Verbruikersake: Hoe om die regte mediese fonds te kies

Argieffoto (Foto: GautengProvince/Twitter)

Die pandemie het ons geleer wat die werklike waarde van ʼn mediese fonds is. Lidmaatskap van ʼn mediese fonds is nie ʼn uitgawe wat jy sommer van jou begroting skrap nie. Dit is baie duur om lid van ʼn mediese fonds te wees en daarom moet jy mooi dink voordat jy ʼn fonds kies, aangesien dit nou juis die tyd van die jaar is dat mense hul mediese fondse kan verander. Ina Opperman verduidelik hoe jy moet besluit.

Dit is belangrik om die regte besluit te neem wanneer jy hierdie groot maandelikse uitgawe kies. Maak seker jy kan die lidmaatskap bekostig en dat jou dekking voldoende is. Hou gerus hierdie wenke in gedagte om jou te help om die regte besluit te neem:

Kyk na jou begroting

Dit is duur om by ʼn mediese fonds aan te sluit en daarom moet jy mooi na jou begroting kyk en bepaal hoeveel jy per maand vir mediese dekking kan bekostig.

Kyk na jou behoeftes

Is jy enkellopend of het jy ʼn gesin? Hoe oud is jy en jou gade? Het julle kinders en hoe oud is hulle? Is daar enige oorerflike siektes in julle onderskeie families? Ly een van julle aan ʼn chroniese siekte of is die hele gesin gesond en volg julle ʼn gesonde leefstyl? Is jou kinders elke winter siek?

Hierdie vrae sal jou help om te bepaal aan watter van jou behoeftes die mediese fonds moet voldoen.

Watter mediese fonds het ʼn goeie reputasie?

Doen navraag by almal, van jou dokter tot jou familie en vriende, oor watter mediese fonds die beste dekking en diens bied, natuurlik teen die beste prys. Word eise betyds uitbetaal sonder dat jy gedurig moet bel om te hoor wanneer hulle betaal? ʼn Goeie mediese fonds betaal betyds en het duidelike riglyne oor wat betaal word en wat nie.

Vra iemand wat weet

Nadat jy al jou huiswerk gedoen het, maak ʼn afspraak met ʼn onafhanklike makelaar vir mediese fondse. Jy moet met iemand praat wat nie net een skema aan jou probeer verkoop nie en jou kan help om die regte fonds vir jou behoeftes te kies.

Die mediese fonds se reserwes

Mediese fondse moet volgens wet ten minste 25% van hul lede se jaarlikse bydraes in ʼn reserwefonds hou en belê om te verseker dat daar fondse beskikbaar is om eise mee te betaal. Dit is veral nóú baie belangrik, want niemand weet wanneer hospitale weer oorstroom gaan word met Covid-19-gevalle nie.

Wat dek die mediese fonds?

Wees versigtig vir fondse wat jou baie belowe maar vir omtrent niks betaal nie.

Kyk na die dag-tot-dag beperkings en hoeveel jou jaarlikse mediese spaarrekening by die fonds sal wees. Dit is belangrik omdat jy met iets soos ʼn chroniese siekte maklik jou voordele al teen April kan opgebruik indien die spaarrekening net vir ʼn klein bedrag voorsiening maak.

Kyk ook waarvoor jy uit jou eie sak moet betaal en vergelyk dit met wat die fonds betaal. Kyk ook na die hospitaalvoordele. ʼn Fonds wat 200% van die fondskoers vir hospitaalbehandeling betaal is gewoonlik ʼn goeie keuse.

As jou mediese fonds byvoorbeeld vier mense in jou gesin dek, sal ʼn fonds wat op die meeste R600 000 per gesin per jaar vir hospitaalonkoste betaal nie veel werd wees as julle almal ernstige beserings in ʼn motorongeluk opdoen nie.

Kyk ook hoe kankerbehandeling bepaal en gedek word en of die fonds vir nuwe behandelings sal betaal as jy of ʼn gesinslid kanker sou kry.

Uitsluitings

Mediese fondse het gewoonlik twee soorte uitsluitings: dié wat vir ʼn tydperk van minder as ʼn jaar geld wanneer jy ʼn nuwe lid is, en dié wat altyd uitgesluit is. Maak seker dat alles wat jy van jou fonds verwag wel ingesluit is voordat jy aansluit.

Maar jy het mos ʼn hospitaalplan?

Hospitaalplanne is gewoonlik meer bekostigbaar as lidmaatskap van ʼn mediese fonds, maar onthou dat ʼn hospitaalplan slegs uitbetaal wanneer jy onderhewig aan sekere voorwaardes in die hospitaal beland.

ʼn Hospitaalplan betaal uit omdat jy in die hospitaal is om voorsiening te maak vir verlies aan inkomste, maar nie direkte mediese uitgawes nie. Direkte mediese uitgawes kan baie meer wees as wat die hospitaalplan per dag in die hospitaal uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Die enigste verskil tussen ‘n volle mediese fonds en ‘n hospitaalplan, is dat die mediese fonds ‘n gedeelte van jou premie vat en dit “spaar” namens jou vir wanneer jy moet dokter toe of brille kry of iets. Dis waarom ek ‘n hospitaalplan het, en so R30 000 in ‘n krisisfonds gespaar het. Selfs toe my kind vir 10 weke in die NICU was, het ons hospitaalplan omtrent die hele R1.2 miljoen gedek en ek dink ek het sowat R8000 uit my eie sak (oftewel uit die krisisfonds) betaal. En ek kan daai selfde krisisfonds gebruik as ons ‘n nuwe wasmasjien nodig het, of ek my kar gestamp het, en die versekering nie wou uitbetaal nie (dinge wat rerig gebeur het).

Francois Le Cochon ·

Die probleem is dat mf’e so gestruktureer is dat dit bykans ontmoontlik is om hulle met mekaar te vergelyk. Jy kom gewoontlik eers agter van die voordele nadat jy aangesluit het. Indien jy nie tevrede is nie, kan jy dit nie net staak nie, maar moet die volle jaar daaraan behoort, anders moet jy jouself “uit koop”.

Mallie ·

Dis alles goed en wel. Wat ek wil weet is hoe kan party mediese fondse 100% van jou mediese rekening betaal en ander 200%. Kan iemand asseblief net vir my verduidelik.

Anoniem ·

Behoed jou egter indien jy aan die nuttelose weermag se Staandemag Mediese Voortsettingsfonds behoort, (vir afgetrede soldate) dan het jy groot probleme op hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.