Verbruikersake: Skuldberading kan die antwoord wees, maar lees eers hier

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

(Foto: FirmBee/Pixabay)

Die inflasiekoers hou aan styg, petrol word al hoe duurder en rentekoerse styg om inflasie in toom te hou. Verbruikers se salarisse hou nie tred met pryse nie en baie gesinne weet nie meer hoe om uit hul finansiële verknorsing te kom nie. Skuldberading is ʼn opsie, maar dit is nie iets waarin verbruikers blindelings moet instorm nie. Ina Opperman vertel hoe skuldberading werk, sodat jy ʼn ingeligte keuse kan maak as jy iets drasties aan jou skuld wil doen.

Baie verbruikers het al voor die pandemie toegeslaan het met skuld gesukkel en meer geleen as wat hulle kon terugbetaal. Die berg skuld word egter al hoe groter en daar is maar min vooruitsig dat die ekonomiese toestand binnekort gaan verander. Dalk is dit tyd om ʼn skuldberader se hulp in te roep?

Wat behels skuldberading?

Suid-Afrikaanse verbruikers kan al sedert 2007 skuldberading kies om hulle skuld te betaal en hul terugbetalings hanteerbaar te maak. Dit stel hulle dan in staat om weer van voor af te begin en ʼn skoon kredietrekord op te bou. Verbruikers kan skuldberading oorweeg as ʼn oplossing voordat die banke hul bates, soos huise en motors, terugneem.

Die belangrikste aspek om te onthou, is dat jy nie enige verdere krediet kan kry wanneer jy aansoek gedoen het vir skuldberading nie, aangesien dit aangeteken word by die kredietburo’s.

Hoe kwalifiseer jy vir skuldberading?

  • Jy moet ʼn inkomste verdien en nie onder skuldadministrasie wees nie.

Wat sal skuldberading beteken vir jou?

  • Dit gee jou die geleentheid om jou skuld af te betaal sonder dat jy nog skuld moet maak.
  • Indien jy aansoek doen vir skuldberading voordat kredietverskaffers regstappe teen jou doen om jou te dwing om te betaal, word jy beskerm teen regstappe en die kredietverskaffers kan nie beslag lê op jou bates nie.
  • Verpligte uitgawes soos kruideniersware, skoolgeld en ander belangrike uitgawes word in ag geneem voordat die skuldberader besluit hoeveel jy kan bekostig om op jou skuld af te betaal.
  • ʼn Geregistreerde skuldberader onderhandel namens jou met jou kredietverskaffers om jou afbetalings te verminder gegrond op jou bestaande inkomste.

Hoe werk skuldberading?

  • Skuldberading word aangebied deur skuldberaders wat geregistreer is by die NKR. Jy kan skuldberaders se registrasie nagaan op die NKR se webwerf by ncr.org.za, of deur hulle te skakel op 0860 627 627.
  • Skuldberading is nie gratis nie. Die skuldberader moet die koste daarvan vooraf vir jou verduidelik. Die fooie wat gehef mag word, is beskikbaar op die NKR se webwerf onder “Guidelines”.
  • Wanneer die bevel vir skuldberading bekragtig is, kan jy net uit die proses van skuldberading tree indien jy ʼn klaringsbrief van die skuldberader het.
  • Jy kan kies om elke maand ʼn enkele betaling te doen deur ʼn betalingsverspreidingsagent wat geregistreer is by die NKR. Die agent het ʼn mandaat om jou skuldberadingsfondse in te samel en oor te betaal aan kredietverskaffers.

Watter wenke is daar vir verbruikers wat ʼn skuldberader nader?

  • Die herstrukturering van jou skuld word deur ʼn landdroshof of die Nasionale Verbruikerstribunaal goedgekeur, wat jou die gemoedsrus gee dat die hergestruktureerde betalings waaroor onderhandel is, vasgestel is en so sal bly terwyl jy onder skuldberading is.
  • Daar is geen beperking op die bedrag wat jy skuld om onder skuldberading geplaas te word nie.
  • Daar is geen beperking op die termyn van skuldberading nie, aangesien dit afhang van jou finansiële omstandighede, soos skuld, inkomste en lewenskoste.
  • Kies ʼn skuldberader wat ʼn kantoor naby jou het sodat jy die kantoor kan besoek as daar probleme is.
  • As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, kan jy nie individueel vir skuldberading aansoek doen nie. Jy en jou eggenoot moet dit saam doen.
  • Dit gaan jou langer vat om jou skuld af te betaal omdat jy maandeliks minder betaal.

Wat gebeur wanneer al jou korttermynskuld betaal is?

Indien al jou korttermynskuld betaal is en net jou huislening oorbly en dit ook op datum is, sal jy ʼn klaringsertifikaat kry en alle kredietinligting van rekeninge wat onder skuldberading is, sal verwyder word van jou kredietrekord.

Vra jou skuldberader:

  • Sy naam en registrasienommer.
  • Wat is die gevolge van skuldberading?
  • Hoe gaan jou skuld herstruktureer word?
  • Hoeveel gaan dit kos?
  • Wat is jou regte en verpligtinge, sodat jy ingeligte keuses kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Beslis die moeite werd!!! Ek kan eerlikwaar se ons is op DebtRescue en as dit nie vir hulle was nie weet ek wragtig nie waar sou ek vandag gewees het nie. Ons is amper klaar betaal – na 5 en half jaar – nog net 2 maande oor dan moet als weer terug hof toe om die nodige klaring en bevel te kry. Dankie DR. Nou weet ek hoe om beter met my geld te werk en my sente oor en oor te draai totdat daai blou ink behoorlik uit die note tap…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.