Wat gaan dit van jou vat om op te staan vir jóú erfenis?

Deur Marné Scholtz

Sonsondergang by my ysterossewa (Foto: Verskaf/FAK)

Soos ek sit op die yskoue ysterossewa onder my, dink ek aan die week wat verby is. Dis volmaan in die ossewalaer by Bloedrivier en dié wa is my bed vir die nag. ʼn Voorreg en kulturele ervaring, maar koud, en ek wonder hoe ons voorouers dit vir so lank kon doen. Hoe pas jy jou hele lewe in ʼn wa?

Met ʼn projek in Bloemfontein einde Februarie het ons besoek afgelê by die Ou Presidensiehuis, ʼn pragtige statige huis op sy tyd. Die FAK het te hore gekom van die aaklige toestand waarin die huis was; dat die dak verwoes en daar reënskade was aan die geskiedkundige meubels.

Met behulp van die gemeenskap lyk dit nou… orraait. Daar is nie meer ʼn moeras langs die huis nie, die tuine voor is opgeknap. Ek kan met volle vertroudheid sê dit lyk nou “oukei”. Maar ons kom by hierdie pragtige huis aan, wat nou ʼn museum is, en ons kan nie eens ingaan nie want die kragrekening is nie betaal nie. ʼn Erfenisskat wat tot niet gaan.

By die Bloedrivier-erfenisterrein (Foto: Verskaf/FAK)

Ek is ʼn mediabeampte vir die FAK en die Voortrekkermonument. In die laaste jaar het ek die voorreg gehad om verskeie kulturele bakens te besoek en alhoewel al hierdie bakens elkeen ongelooflike stories vertel, het hulle almal een ding in gemeen: dit is verwoes, verrinneweer of gevandaliseer.

Die FAK en Voortrekkermonument het die jong personeel en interns op toer geneem op die spore van die Groot Trek. Ons het Kerkenberg besoek, Bloukrans, Vegkop en vele ander belangrike plekke op die pad wat ons voorouers gestap het op hulle reis tot vryheid.

Ek besef vir ons groep interns, waarvan die meeste nog nooit geskiedkundige erfenisbakens besoek het nie, is dit ʼn ontdekkingsreis, ʼn ontdekking van ons wortels en liefde vir erfenis. Hierdie groep het ongetwyfeld ingekoop in die FAK se missie om erfenisverwoesting teen te staan, maar nog te meer ingekoop in die bewaring en uitlewing van ons geskiedenis. Dit is ʼn voorreg wat min van ons het.

Op die plek waar Deborah Retief haar pa, Piet Retief, se naam teen die klip geverf het (Foto: Verskaf/FAK)

Maar ek sit op my ossewa en wonder hoekom niemand anders omgee nie.

Ek is in die nuwe Suid-Afrika gebore. Wanneer taxi’s voor my indruk; wanneer ek nog ʼn band moet vervang weens die nuwe slaggate wat ek nog nie op my pad werk toe leer ken het nie; wanneer dit beurtkrag is, aanvaar ek dit net so, want dit is hoe dit maar nog altyd was. Ek dink nie ek weet wat goeie diens is nie. Ek dink nie ek weet hoe lyk ʼn land waar publieke vervoer effektief funksioneer nie, en ek dink nie ek weet hoe lyk ʼn regering wat omgee oor mý erfenis nie.

En ek besef baie van my mense gee ook nie om nie, of dalk net nie genoeg om iets daaraan te doen nie.

Ek en kollegas het verlede jaar vir oom Paul op Kerkplein gaan kuier vir ʼn projek van die kultuurnetwerke. Maar waar Kerkplein eens op ʼn tyd die sentrale punt in Pretoria was, veilig, pragtig, dié plek om te wees, het dit gevoel of ek hom in die tronk gaan besoek. Waar in die wêreld is dit nodig om ʼn oudpresident van die land agter tralies weg te steek, vir sy eie veiligheid?

By Bloukrans se gedenkmonument is Gerrit Maritz se graf se gedenksteen afgesteel en die marmerfriestoneeltjie is so te sê verwoes.

