Ons Franse kasteel: Om die lewe mooi te tooi

Deur Sunita McDonald

Die lewe is opnuut mooi in Frankryk, of soos die Franse graag sê: la vie est belle!

Restaurant-terrasse het weer lewe met gesellige groepies mense van ses of minder. Die koffiewinkels se kleurvolle straattafeltjies word beset deur klante wat gretig aan koppies kafeïen teug.

Montréjeau se Maandag-mark is weer ’n mallemoes van mense wat groente, plaaslike heuning en plante kom koop. Die vrugtehandelaar deel gulhartig rooi kersies uit en die kinders peusel waarderend aan die pasella vrugte. Die lug is soel en warm; en gevul met die gedruis van stemme waar daar voorheen vir weke net stilte geheers het.

Die stortvloed van positiwiteit ná ’n lang emosionele droogte is aansteeklik. Ons het self die bouwerk by die château agtergelaat vir ’n paar dae, vergeet van al die uitdagings wat ons in die gesig staar en net die atmosfeer van die Franse platteland ingedrink. Dit was perfekte tydsberekening vir welverdiende ontspanning aangesien dit ook verjaarsdagmaand vir al drie kinders in ons huis was.

Vir my oudste seun se verjaarsdag het ons ’n staproete by Foix aangepak. Die steil pad teen Les Terrasses du Pech uit bied ’n asemrowende uitsig oor die stad en sy imposante kasteel. Die kasteel se storie strek terug na die Middeleeue en volgens inligting by die museum staan die kasteel sedert die jaar 1000. Dit is byna ondenkbaar hoe oud hierdie geboue is, maar die sonderlinge stad verleen verskeie pragtige hoekies waar ’n mens die feite kan bepeins. ’n Koppie koffie en verjaarsdagkoek in die skadu van soveel geskiedenis het die dag perfek afgerond.

Vroeër in Mei het ons drie verskillende strande besoek vir my dogtertjie se verjaarsdag. My jongste seuntjie wou ook graag weer see toe vir sy verjaarsdag. Ons het Uhabia toe gegaan met sy pragtige strand waar die seemeer en die Atlantiese oseaan mekaar omhels. Later daardie middag het ons verder gaan ontdek en op die rotse by Bidart geklouter. My seuntjie het sy sewe kersies uitgeblaas en ons het koek geëet op die groot rotse terwyl die son laer in die weste begin hang het. Met die nuwe aandklokreël van negeuur kon ons die dag ietwat langer geniet as met my dogtertjie se verjaarsdag toe die spertyd seweuur was. Binnekort word die aandklokreël weer aangepas na elfuur vir laat someraande.

Dit was nie net verjaarsdagmaand nie, maar ook ons huweliksherdenking aan die einde van Mei. My man en die kinders het die draaisirkel voor die château in ’n sprokiesmooi “restaurant” omskep vir die aand, met ’n gazebo, ou château-vensters, liggies en kerse.

My man het sommer die biefstuk in ons ou kruiwa gebraai. Die chef se kos was magnifique en ’n bottel Franse sjampanje het dit goed gekomplementeer.

Ek het ’n koek gebak vir nagereg en die kersies het, onder meer, uit kameelperd-, sebra- en olifantfigure bestaan ter herinnering aan die pragtige Bosveld waar ons 10 jaar gelede getroud is. ’n Enkele Barberton daisy (dieselfde blom wat in die tafelruikers by ons troue gepryk het), het die koek afgerond.

Die werk het egter steeds gewag en ons moes ten einde laaste van koek en sjampanje vergeet en weer aandag aan die château se behoeftes gee. Ons het uiteindelik ’n ry-en-sny-grassnyer gekoop. Dié ou grassnyer word liefgehê vir ’n tweede maal, maar dien sy doel nadat ons hom by ’n Franse oom gekoop het.

Ek geniet dit gate uit om met die oranje gevaarte oor die grasperk te jaag en die kinders het reeds aansoek gedoen vir leerlinglisensies om my taak oor te neem. Ek beskou dit egter nie as werk nie, eerder as pret om die masjien rond te ry in die son en verkies dit bo ander vervelige take.

