Verbruikersake: Maak aanlyn inkopies veiliger

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Daar is nog tyd oor om aanlyn jou Kersinkopies te doen en alles betyds te laat aflewer. Aanlyninkopies hou die voordele in dat jy kan sien as iets nie in voorraad is nie, terwyl goedere, soos klere, gewoonlik in meer groottes beskikbaar is as jy aanlyn koop as in ’n enkele winkel, waar sommige style en groottes uitverkoop kan wees. Jy kan tuis sit en op jou rekenaar al jou inkopies doen sonder om deur skares mense te beur en van winkel na winkel te loop op soek na iets spesiaal. Ina Opperman gee raad oor hoe jy die meeste uit jou aanlyn inkopietog kan kry.

Begin met ’n begroting

Dit is vir baie verbruikers makliker om aanlyninkopies te doen met ’n begroting omdat jy makliker kan rondsoek tussen aanlynwinkels en pryse vergelyk en daar nie die malle gejaag is om tog nou net iets te koop en klaar te kry nie.

Stel jou begroting op deur te kyk hoeveel jy van jou gewone maandelikse begroting kan afknyp nadat jy voorsiening gemaak het vir ander Januarie-uitgawes soos skoolklere. Maak ’n lys van die mense vir wie jy geskenke moet of wil koop en verdeel die bedrag wat jy vir geskenke beskikbaar het, tussen hulle.

Nou kan jy jou rekenaar aanskakel of jou slimfoon optel.

Op jou merke, gereed, koop!

Noudat jy weet hoeveel geld jy op elke geliefde kan bestee, kan jy begin soek na die perfekte geskenk vir elkeen. Vir kinders kan jy dadelik speelgoedwinkels opsoek, wat opsies het om te soek na geskenke vir ’n sekere ouderdom of byvoorbeeld opvoedkundige speelgoed of boeke. Jy kan ook by baie van hierdie aanlynwinkels intik watter prysvlak jy verkies.

Gelukkig is daar ook baie aanlynwinkels waar jy geskenke vir die grootmense kan koop en hulle het ook filters wat jy kan gebruik om te soek na spesifieke goed of prysvlakke. Wees versigtig om nie dadelik te koop nie – gaan kyk eers hoeveel jy sal betaal by ander aanlyn winkels vir dieselfde geskenk. Jy kan by baie kettingwinkels ook goedere aanlyn bestel en dit dan by die winkel naaste aan jou gaan afhaal.

Maak seker van:

  • die afleweringsdatum sodat die goed betyds afgelewer kan word;
  • die maatskappy se beleid oor goedere wat teruggegee word en hoe terugbetalings werk vir ingeval iets fout is met die produk wat jy bestel het; en
  • wat kan gebeur as die ding wat jy bestel het, nie meer in voorraad is nie.

Vermy klagtes só:

Wanneer jy aanlyn koop, word jy beskerm deur die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming, maar slegs indien jy by ’n aanlynwinkel koop wat as ’n onderneming geregistreer is, en aan al die vereistes voldoen. Dit is, byvoorbeeld, nie ’n goeie idee om iets van ’n Facebook-blad te bestel nie omdat dit nie voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies nie.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Volgens die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies moet aanlyn winkels die onderneming se volle naam en regstatus aandui, sowel as die straatadres, telefoonnommer en e-posadres. Die webtuiste van die aanlynwinkel moet ook aandui of jy met ’n krediet- of debietkaart kan betaal of met ’n elektroniese oorplasing. Hierdie betaling mag nie gedoen word in ’n individu se bankrekening nie. Dit moet ook aandui hoe jou persoonlike inligting beskerm word.

Die aanlyn winkel moet jou kans gee om jou transaksie te hersien en produkte te verwyder van jou lysie. Jy moet ook ’n faktuur kry wat die volle prys van die produk aandui, saam met vervoerkoste, belasting en enige ander kostes.

Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal:

  • Die item wat jy aanlyn koop, moet wesenlik ooreenstem met dit wat ’n gewone en waaksame verbruiker op grond van die beskrywing sou verwag;
  • Goedere wat jy aanlyn bestel, moet binne ʼn redelike tydperk afgelewer word, tensy anders ooreenkom en jy die bestelling kan kanselleer as aflewering nie betyds gebeur nie;
  • Jy kan goedere binne tien werksdae teruggee as die verkeerde goedere afgelewer is of as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie. Die aanlyn winkel moet die koste en risiko dra om dit terug te stuur. Indien dit onoopgemaak is, moet jy die volle bedrag terugkry, maar die aanlyn winkel kan ’n redelike bedrag aftrek om die produk weer te verpak, tensy jy dit moes uithaal om dit na te gaan;
  • Die aanlyn winkel mag nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor wesenlike feite oor produkte maak nie. Hulle mag ook nie oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid gebruik in die beskrywing van ’n produk of bestanddele, kenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte of goedkeuring daaraan toedig as dit nie waar is nie;
  • Goedere wat jy aanlyn koop, moet veilig en van goeie gehalte wees en geskik vir die doel waarvoor jy dit koop, asook in goeie werkende toestand en sonder foute. Dit moet ook vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees en aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde voldoen;
  • As daar fout is met iets wat jy gekoop het, kan jy dit binne ses maande aan die aanlynwinkel teruggee op sy onkoste en risiko; en
  • Goedere wat gebreek is wanneer dit afgelewer word, moet herstel of vervang word, of die aanlyn winkel moet jou geld terugbetaal.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantoor vir verbruikersake oor aanlyn inkopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AfrikaanseKnaap ·

Ek sit net ‘n klein bedrag in my lopende rekening wat aan aanlyke kope gekoppel is.
Die res sit ek in ‘n spaar rekening.
Wanneer hulle dan jou kaart details in die hande kry, en glo my, jou beurt kom. almal kry ten minste 1, dan verloor jy net bietjie geld, en nie al jou geld nie.
‘n Spaar rekeningtjie by meeste banke is verniet en kan sommer aanlyn oop gemaak word, en daai klein footjie wat jy betaal om die geld te skuif tussen rekenings is elke sent werd.

Melanie ·

Ek loop van winkel na winkel. Goeie oefening. Ek wil die item onder oë neem voordat ek my beursie uithaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.