Gerrit Maritz se graf by die Bloukrans monument. Die grafsteen en gedenkplaat is weg (Foto: Verskaf/FAK)

Ons hoor te gereeld van nóg ʼn beeld wat geskuif gaan word, van nóg ʼn monument wat verwaarloos is, van nóg ʼn gedenkwaardigheid wat gevandaliseer is deur een of ander ou met die naam “Joey” wat homself net nie kon keer om sy naam bo-oor Dirkie Uys se gedenkwaentjie in Somerset-Wes te spuitverf nie – dis darem nou al deur die plaaslike munisipaliteit met die FAK se hulp reggestel, maar op ʼn weeklikse basis word ek deur ons kultuurkoördineerders gebel en vertel van nóg ʼn plek, monument, gedenkteken, beeld, wat tot niet gaan.

Hoeveel Voortrekkergrafte moet geskuif word? Hoeveel monumente se name moet verander? Hoeveel biljoene rande moet op partytjies spandeer word, of verkwis word, verloor word, weggegee word aan sokkerspanne, voordat ons saamstaan en die lyn trek?

Wat gaan dit van jou vat om oor jóú erfenis om te gee?

Ek besef nou dat dit maklik is om jou lewe in ʼn wa te pas, wanneer dit eintlik net jou gesin hoef te vervoer. Wanneer jy jou bestemming bereik, bou jy vir jou ʼn lewe.

Ossewaens terwyl dit nog lig was (Foto: Verskaf/FAK)

Ons voorouers se reis na vryheid het ons s’n geword. Gaan jy staan en kyk hoe hulle nalatenskap, aan jou toevertrou, tot niet gaan? Het jy dan vergeet dat hulle vir vryheid alles opgeoffer het?

Wat gaan dit van jou vat om vir jou erfenis op te staan, skouer aan die wiel te sit en seker te maak dat dit nie tot niet gaan nie?

  • Marné Scholtz is ‘n mediabeampte vir die FAK en die Voortrekkermonument.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Alternatief moet ‘n onafhanklike tuistaat gekoop word waar ons weer as ‘n volk kan opstaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

In my geestesoog sien ek al ‘n pretpark in die nuwe staat met museums wat herbou word op terreine wat spesiaal geskep is. Sal ‘n treffer wees!

Groen Ghoen ·

Die “staat” doen dit dalk met opset? Die Afrikaners moet sonder ‘n verlede wees, sodat hulle daar in die “Nuwe S.A.” se identiteitslose massa kan verdwyn…. niemand meer om teenstand teen die ANC te bied nie. Siedaar! Probleem opgelos.

Republikein in die Wes Kaap ·

100%! Niemand weet hoe het ons hier beland nie. En niemand gee om nie.

Anna-marie ·

Dit word “nasiebou” genoem (ook oorsee gebruik hulle dieselfde tegnieke). Hulle het al ver gevorder daarmee danksy rugby…….Gee vir die mense rugby en siedaar!!

trotsNAMSA ·

Ai, die Afrikaners. Ons geskiedenis en monumente, grafte is lankal al vergete en vernietig deur dié einste Afrikaners.
Hoeveel Afrikaners weet die omstandighede (watter eeu) wanneer sy/hy voorsate in SA, Namibië en Angola kom “woon” het ? Wie is jou direkte voorvader ? Waar het jou voorvader vandaan gekom ? Ons kinders weet nie wie Piet Retief en ander figure was nie. Waarom ? Die grootmense wat hulself Afrikaner noem vandag, kan nie/ken nie, sy/haar voorvaders se stories nie. Ons kinders moet in hul Afrikaner huise opgevoed word in hul geskiedenis. Die Regering, skole of organisasies is nie daarvoor verantwoordelik nie. Ek ken my familie se volle reis na Afrika. Hoekom ? My ouers, navorsing en goeie boeke oor ons Afrikaners het my gevorm. Nie grafte, monumente, Regerings of skole nie. Vra die Afrikaner kinders/ouers wat was die Boererepublieke en redes vir die Afrikaners se drang na “vryheid”, en hulle weet niks, kom ons Google. Gert MARITZ en Kie, rus in vrede.

Schalk ·

Die gemiddelde persoon tussen 0 en 45 jaar in die land staan nie op vir ons Geskeidenis nie. So jammer dat mense so maklik moed opgee. Die lewe is nie maklik nie toegegee maar as elkeen net nie bly terugstaan nie is alles moontlik

Republikein in die Wes Kaap ·

Mense wat na 1975 gebore is het hulle vasgeloop teen rassediskriminasie en is onnugter. Hulle het moed verloor en maak nou ‘n volgende generasie groot wat gewoond is om nie aan die hooftafel te sit nie. Die ANC weet hoe om ‘n volk se gees en durf te knak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.