Verbruikersake: Kan jy iets teruggee wat jy nie kan gebruik?

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Ons het al almal iets gekoop wat ons nie eintlik na die tyd meer wou hê nie. Of selfs iets wat toe nie so maklik was om te gebruik nie, veral as die Wet op Verbruikersbeskerming verbruikers die reg gee om goedere om te ruil? So maklik is dit egter nie, sê die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste. Daar moet iets fout wees met die goedere self as jy dit wil teruggee. Ina Opperman verduidelik hoe dit werk.

Die ombudsman het onlangs ʼn klagte hanteer van ʼn klein onderneming wat ʼn dakteëlmasjien aangeskaf het en dit wou teruggee. Klein ondernemings val onder die wet as hulle ʼn omset van tot R2 miljoen het.

Die eienaar van die onderneming wou die masjien teruggee omdat dit baie ingewikkeld was om mee te werk en dit omruil vir ʼn ander masjien wat iets heeltemal anders doen. Op die ou end het die klagte by die ombudsman beland omdat die handelaar nie die masjien wou omruil nie.

Nadat die eienaar die dakteëlmasjien vir R1 973 856,36 gekoop het en dit geïnstalleer is drie maande later, het hy besef dat dit te ingewikkeld is om te gebruik en gevra dat die handelaar dit omruil vir ʼn ploeg wat R650 000 kos.

Die vervaardiger het egter geweier en gesê die beste wat hy kan aanbied is ʼn terugbetaling van R30 000, wat die terugkoopwaarde van die masjien was. Die eienaar van die klein onderneming was nie gelukkig hiermee nie omdat hy die masjien glad nie gebruik het nie, behalwe toe die handelaar hom gewys het hoe dit werk.

Die handelaar het in sy antwoord gesê die eienaar het gesofistikeerde toerusting gekoop wat spesialisopleding vereis en hy was bewus daarvan, aangesien die handelaar hom en sy personeel opgelei het hoe om dit te gebruik.

Aangesien die masjien so gevorderd was, het die handelaar ʼn voorgeskrewe proses gevolg om te verseker die personeel kon dit veilig gebruik volgens die vervaardiger se instruksies. Die eienaar het afgeteken op die opleiding.

Die handelaar het ook daarop gewys dat die masjien ten volle gewerk het, sonder enige defekte of foute, en daarom sou hy net oorweeg om dit terug te koop teen 10 tot 30% van die verkoopprys, afhangende van die toestand waarin dit is.

Artikel 20 van die wet

Artikel 20 van die wet bepaal dat verbruikers die reg het om onveilige en foutiewe goedere terug te gee volgens artikel 56 en om hul geld terug te kry. Verbruikers kan goedere ook teruggee en ʼn volle terugbetaling eis wanneer:

  • Die handelaar goedere afgelewer het wat die verbruiker gekoop het gedurende direkte bemarking en gedurende die afkoeltydperk gekanselleer het.
  • Die verbruiker nie kans gehad het om die goedere te ondersoek voordat dit afgelewer is nie en die verbruiker dit teruggee in terme van artikel 19.
  • Die handelaar ʼn mengsel van goedere afgelewer het en die verbruiker die aflewering geweier het in terme van artikel 19.
  • Die verbruiker binne tien dae agtergekom het dat die goedere, wat die handelaar geweet het gekoop word vir ʼn sekere doel, nie daarvoor geskik is nie.

Dit is egter nie van toepassing indien ʼn openbare regulasie die teruggee van die goedere verbied nie, of indien die goedere gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal is, fisies aangepas is, permanent geïnstalleer is, vasgeheg is aan, aangeheg is aan, aangelas of bygevoeg is by, vermeng of gekombineer is met, of vasgelê is in ander goedere of eiendom nie.

