Verbruikersake: Wanneer dit jou reg is om te kanselleer

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Teken net hier, moedig die verkoopspersoon jou aan en voor jy weet is jou handtekening daar op papier en as jy nou wil kanselleer, loop jy jou teen mure vas. Niemand wil jou oproepe neem of jou e-posse antwoord nie. Die goeie nuus is dat jy wel regte het indien jy ʼn transaksie wil kanselleer, maar jy moet onthou dat die winkel of verkoper ook regte het. Ina Opperman verduidelik wat die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal oor jou regte wanneer jy ʼn kontrak wil kanselleer.

Dit is eerstens belangrik om te onthou dat verskillende kontrakte verskillende voorwaardes het, soos vastetermynkontrakte. Die Wet op Verbruikersbeskerming maak voorsiening vir verbruikers wat ʼn kontrak wil kanselleer in artikels 14, 16 en 17.

Direkte bemarking

Wanneer die handelaar jou spesifiek genader het om ʼn kontrak vir goedere en dienste te sluit sonder dat jy eerste daarin belanggestel het, het jy die reg op ʼn afkoeltydperk om die kontrak te kanselleer.

Artikel 16 van die wet bepaal jou regte op die afkoeltydperk, maar is nie van toepassing op transaksies wat ingevolge artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies gesluit is nie.

Jy kan ʼn kontrak wat uit direkte bemarking voortspruit sonder rede of boete terugtrek, deur binne vyf werksdae skriftelik kennis te gee. Die handelaar moet dan enige geld wat jy betaal het, teruggee binne 15 werksdae nadat jou kennisgewing ontvang is of wat goedere verskaf is.

As iemand jou byvoorbeeld uit die bloute gebel en ʼn selfoonkontrak aangebied het wat jy aanvaar het, kan jy dit nog binne vyf dae kanselleer, maar as jy intussen die selfoon ontvang, moenie dit oopmaak nie, want dan kan jy dit nie meer teruggee nie.

Voorafbesprekings

Artikel 17 van die wet bepaal jou reg om voorafbesprekings, plekbesprekings of bestellings te kanselleer. Die handelaar kan vereis dat jy ʼn redelike deposito betaal en ’n redelike bedrag vir kansellasie hef.

Die handelaar moet die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk, die redelike moontlikheid om dit aan iemand anders te verkoop en die algemene praktyk van die betrokke bedryf in ag neem om die kansellasiefooi uit te werk.

Handelaars mag nie ’n kansellasiefooi hef as jy sterf of in die hospitaal opgeneem word en dus nie die bespreking kan gebruik nie.

Vastetermynooreenkomste

Artikel 14 van die wet bepaal jou regte wanneer vastetermynooreenkomste tussen verbruikers en handelaars, wat nie langer as 24 maande mag duur nie, verstryk of hernu word.

Jy mag ’n vastermynooreenkoms kanselleer sonder om ʼn boete of ander koste te betaal wanneer die 24 maande of ander tydperk waarop ooreengekom is, verstryk. Indien die kontrak nog nie verstryk het nie, moet jy die handelaar 20 werksdae skriftelik kennis gee dat jy die kontrak wil kanselleer. Dieselfde geld indien die handelaar die kontrak wil kanselleer omdat jy nie die maandelikse paaiemente betaal nie, tensy jy dit binne die 20 dae regstel.

Die handelaar moet jou tussen 40 en 80 werksdae vooraf skriftelik kennis gee dat jou kontrak gaan verval en aandui of dieselfde voorwaardes van krag sal wees indien jy die ooreenkoms hernu. Wanneer ʼn vastetermynkontrak verstryk, moet dit outomaties op ’n maand tot maand-basis verleng word, tensy jy aangedui het jy wil die ooreenkoms beëindig of ʼn nuwe kontrak sluit.

Jy bly egter aanspreeklik vir enige geld wat jy die handelaar nog skuld en die handelaar kan vereis dat jy ʼn redelike kansellasieboete betaal vir die goedere en dienste wat gelewer is. As jy vooruit betaal het, moet die handelaar die res van jou geld terugbetaal nadat die boete afgetrek is.

Wanneer verbruikers kla oor ʼn kontrak wat hulle nie gekanselleer kry nie, is dit gewoonlik ʼn vastetermynooreenkoms. Mense met ʼn gewone DStv-kontrak kan dit byvoorbeeld gewoonlik binne ʼn maand kanselleer, maar as jy ʼn kontrak gesluit het wat ʼn Explora-dekodeerder en dieselfde premie vir 24 maande insluit, het jy ʼn vastermynkontrak wat jy nie so maklik kan kanselleer nie.

Onthou:

  • Moenie ʼn kontrak teken voordat jy seker is jy verstaan al die bepalings nie.
  • Maak seker wat jou regte sal wees indien jy wil kanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johnny ·

Daai “redelike boete” is waar die probleem kom. Die handelaars gebruik dit as ‘n metode om, in effek, 95% van die oorblywende betalings te hef. So hulle vat steeds hulle volle inkomste – sonder om die diens te verskaf.

Louise ·

Presies. Ons sou ń huis koop maar die skelms het niks reggemaak, papierwerk was nie in orde en geen NHBRC Sertifikate,hulle is fort met ons deposito en ons sou nooit huis kon koop maar ons moet aanhou okkupasie huur betaal totdat ons besluit het dit is genoeg. Lang storie, maar passop waar jy teken!

Alfred E Neuman ·

Moet liwer NIKS onderteken voor jou prokureur nie die dokument onder oë gehad het nie, veral as dit jou tot die medium en langtermyn gaan verbind, en as dit n beduidende finansiële las op jou gaan plaas. Vra ook jou prokureur om jou eie vooreaardes vir kansellasie by te voeg, vir ekstra gemoedsrus. Slegs dan kan n kontrak onderteken word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.