededaagse predikers wat geen boodskap het nie.

Frank ·

Die Here se kerk sal nie ten gronde gaan nie, want daar waar Sy Woord suiwer verkondig word, hou Hyself dit in stand. Ja, die kerk gaan algaande harder bene kou soos die wederkoms naderkom, maar KAN NIE tot niet gaan nie. Die duiwel weet sy tyd raak min, so sy aanslae gaan al hoe feller word, spesifiek teen Sy kerk.
En nee David Muller, die Woord gaan nie by die wereld aanpas nie, want hy is onveranderlik (as ek die nering van jou skrywe reg verstaan).

Frans C ·

Die wetenskap het die kerk ingehaal en verbygesteek tov die ontstaan van die heelal en alles wat daarin is.Dit is om die rede dat ‘n jong seun tydens my tydperk as Sondagskoolonderwyser een Sondag gesê het dat hy liewer saam met sy pa (‘n diaken)
sou gaan golf speel as om te luister,na ‘n 6 dae skepping en 6000 jaar oue aarde,wat lynreg bots met dit wat hy op skool leer.

Daar is talle voormalige Christene wat dieselfde paaidjie geloop het.Toe die Katolieke kerk in 2004 ‘n verklaring uitgereik het onder ‘adam-eve-and-evolution’ het die suster kerke van dit weggeskram asof dit melaats is.

Solank ons nie die Bybel hanteer vir wat dit is nl ‘n geloofsboek,waarin die Skepper en Verlosser geopenbaar word nie en nie ‘n wetenskaplike handboek nie sal die probleem nie oorbrug word nie en alhoemeer mense hul rug op die kerk draai.

in 1 Kor 8 lees ‘n mens: “6Ons weet egter dat daar net een God is. Alles het deur Hom ontstaan en ons leef net vir Hom. Daar is ook net een Here, naamlik Jesus Christus. Hy is die instrument waardeur alles gemaak is en aan wie ons ook ons bestaan te danke het. ”

Daar is dus niks wat die mens kan ontdek wat nie sy oorsprong te danke het aan Jesus Christus,dus ook die volke verskeidenheid,wat die mens in sy slimmigheid sou gou wil gelykmaak en mee wegdoen.

Arak ·

Die wetenskap ontdek daagliks dat hulle verkeerd is. Ek was skepties oor die skepping, totdat ek in my 2de jaar ontdek het van rasemiese mengsels, en besef het die konsep dat lewe net spontaan ontstaan het absurd is. Die skepping het my terug gebring na die Skepper. Die probleem met die kerke is, dat hulle probeer het om relevant te bly deur ‘n valse evangelie te verkondig waar hulle die 6 dag skepping uitgegooi het en probeer versoen het met evolusie. As die eerste hoofstuk van die boek dan al in twyfel getrek word deur die mense wat die boek verkondig, hoe moet gewone mens die res aanvaar? Hoe meer ek van die wetenskap ontdek, hoe meer besef ek dat die Bybel, absoluut korrek is. Verder is ek van mening dat enige predikant wat nie Gen 1 glo nie, nie op ‘n kansel hoort nie. Ek voel jammer vir almal wat die leuen glo, ek was een van julle. Die Bybel is korrek.

Wessel ·

Evolusie is niks anders as die godsdiens van die ateiste. Niks te doen met Wetenskap.

Nico K ·

Ek dink nie Kerke in die bokskryt is ‘n nuwe ding nie. As jy jou geskiedenis lees was daar nog altyd groot bakleiery tussen Kerke. En ek dink nie as hulle uit hulle kultuur uitklim gaan dit noodwendig verander nie. Min van die bakleiery tussen Afrikaanse Kerke die afgelope 150 jaar het iets te doen met diversiteit. Ek dink elkeen glo bloot hy is reg. (Wat logies is. Mens gaan nie baklei as jy nie glo jy is reg nie.) Die probleem is die Bybel is dik elke ou lees iets anders daarin. En om mee af te sluit. Ek dink nie jou voorbeeld van Kerkbywoning in Bangladesj is ‘n goeie voorbeeld nie. Ons almal weet van die groot godsdiens onmin in Bangladesj, Pakistan en Indië.

