Verbruikersake: Vermy kuberskelmstreke met dié wenke

(Foto: pixabay)

Kuberskelms raak al hoe meer bedrywig en meer en meer verbruikers verloor hul swaarverdiende geld daagliks wanneer hulle vir die kuberskelmstreke val. Terwyl dit wetstoepassingsagentskappe se werk is om ons teen hierdie soort misdaad te beskerm, is dit ook elke verbruiker se plig om in die eerste plek te sorg dat hulle nie daarvoor val nie. Ina Opperman het die Nasionale Kredietreguleerder gevra waarvoor verbruikers op die uitkyk moet wees.

Met die aanvang van digitale sofistikasie in verbruikerskrediet word die gerief en privaatheid daarvan om finansiële transaksies te doen, geraak deur kuberskelms wat altyd op jag is om verbruikers, wat al klaar hul rieme dun moet sny, uit hul laaste sente te kul.

Die Nasionale Kredietreguleerder waarsku verbruikers om wakker te wees en uit te kyk vir die agterbakse metodes wat die bedrieërs gebruik wanneer hulle skemas gebruik op digitale platforms soos WhatsApp, e-pos, nagemaakte webwerwe en teksboodskappe op jou foon.

“Hierdie skemas teiken dikwels verbruikers wat vir krediet- of skuldberading aansoek doen en die verbruikers wat geteiken word, is gewoonlik klaar weerloos en desperaat en sal dus makliker val vir hierdie soort skelmstreke,” sê Poppy Kweyama, bestuurder vir opvoeding en kommunikasie by die reguleerder.

Hierdie skelms gaan nie altyd op dieselfde maniere te werk nie. Verbruikers wat vir lenings aansoek doen, word gewoonlik gedwing om ʼn ‘vooraf-betaling’ te doen met beloftes dat die geld dadelik in hulle bankrekenings beskikbaar sal wees.

Die ‘vooraf-betaling’ word gewoonlik toegeskryf aan verskillende uitgawes soos BTW, versekering vir die bedrag wat jy leen, om geld te stuur van oorsee na Suid-Afrika en regsfooie. “Sodra die verbruikers die vooraf-betaling doen, vra die skelms vir nog geld of die bedrieër verdwyn spoorloos en los die verbruiker met nog ʼn hoop skuld,” sê Kweyama.

“Daar is ook skelms wat hulle voordoen as skuldberaders of oproepsentrums wat verbind is aan skuldberaders wat verskillende taktieke gebruik om verbruikers te lok na skuldhersiening. Hulle belowe dinge soos verminderde rente, afskryf van skuld, dat hulle jou uit skuldhersiening kan haal en ʼn sertifikaat kan uitreik dat jy skuldberading voltooi het, wat onwettig is.”

Hierdie skuldberadingskemas kloon die werklike skuldberaders se registrasienommers en die uiteinde is dat verbruikers uit hul geld gekul word of in skuldberading beland sonder dat hulle daartoe instem.

Volgens Kweyama gebruik sommige skelms selfs die gekloonde besonderhede van die reguleerder se beamptes en die reguleerder se briefhoof terwyl hulle verbruikers laat betaal vir dienste wat eintlik gratis is.

Sy sê verbruikers moet onthou dat hulle nie betaal vir die reguleerder se dienste nie. Die enigste dienste waarvoor jy betaal by die reguleerder is om te registreer as ʼn kredietverskaffer, skuldberader, kredietburo, betalingsverspreidingsagent en alternatiewe dispuutoplossingsagent.

As jy nie seker is of jy vir iets by die reguleerder moet betaal nie, kan jy die rekeningbesonderhede nagaan deur e-pos te stuur aan [email protected].

Kweyama gee die volgende wenke wat verbruikers in gedagte moet hou om die skelms te ontwyk:

  • Wanneer iemand jou uit die bloute bel en beloof om jou skuld te verminder, moenie bang wees om te vra hoe die persoon jou nommer en ander besonderhede in die hande gekry het nie en moenie toestem tot enigiets waaroor jy onseker is nie.
  • Onthou skuldberading is nie ʼn manier om te spaar nie, maar ʼn manier om jou skuld hanteerbaar te maak om verbruikers te help wat te veel skuld het.
  • Wanneer jy skuldhersiening doen, sal jy nie vir verdere krediet kan aansoek doen voordat jy al jou skuld betaal het nie.
  • Moenie jou vertroulike besonderhede of geld vir vreemdelinge gee nie.
  • Loop lig vir e-pos wat die reguleerder geïdentifiseer het as bedrieglike optrede om verbruikers te bedrieg met die gebruik van die reguleerder se logo: [email protected], [email protected] en [email protected].
  • Loop ook lig vir die volgende praatjies op e-pos: “South Africans finally get to use this Debt Reduction Assessment for Fast Debt Relief” of “Your payment can be reduced by as much as 63% in as little as 7 days” of “Government approved debt written off” of “Debt review removal flag even if you have not paid your debt in full”.
  • Oppas ook vir plekke wat sê: “Blacklisted consumers welcome” of “No credit checks required”.
  • Doen net sake met kredietverskaffers en skuldberaders wat by die reguleerder geregistreer is deur te gaan kyk op ncr.org.za of hulle wel geregistreer is.
  • Moenie klik op enige vreemde e-pos, URL of skakels wat jy nie ken nie en moenie eenmalige pinkodes (OTP) gebruik waarvan jy nie seker is nie.
  • Moet nooit vooraf-betalings maak as jy geld wil leen nie.
  • Niemand kan die skuldhersieningsvlaggie by jou naam verwyder as daar ʼn hofbevel is nie, tensy al jou skuld, behalwe jou huislening, opbetaal is.
  • Onthou maar die goue reël: as dit te goed is om waar te wees, dan is dit.

“As jy onseker is van enige aanbiedings aanlyn, kan jy die reguleerder se kantoor vir raad vra deur e-pos te stuur na [email protected]. Jy kan ook hier navraag doen oor ʼn maatskappy se registrasie en of die diens wat aangebied word, met die wet ooreenstem,” sê Kweyama.

Indien jy ʼn slagoffer van een van hierdie skemas is, kan jy ʼn klag by die polisie indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.