Een van daardie vervelige take is die installasie van die vloerbalke. Dit gaan pynlik stadig en ons wag ook steeds vir die nuwe vloerplanke wat bo-op gelê moet word. Frankryk beleef tans ’n tekort aan hout en ander boumateriaal. Baie van die plaaslike hout is na Amerika uitgevoer. Op ons Facebook-groep het die Amerikaners egter genoem dat hulle daar ook steeds ’n tekort ervaar. Pryse is belaglik duur en baie mense moes hul bouwerk stop of restourasieprojekte uitstel. Ons het ten minste die nuwe houtraamvensters ontvang wat ons vroeër die jaar bestel het. Die man by die saagmeule het ons verseker dat die vloerplanke ook binnekort gereed sal wees. Ons wag in spanning.

Die kinders se badkamer is amper klaar. Ons het die stort begin teël en ek het die pote van die pootjiesbad geskuur en geverf. Ek wik en weeg nog wat die finale kleur moet wees. Ek hou van die silwer, maar ek neig na die gryssilwer kleur wat ietwat meer antiek lyk. Sodra ons ’n finale besluit geneem het, sal ons die pootjies terugskroef en die bad in sy regmatige plek plaas. Daarna is dit hopelik net ’n paar dae om die finale afronding te doen.

Ek het ook ’n lang pad aangedurf hierdie maand – byna ’n Pretoria-na-Kaapstad ondervinding! Ek en my drie kinders het vanaf die kasteel tot in Engeland gery. Dit was ’n lang reis en dit was vreemd om ná meer as ’n jaar weer in Engeland te wees. Ons moes vir tien dae in kwarantyn bly, wat die tydperk weg van die château af soveel langer maak. Ek hoop om binne die volgende paar weke weer terug te wees in Frankryk, sodra ek alle administrasie in Engeland afgehandel het. Andrew hou dinge aan die gang by die château onder die wakende oog van Belle, ons sewe maande oue viervoetige kind en die vyf kattekinders.

Ek het onlangs ’n paar foto’s met ons sosialemediavolgelinge gedeel van vertrekke wat steeds baie werk benodig. Dis deurmekaar met meubels en gereedskap wat rondlê – definitief nie glansbladmateriaal nie! Soms voel ek moedeloos as ek daarna staar, maar tog is daar soveel skoonheid in die fyner besonderhede as ’n mens dieper kyk. Ek besef ook dat ons self die vermoë het om orde te skep om ons eie stukkie wêreld te verbeter. Dit verg egter harde werk en ’n positiewe gesindheid om die volle potensiaal van die mooi te ontsluit.

Die wêreld is ook tans deurmekaar, maar soms is dit nodig om jou oë te sluit vir die chaos en te fokus op die goedheid en skoonheid wat steeds te vinde is. As jy sukkel om goedheid te vind, word dan self die verpersoonliking daarvan. Liefde, vreugde, goedheid en vriendelikheid kan baie aansteeklik wees en dit is dié tipe pandemie wat ons wêreld eerder benodig.

(Foto: Maxime Fourcade)

Ons almal het die vermoë om te restoureer of te verbeter. Ons almal het die vermoë om die lewe mooi te tooi. Die verskil begin by elkeen van ons en om ander se siele met skoonheid te beklee, dra meer gewig as enige restourasie aan ’n ou gebou.

Ons restourasiereis het nog ’n lang pad om te gaan, miskien het joune pas begin... Restourasie is ’n uitdaging, hetsy letterlik of figuurlik en ek hoop dat jy dit in jou daaglikse lewe met entoesiasme aanpak.

Á la prochaine, tot volgende keer!

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Dis altyd heerlik om jou rubrieke te lees en julle foto’s te sien. Julle het vrek baie waagmoed om so projek aan te pak, maar dit moet ongelooflik lonend wees en vreeslike hegte bande vorm in julle gesin. Baie dankie ook vir die bemoedigende laaste drie paragrawe hier bo!

Frank ·

Dankie Sunita, wonderlik om bietjie te ontsnap van die plaaslike landskap, polities en psigies! Ek stem vir die “ou” silwer kleur!!! Jy het seker reeds oorweeg ‘n ou goud onderlaag met swart/donker bruin bo-oor wat jy dan afvee voor dit droog word. Maar miskien pas die silwer beter in by jou badkamer se kleur skema.
Hou aan skryf asb!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.