Annamarie Olivier ·

Hoe neem ‘n koerant ‘n besluit om ‘n artikel te plaas?
As dit skok, menings afdruk, of sommer om ‘n gaatjie te vul.
Hierdie is ‘n gaatjie vuller niks meer of minder. David hou aan sing skryf pas jou nie

Wessel ·

Die stryd in die kerke, is tussen Lig en duisternis, tussen hoofsaaklik, Wedergebore kinders van God, en naam christene wat nog nie ‘n ontmoeting met God gehad het nie. Ongelukkig is baie van die naam christene in kerklike strukture. ‘n Mens verstaan dan dat die Bybel nie meer as die Oppergesag erken word, wanneer sekere vraagstukke hanteer word nie.

jennefer ·

Geloof hou ons bymekaar, religie hou ons uitmekaar. Dit word tyd dat die minderheid in die land dit besef.

John ·

?..ja, oom dominee, sit op die kantlyn en sing… dieselfde deuntjie wat die kerk nou sing: Die Vader moet darem begin om te moderniseer en aanpas by menseregte èn die ou garde wat so trek-sing in die agterbanke. Eintlik raak dit nogal lagwekkend, ironies, dat die Groot Kerke altyd smalend na die lekkergelowers verwys het en gehoop het die grootdopers verdrink in die poele … en nou? Wie is nou die voorbokke vir die game-change? Dit gaan nou met die kerke soos met godsdiens in skole. Een beswaarde en weg is die Bybel. Ons wag vir die sirkusse. Miskien mòèt anties ook weer hoede begin dra om uitgeken te word… oy, oy!

Nika ·

Omdat mens die Bybel en Godsdiens wil laat aanpas by die die wêreld en nie anders om hoe dit moet wees nie, elkeen het sy opinie oor hoe dit in n kerk moet wees en dan sit ons almal die pot mis en kyk verby die groter prentjie, ons moet leef en aanbid vir God se wil nie ons eie nie. Daar is ook baie pastore, dominees en kerke wat teen die Woord gaan deur te sê dis okay om homoseksueel te wees, dis okay om te sondig en dis okay om die tempel van God te besoedel, ek kan aangaan oor alles wat daar al in kerke gesê en gedoen is. Tante Sarie is ongelukkig want die lugreëling is te koud, Oom Piet se oë dwaal oor die jong meisies en die ouers is ontsteld, Die dromme is te hard, sangers is vals, ouma dink die dominee se vrou het nie gepaste klere aan vir die kerk diens nie, Die ou jong nooi is nie tevrede dat daar oor losbandigheid gepreek word nie, en so mis ons die boodskaap van die Here en elkeen gaan soek n ander plek van aanbidding of los dit net heeltemal.

Wie het die laaste sê? ·

Een homogene mengsel sonder identiteit, veral ‘n Christelike identiteit is die uiteindelik mikpunt van die Nuwe Wêreld Orde. Alles gelyk – alle gelowe en alle kerke, sodat daar uiteindelik niks meer is om af te breek nie. Die aanslag teen Christene en kerke sal toeneem, ons beleef dit tans in SA.
Die enigste ware eenheid is dié in Christus. Alles anders is tydelik, tydsgebonde, en ondergewig aan mense se nukke, grille en rituele.
God se kinders is in die wêreld en nie vir die wêreld nie. Alles wat anders of divers is, hoef nie omarm te word nie. Dit is ook nie die rol van die kerk om so divers soos die wêreld te wees nie.
Eerder dan afgesonder vir God, as deel van die wêreld.

Seeklong ·

Klim asseblief uit die bokskryt uit, neem jou Bybel (1933-53) vertaling en lees dit. Al die antwoorde wat jy soek is daar.

Pietsnot ·

Die skrywer van hierdie rubriek doen subtiel vir homself bemarking. Sies!

Spook ·

‘n Mens kan enige kant van die munt kies uit die boek van fabels. Oorlog vs vrede, apartheid vs anti-apartheid , gay vs anti-gay, draai jou wang vs oog vir oog en tand vir tand. daarom is daar baie gelowe en binne in dieselfde geloof is ook glad nie eenstemmigheid. Die wetenskap en tegnologie gaan ‘n einde maak aan die skaapkuddes wat sumier geglo het wat die herders verkwansel het vir ruim pakkette vir niksdoen.