Die handelaar mag ʼn billike fooi hef om die goedere te restoureer sodat dit weer verkoop kan word, tensy dit nodig was vir die verbruiker om die verpakking te vernietig om dit uit te haal om te sien of dit voldoen aan die beskrywing indien hy dit nie eers kon nagaan om te sien of dit geskik is vir die doel waarvoor hy dit gekoop het nie.

Die ombudsman het daarop gewys dat verbruikers moet onthou hulle het geen gewaarborgde reg om goedere terug te gee tensy dit voldoen aan die bepalings van artikel 20 nie. Die eienaar van die klein onderneming het die dakteëlmasjien gekoop en volgens artikel 20 kon hy dit teruggee indien dit bedoel was om iets spesifiek te doen, waarvan die handelaar bewus was, en dit nie vir die doel geskik was nie.

Artikel 55

Artikel 55(3) bepaal dat indien ʼn verbruiker die verskaffer spesifiek in kennis gestel het van die bepaalde doel waarvoor hy die goedere wil aanskaf en gebruik en die verskaffer gewoonlik aanbied om sodanige goedere te verskaf of homself ʼn kundige noem oor die gebruik daarvan, die verbruiker ʼn reg het om te verwag dat die goedere redelikerwys geskik is vir die spesifieke doel.

Volgens artikel 55(4) moet ʼn mens die volgende in gedagte hou wanneer jy bepaal of die goedere geskik is:

  • Hoe die goedere bemark, verpak en uitgestal is, of ʼn handelsbeskrywing of merk gebruik is en of daar enige instruksies is oor hoe om dit te gebruik,
  • Wat mens redelikerwys kan verwag om daarmee te doen, en
  • Wanneer die goedere vervaardig en verskaf is.

Die ombudsman sê in hierdie geval is dit duidelik dat die eienaar vir die handelaar gesê het waarvoor hy die masjien wil gebruik en die handelaar het dit toe afgelewer en geïnstalleer en die personeel opgelei om dit te gebruik.

Die handelaar het vir die eienaar gesê dat hy dit nie ligtelik moet opneem om die masjien te bedryf nie en dat die opleiding ernstig opgeneem moet word. Die eienaar het ook bevestig dat die opleiding goed was en die ombudsman kon nie bevind dat die handelaar gefouteer het toe die eienaar drie maande later gekla het dat dit te ingewikkeld is om te gebruik nie.

Volgens die ombudsman laat die eienaar se uitsprake mens ook wonder oor sy aanspraak dat hy nie die masjien gebruik het nie en artikel 20(3)(a) verbied ook die teruggee van goedere wat gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal is, fisies aangepas is, permanent geïnstalleer is, vasgeheg is aan, aangeheg is aan, aangelas of bygevoeg is by, vermeng of gekombineer is met, of vasgelê is in ander goedere of eiendom.

Daarom het die ombudsman bepaal dat die goedere verskaf en afgelewer is volgens artikels 20 en 55, dat daar nie fout was daarmee nie en dat dit geskik was vir die doel waarvoor die eienaar dit gekoop het. Dus is die eienaar se klagte geweier aangesien die eienaar nie daarop geregtig was om die goedere terug te gee en sy geld terug te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Witbaard ·

Die toepassing van die wet is nie so maklik nie. As die handelaar weier, volg daar n lang uitgerekte duur proses wat die verbruiker nie noodwendig wil volg nie. Sekere sake kan jare sloer, veral met motorviertuie.

Antie Sarie ·

Ek het uit ervaring geleer dat n mens baie tyd kan spaar deur die wet te ken, jou van jou regte te vergewis. Alles op skrif te stel. Meeste sake kan opgelos word deur hellopeter of ander sosiale media. Die ketting winkels is doodbang vir sosiale media. Maar as jy oor n milj gaan uitgee, moet jy jou deffinitief vergewis van wat jy mag en nie mag nie. Met so n groot aankoop, moet al die terugneem opsies voor die tyd bespreek word. As ek R100 uitgee vergewis ek my daarvan voor die tyd. Veral omdat ek weet dat kwaliteit deesdae optioneel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.