Werk slim met jou finansies in 2021

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Ronel Jooste

Die jaar 2020 was ’n moeilike jaar en ekonome voorspel dat 2021 selfs moeiliker kan wees.

Meeste van ons is op een of ander manier geraak. Individue het hul werk verloor, baie huishoudings se inkomste is nadelig geraak, sakeondernemings moes sluit en die ekonomie het ’n verdere knou gekry. Dit is ’n harde werklikheid wat baie finansiële spanning veroorsaak.

Die beste wat ons almal nou kan doen, is om positief te bly, vorentoe te kyk en die beste te maak van dit wat ons het.

Om ’n effektiewe begroting te gebruik om jou finansies doeltreffend te bestuur, verskaf ’n sterk fondasie vir jou finansiële welstand.

Hier is ’n paar wenke:

  • Skryf jou begroting neer, hou dit elektroniese by of gebruik ’n app, maar dis belangrik om dit nie net in jou kop te hou nie;
  • Sluit al jou inkomstebronne in (salaris, kommissie, besigheidsinkomste, huurinkomste, beleggingsinkomste, ensovoorts), asook al jou uitgawes. Dit help sodat jy kan bepaal of jy meer spandeer as wat jy verdien;
  • Begroot daarvoor om te spaar, selfs al sit jy net ’n klein bedrag weg elke maand. Jy kan dit ook gebruik om addisioneel op jou skuld te betaal om sodoende jou skuld vinniger te kan afbetaal;
  • Bepaal eerstens wat is die uitgawes waarsonder jy nie kan oorleef nie, byvoorbeeld, kos, huisvesting, water en elektrisiteit, vervoer, ensovoorts. Alhoewel jy die uitgawes nie kan uitsny nie, kyk wel hoe jy besparings moontlik kan maak;
  • Bepaal dan wat is die uitgawes waarsonder jy wel kan oorleef, byvoorbeeld, vermaak, klere, haarkapper, ensovoorts. Sluit dit in volgens wat jou begroting toelaat. As jy nie ’n begroting daarvoor het nie, kyk hoe kan jy daarop bespaar of sny dit heeltemal uit;
  • Neem daardie klein uitgawes wat gou ophoop in ag, byvoorbeeld, ’n koppie koffie as jy by die vulstasie wag of daardie tydskrif by die betaalpunt. Sny dit sover moontlik;
  • Neem inflasie en jaarlikse verhogings op, onder meer, mediese fondse en versekering in ag;
  • Begroot ook vir eenmalige uitgawes soos kinderpartytjies, hernuwing van lisensies, skoolklere en skryfbehoeftes.
  • Die grendeltydperk het ons geleer hoe maklik en vinnig onvoorsiene omstandighede kan plaasvind. Maak voorsiening vir onvoorsiene uitgawes in jou begroting byvoorbeeld ’n stoof wat breek of mediese onkoste wat die mediese fonds nie dek nie.

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Die impak van die grendeltydperk het egter veroorsaak dat baie individue en huisgesinne eenvoudig nie meer met hul begrotings kan uitkom nie, ongeag hoe slim hulle met hul begrotings te werk gaan, omdat hul inkomste negatief geraak is. Die tyd het aangebreek om te begin kyk na alternatiewe maniere om ’n addisionele inkomste te skep. Hier is ’n paar voorstelle om te oorweeg:

  • Omskep jou stokperdjie in ’n inkomste-genererende bron. Daar is baie mense wat dit doen en later raak dit so suksesvol dat dit hulle heeltydse beroep word;
  • As jy ’n storie het om te vertel of kennis het oor ’n sekere onderwerp, begin ’n webjoernaal of skryf ’n aanlyn boek;
  • Wees op die uitkyk vir geleenthede om iemand anders se dienste of produkte te bemark;
  • Begin ’n klein sakeonderneming. Daar is baie tipe besighede wat jy kan oorweeg wat nie ’n groot kapitaaluitleg vereis nie en jy in jou vrye tyd kan doen;
  • Gebruik jou kennis en ervaring om aanlyn kursusse te ontwikkel. Daar is ’n groot oplewing in die aanlynwêreld en daar is altyd mense wat nog moet leer wat jy reeds weet; of
  • Identifiseer die behoeftes in die gemeenskap en hoe jy moontlik daarin kan voorsien. As daar ’n mark en ’n behoefte is, sal jy altyd geld kan maak.

Dit maak nie saak hoe klein die inkomste is nie. Dis ’n begin en dis ’n stap in die regte rigting. Dit sal mettertyd groei en jy sal die besluit nooit berou nie. Duisende mense doen dit reeds en jy kan ook. Waar daar ’n wil is, is daar altyd ’n weg.

Let ook daarop dat daar baie swendelaars is gedurende moeilike finansiële tye wat nie sal skroom om jou uit te buit nie. Wees bedag daarop en doen behoorlike navorsing. As iets te goed klink om waar te wees, bly liewers weg.

Ek wens jou ’n voorspoedige 2021 toe en mag jy finansiële sukses behaal ongeag hoe moeilik die huidige omstandighede mag wees. Werk slim met jou finansies!

  • Lesers kan ’n spesiale korting van R300 ontvang op die Effective Budgeting-aanlynkursus. Die normale prys is R797, lesers betaal dus net R497. Volg hierdie skakel en gebruik die koeponkode “frouevonds” om die korting te kry.
  • Ronel Jooste is ʼn geoktrooieerde rekenmeester, finansiële konsultant, spreker en outeur. Ronel en Solidariteit Helpende Hand streef daarna om Suid-Afrikaners te help met begrotings en finansiële kundigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.