Hmm. ·

Dis waar ou Spook. Dis n mens se keuse. Als is.
Die meeste kerk gangers speel godsdiens. Meeste Ds. preek net populistiese “goeie nuus”. Almal wil “perform” dit hou die finansies in orde en dis al wat saakmaak. Kinders van die lewende skepper God, sien die wereld deur n ander bril. Hulle word “doem profete” genoem,
want ongehoorsames will nie Woord aanvaar as suiwer en reg nie. Hulle speel kerk, wil hulle self net al die tyd regverdig. Twak man, LEES wat die woord oor die besondere aangeleenthede se. Veroordeel dit wat mense verkeerd doen, wees lief vir hulle, Hemel Vader sal oordeel. Dis nie maklik om n kind van Skepper God te wees nie. Maar wie volhard……..

Frank ·

Spook ou vrind, glo my groot asb as ek jou waarsku dat indien jy op jou huidige pad volhard, daar eendag ‘n reuse verrassing op jou wag. Elke knie SAL buig en elke tong SAL bely…. Mag God jou Sy lig laat sien.

John Ferreira ·

Miskien, David, moet jy dalk bietjie met die mense is verskillende kerke gaan praat.
Ek weet waar ek die Here dien niemand uit gesluit word nie maar dat mense in die rigting beweeg waar hy gemaklik voel : Sy taal, Sy kultuur.

Anti-brabbeltaal ·

Ek lag. Lanklaas so ‘n onsamehangende en dubbelsinnige spul woorde gelees. Die spul kerke met hul liberale teologie verkondigers is die einste rede waarom hordes mense die kerk verlaat, na die Bybel terugkeer, laer trek en onderling huisgodsdiens beoefen.

Hans ·

As die diversiteit ook hofuitspraak teen bv die NG kerk insluit, net die vraag: gaan daar nuwe vertalings kom waarin bv vrou of man met lewensmaat vervang word?
Ek bly liewer net in my eie laer dan.
Politieke korrektheid word deesdae afgedwing dmv regspraak en daar is nie meer sprake van vryheid van godsdiens en keuse nie. Iewers moet daar opgehou word om waarde grense voortdurend te verander.

Tom ·

Liefde bind alle kinders van God aan mekaar. Daar is ‘n natuurlike band. As daar nie is nie, is daar slegs reëls wat ons aan mekaar kan bind. Lg werk nie.
Georganiseerde godsdiens gebruik lg.
Die Christene in Bangladesj word vervolg. Hulle geloof is opreg en so het hulle liefde vir mekaar.
Georganiseerde godsdiens in al sy vorme is gedoem want hulle sal moet konformeer met die vereistes van ons Grondwet. Almal sal gays ens moet aanvaar. So ook afskaffing van lyfstraf. Vervolging kom vir almal wat glo. En georganiseerde godsdiens sal aan die voorpunt wees in hierdie vervolging.
Huisgemeentes bestaan reeds en almal wat rêrig glo sal so vergader.
En ras, taal sal geen probleem wees nie. So is dit nou reeds al. Liefde is die band van volmaaktheid.

aj ·

Kom ons aanvaar dat “geloof” niks te doen het met “wetenskap” (waarheid) nie. Appels en pere!

Maar prakties gesproke is dit goed vir mense om rondom gedeelde waardes bymekaar te kom.

Almal trek voordeel uit waarde gedrewe en ge-ordende samelewings. Dit is wat ons ‘beskawing’ noem!

Of die kerke en hulle dogma die ‘waarheid’ is, of nie, maak nie baie saak nie.

Wat saak maak is dat dit onlosmaaklik deel uitmaak van ons Westerse kultuur en lewensbeskouing.

Daarom, uit lojaliteit, moet ons die kerke en die geloof ONDERSTEUN! …. nie omdat dit die ‘waarheid’ is nie.

Daarsonder sal ons samelewing in destruktiewe chaos en anargie verval.

