Verbruikersake: Wanneer jy aangeskryf word vir skuld vir diens wat nie gelewer is

(Argieffoto: Maroela Media)

Baie verbruikers dink dat skelmstreke om jou van jou swaarverdiende geld te beroof, net fokus op jou banksake, maar skelms probeer deesdae alle moontlike streke om jou geld te steel. Dit lyk nou asof daar selfs van die niksnutte is wat mense inloop deur ’n diens te verkoop wat nie bestaan nie en dan die vermetelheid het om die skuld aan skuldinvorderaars te verkoop. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is in so ’n geval.

Een van ons lesers het geskryf om te vra of ons raad het vir hom nadat hy ’n dienskontrak gesluit het met ’n verskaffer wat nie bestaan het nie. Uiteraard is geen diens gelewer nie, maar hy word steeds aanspreeklik gehou vir die betaling van die diens. Die “skuld” is verkoop aan skuldinvorderaars wat hom gereeld teister om te betaal, maar die invorderaars wil nie hul fisieke adres gee nie.

By navraag het die Nasionale Kredietreguleerder se kantoor gesê dat hierdie soort klagte nie onder die Nasionale Kredietwet val nie en die kantoor kan dus nie help nie. Die kwessie hier is dat die diens nie gelewer is nie en dit val onder die Wet op Verbruikersbeskerming.

Artikel 19

Artikel 19 bepaal jou regte ten opsigte van die lewering van goedere of verskaffing van dienste, maar is nie van toepassing op konsessiehouers of transaksies wat luidens artikel 46 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies beheer word nie.

Tensy ’n ooreenkoms uitdruklik andersins bepaal, het elke transaksie ’n versweë voorwaarde vir die verskaffing van goedere of dienste dat die verskaffer verantwoordelik is om die goedere te lewer of die dienste te verrig op die ooreengekome datum en tyd of binne ’n redelike tyd, by die ooreengekome plek.

Artikel 47

Jou regte in die geval van oorverkoping en oorbespreking word in artikel 47 bepaal, maar dit is nie van toepassing op ’n konsessie-ooreenkoms of goedere wat op spesiale bestelling gemaak is nie. Volgens artikel 47 mag ’n verskaffer nie betaling aanvaar vir goedere of dienste indien hy nie van plan is om dit te verskaf nie.

Artikel 54

Hierdie artikel bepaal jou regte om diens van gehalte te eis. Wanneer ’n verskaffer onderneem om vir jou ’n diens te verrig, het jy ’n reg om te verwag dat dit betyds voltooi sal word en dat dit van goeie gehalte sal wees.

Indien ’n verskaffer versuim om ’n diens van goeie gehalte te lewer, kan jy verwag dat hy dit sal regstel of ’n redelike gedeelte van die prys terug te betaal, met inagneming van die omvang van die versuim.

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Artikel 46 van die Wet bepaal dat die verskaffer die diens moet lewer binne 30 dae, tensy anders ooreengekom. Indien die verskaffer nie binne hierdie tyd die diens lewer nie, kan die verbruiker die diens binne sewe dae op skrif kanselleer. Indien die diens nie beskikbaar is nie, moet die verskaffer jou dadelik in kennis stel en jou geld terugbetaal.

Jou regte in hierdie geval

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming, het die leser dus die volgende regte:

  • Om te verwag dat die diens betyds gelewer sal word;
  • Om te verwag dat die verskaffer van plan is om die diens te lewer; en
  • Indien die diens nie gelewer word nie, dat hy nie daarvoor betaal sal nie.

Ingevolge die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies het die leser die reg om te verwag:

  • Dat hy die ooreenkoms kan kanselleer indien die diens nie gelewer word nie; en
  • Dat hy nie sal betaal vir ’n diens wat nie gelewer is nie.

Die leser kon dus die diens gekanselleer het toe dit nie verskaf is nie. Hy kan ook vereis dat die skuldinvorderaar moet bewys dat die diens gelewer is. Hy kan ook kla by die Raad vir Skuldinvorderaars (RVSI) en eerstens vasstel of die skuldinvorderaar geregistreer is.

Wanneer ’n skuldinvorderaar aan jou deur klop

Volgens die raad moet jy eerstens vra vir die volgende inligting op skrif:

  • Die volle identiteitsinligting van die skuldinvorderaar en die maatskappy, sowel as bewys van registrasie by die raad (dit sluit die fisieke adres in);
  • Die naam van die oorspronklike krediteur aan wie jy geld skuld, waarvoor die skuld is en wanneer dit gemaak is; en
  • Die totale bedrag van die skuld wat uitstaande is, saam met die rente en invorderingskoste.

Net geregistreerde skuldinvorderaars mag uitstaande skuld invorder en jy kan nagaan of iemand geregistreer is op die RVSI se webwerf by www.cfdc.org.za of bel die raad by 012 804 9808.

Moenie jou bankbesonderhede en finansiële inligting oor die foon uitgee nie, maar moet ook nie kommunikasie van ’n geregistreerde invorderaar ignoreer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ai tog ·

Die SABC soek geld by my vir ‘n TV lisensie, want hulle lewer ‘n diens waarvoor ek nie gevra het nie???

Dirk Mostert ·

Telkom sms deesdae net ‘n bedrag wat betaalbaar is (50% meer as in die verlede), maar verskaf nie ‘n staat waarop die wisselende maandelikse bedrae uiteengesit word nie. Is dit nie ‘n wanpraktyk nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.