Verbruikersake: Wanneer winskopies nie winskopies is nie

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

In vandag se strawwe finansiële toestande is ons almal op soek na winskopies, want alles is nou duur, van brandstof tot kookolie. Verbruikers is daarom baie bewus van winskopies en waar om hulle te kry. Hulle weet ook wanneer ʼn winskopie nie meer ʼn winskopie is nie, maar net ʼn manier om meer geld uit jou reeds leë beursie te wurg. Ina Opperman vertel wat jou regte is in verband met winskopies.

ʼn Leser het by ons kom kla omdat hy nie dink die nuutste winskopiegier, waar jy drie items koop en net vir twee betaal, so ʼn groot winskopie is nie. Hy dink dit is totale uitbuiting van verbruikers wat net welaf mense tot voordeel strek, want wie gaan nou drie bottels skottelgoedseep koop om die derde een gratis te kry as jy net een bottel in ʼn maand gebruik?

“Arm mense soos ek kan net een item koop vir die maand, omdat ek ʼn beperkte bedrag het om deur die maand te kom. As jy net een item koop, betaal jy meer. Ons kan net vir een maand begroot en nie so vir grootmaat op ʼn slag nie.”

Ongelukkig vir verbruikers is daar nie wetgewing wat hierdie soort winskopies in ʼn vrye mark verbied nie, maar verbruikers moet onthou dat hulle steeds beskerm word wanneer winskopies of spesiale aanbiedings aangebied word.

Die Wet op Verbruikersbeskerming maak dit in artikels 21 en 30 baie duidelik wat jou regte is wanneer jy iets teen ʼn spesiale prys koop. ʼn Winskopie wat nie beskikbaar is nie, of uitverkoop is, kan verbruikers warm onder die kraag maak en die winkelbestuur kan nie net hul skouers optrek en jou klagtes hieroor ignoreer nie.

Artikel 23

Artikel 23 van die wet handel oor die blootlegging van die prys van goedere of dienste en volgens subartikel 6 mag ʼn winkel nie vereis dat ʼn verbruiker vir goedere of dienste betaal wat hoër is as die uitgestalde prys vir daardie goedere of dienste nie of wat hoër as die laer of laagste prys is wat aangedui word, as meer as een prys gelyktydig aangedui word nie.

Volgens subartikel 9 word ʼn winkel nie verbind tot ʼn foutiewe prys indien dit ʼn onopsetlike en ooglopende fout bevat, dit reggestel is en redelike stappe in die omstandighede gedoen is om verbruikers, aan wie die foutiewe prys moontlik uitgestal is, van die fout en die korrekte prys in te lig nie.

Artikel 30

Artikel 30, oor lokaasbemarking, bepaal dat ʼn winkel nie goedere of dienste mag adverteer teen ʼn bepaalde prys wat verbruikers kan mislei of onder ʼn vals indruk bring oor die werklike beskikbaarheid daarvan teen die geadverteerde prys nie. Indien bepaalde goedere of dienste teen ʼn spesifieke prys geadverteer word met ʼn uitdruklike beperking op die beskikbaarheid daarvan teen daardie prys, moet die winkel dit teen daardie prys verkoop.

Volgens die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste se adviesnota kom ʼn kontrak gewoonlik tot stand wanneer iemand ʼn aanbod aanvaar. ʼn Advertensie is nie op sigself ʼn aanbod nie, maar wel ʼn uitnodiging vir verbruikers om ʼn aanbod te maak om te koop.

Die wet gaan egter verder as die gemene reg in artikel 23(6), en maak die prys wat aangedui word ʼn bindende aanbieding wat ʼn kontrak word sodra die verbruiker dit aanvaar deur betaling aan te bied.

“As ʼn advertensie ʼn aantal produkte spesifiseer wat teen ʼn spesiale prys verkoop sal word, is die winkel volgens artikel 30 daartoe verbind om die aantal produkte teen die prys te verkoop, al word dit later op ʼn kennisgewing in die winkel aangedui dat dit nie beskikbaar is teen die spesiale prys nie,” lui die adviesnota.

Dit is dus duidelik dat winkels goedere teen die laagste geadverteerde of vertoonde pryse moet beskikbaar stel en dus self pa staan vir die risiko en onkoste verbonde aan foute. In die geval van vertoonde pryse wat foutief is, moet die winkel pa staan totdat die verbruiker oor die fout ingelig is.

Indien die Nasionale Verbruikerstribunaal bevind dat winkels nie hieraan voldoen nie, kan die winkel ʼn administratiewe boete van tot R1 miljoen of 10% van sy wins opgelê word.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by www.cgso.org.za of jy kan die oproepsentrum bel op 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

By n sekere supermark bied hulle koffie aan (750g @ R75.00) Die week daarna is dit op n spesiale prys vir R269.00 vir 3 – Go figure.

Bart-Man ·

Ek kan nie verstaan hoekom ons nie altyd die beste pryse kan kry nie. Ek is moeg vir bargain hunting. Ek wens ek kon altyd na my local market gaan, met die wete dat ek weet ek het die beste waarde vir geld gekry.

Nommer 7 ·

Kleinhandelaars poog om ‘n konstante omset te he^. Middel van die maand is verkope laag, en moet die pryse meer wees, Einde van die maand is verkope meer, en pryse word dan verlaag, met gepaardgaande “specials”.

Nettie ·

Ons was eenmaal na ‘n supermark vir ‘n goeie afslag op ons gunsteling koffie. Dit was 15:30. Ons is vertel die afslag geld SLEGS tussen 17:00-18:00. Dit was in die “kleinskrif” van die advertensie. In my opinie, was dit baie swak van die betrokke supermark. Sekerlik hulle reg, maar in swak smaak.

Die bestuurder het geweier om dit vir ons teen die spesiale prys te gee en ons het nie die tyd gehad om vir ‘n uur en ‘n half te wag nie, so ons het dit terug gesit.

piet ·

Ek vind hierdie koop 2 of 3 items en kry dan afslag verskriklik irriterend. Ek wil nie 2 of 3 items he nie maar net een. En ook nie nodig om rond te soek vir winkopies nie, koop maar jou kruideniersware by Shoprite omtrent altyd die goedkoopste. Soos hulle grootbaas Mr. Weil jare terug gese het: waentjie vir waentjie die goedkoopste. Pasop net vir hulle vleis, delicatessen en groente, nie altyd op standaard nie (hier hang dit baie af van die tak).

Eclectus ·

My vrou is die ewigdurende slagoffer van al wat ‘n afslag is, en dit sluit onnodige aankope in want “dit was op special”. My argument is dat ongeag hoeveel die item afgemerk is, daar bly ‘n winsmarge daarop al is dit minder. Supermarkgroepe bombardeer ons daagliks met advertensies oor hoe hulle ons help bespaar, maar dan kondig hulle elke ses maande rekord winste aan. Inteendeel, die gemiddelde kruideniers winsmarge in Suid-Afrika beloop 6%, terwyl dit maar 3% in Amerika en Europa is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.