Wessel ·

Die Bybel is die bron van waarheid, deur dit te glo, kry jy geloof. Die Waarheid is absoluut en daarsonder is ons bestaan doeloos en leeg.

Hmm ·

aj, Dit wat jy se, is totaal n verdraaing van Die Woord. Se my, wie/wat was eerste, God drie eenheid of die Wetenskap? As jy kerke en geloof ondersteun, en nie n kind van ons Hemelse Koning is nie, wil ek graag he jy moet n bietjie moeite doen om jouself te ondersoek, en dan af te vra waarin glo jy. Ek veroordeel jou nie, dis God se werk, ek het volle empatie met jou. Kom n slag in aanraking met ons Hemel Vaderen bid tot hom. Hy wag vir jou.

Frans C ·

@Arak.
Die eerste skeppingsverhaal is geskryf deur die Joodse bannelinge 586 -539 vC.
Hulle het dit geskryf as teenvoeter teen die Babiloniese skeppingsverhale van baie gode(baie skeppers) wat dikwels instryd met mekaar is.
In teenstelling met dit was hulle van die eerste of die eerste wat gepostuleer het.Een oorsaak een gevolg. Een Skepper(een oorsaak) een heelal ( een gevolg),wat dan ook direk in lyn is met dit wat Paulus in die nuwe testament opskrif stel.

Hulle was ook fyn waarnemers en trek dan ‘n vergelyk tussen die koning wat sy lafenis
in die tuin soek.Hierdie tuine is onderhou deur mense afkomstig uit gehuggies rondom die paleis en stad. As hul droogmaak word hul verban en gestraf.

Netso besoek God die mens in die paradys waar hy ook sekere voorwaardes en verbod aan hul gestel het.Verbreek dit en jy is uit.Ons weet uit die wetenskap dat dag en nag
en seisoene ‘n gevolg is van die omwenteling van ons planeet en reis om die son.
Neem die son,maan en sterre weg en al wentel die aarde styd om sy as,is dit stikdonker
en is lewe soos ons dit ken onmoontlik.

Die son,maan en sterre maak eers hul verskyning op die 4de dag.Daar uit weet ons dat
ons met iets ander as ‘n 24 uur dag en 6 dae skepping te doen het.Genesis openbaar dus die Skepper (die Wie) en nie die hoe nie,dit lê in die veld van die wetenskap.

Frank ·

Frans C, die kort antwoord is dat die Woord wel deur mense geskryf is maar dit was geinspireer deur die Heilige Gees. Daarom is die HELE Woord, God se Woord. Eenvoudig soos dit. Los tog al die fancy verklarings wanneer God se verbongenheid ter sprake kom. Hy openbaar Hom soveel soos wat ons vir ons saligheid nodig het, niks minder nie, niks meer nie.

Hmm ·

Hallo Henk, Wat is fout daarmee om n teoloog te wees. Ek is nie een nie, maar ek bestudeer al 67 jaar lank die Bybel, Frans praat die waarheid, maar vir sommiges maak die waarheid bitter seer.
Wees n man, lees God se Woord en vertel ander daarvan. Dis jou eerste tree tot saligmaking. En sien hoe Hemel Vader jou seen. Sterkte.

Frans C ·

Die antieke mense het oor meer kennis en wysheid beskik as wat die moderne mens wil toegee.Vir hulle was nag (tydperk van donker) en dag (tydperk van lig) natuurverskynsels en was beide eenhede.
Uit Genesis weet ons dit was eers donker (nag) voordat die Skepper lig (dag) geskep het
op die 4de dag,deur die son (dag) en maan en sterre ligte in nag.

Nag het dus voor dag gekom,daarom as die son ondergaan ,begin die nuwe dag en nie om middernag soos die mens die natuurverskynsel opgedeel het,deur een deel van die nag aan die ou dag en een deel aan die nuwe dag toe te deel.

Drikus Kotze ·

Die eenheid van die kerk kan nie hier op aarde letterlik gesien word nie. Eers eendag in die hemel. Daar is baie valse kerke, moenie hul tel onder ware kerke en dit wil sien as eenheid. Mat. 10:34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.