Musk is nou nie meer die wêreld se rykste

Die Switserse tennisspeler Roger Federer en sy vrou, Mirka, saam met Franse sakeman, belegger en kunsversamelaar Bernard Arnault en sy vrou, Helene Mercier, by die bekendstelling van Louis Vuitton se lente/somerversameling in Parys. Foto: Francois Mori /AP

Hy twiet glad nie en het Elon Musk onlangs onttroon om die boonste plek op Forbes se lys van die rykste mense in te neem. Hoewel sommige gemeen het die Fransman Bernard Arnault en sy familie sou gou hul Louis Vuitton-tasse moes pak sodat die Suid-Afrikaans gebore Twitter-eienaar sy Tesla weer in die voorste posisie kon parkeer, klou die 73-jarige Arnault nog vas aan die boonste podiumplek.

Arnault, uitvoerende hoof en voorsitter van die LVMH-sakeryk bestaande uit sowat 70 mode- en skoonheidshandelsmerke, het op 14 Desember met ’n fortuin van $188,6 miljard gespog, teenoor die $176,8 miljard van Musk. Arnault en sy familie se bekendste belange sluit in Moët, Hennessy, Louis Vuitton en Sephora.

Dié familie het oor die jare reusagtige saketreë gegee. Arnault se pa het sy fortuin uit konstruksie gemaak en Bernard het Christian Dior met $15 miljoen van dié geld in 1985 bekom. In 2013 het die familieskatkis slegs $29 miljard in gehad, maar verskeie slim kopies en buitengewone groei in die mark vir luukse goedere, het dit in minder as ’n dekade met 550% laat toeneem. Die grootste groei was tussen 2020 ($76 miljard) tot die meer as $188 miljard tans.

LVMH het in 2019 altesaam $3,2 miljard bestee om die gasvryheidsgroep Belmond te bekom. Belmond bestuur of besit 46 luukse hotelle, treine en riviervaarte. In Januarie 2021 het LVMH die Amerikaanse juwelier Tiffany & Co vir $15,8 miljard verkry, wat glo die grootste luuksehandelsmerkverkryging ooit is.

Arnault se vrou, Helene Mercier, is ’n konsertpianis, en vier van hul vyf kinders – Frédéric, Delphine, Antoine and Alexandre – is by die sakeryk betrokke. Die familie het in 2019 sowat €200 miljoen bewillig vir herstelwerk aan die Norte Dame in Parys, Frankryk, nadat dit deur ’n reusebrand beskadig is. Dié wêreldbekende katedraal sal na verwagting vyf jaar ná die brand, in 2024, heropen.

Wat (het) gebeur met Musk se geur?

Elon Musk. (Foto: Patrick Pleul/POOL/AFP)

Musk (51) het sedert September 2021 koning op die Forbes-lys gekraai toe hy die topposisie by Amazon-grootbaas Jeff Bezos (58) weggeraap het. Musk se rykdom was in ’n stadium bo die $200 miljard-kerf, maar het sedertdien heelwat stoom verloor.

Die elektriesemotorvervaardiger Tesla kry die wind van voor sedert Musk die eerste Twitter-geluide begin maak het en het meer as die helfte van sy markwaarde verloor. Tesla se markkapitalisasie het van $1,2 biljoen (trillion) ’n jaar gelede tot net meer as $530 miljard tans getuimel. Dit klink dalk net na ’n klomp syfers, maar dié daling is gelykstaande aan die waarde van drie Disney’s, vier Nike’s of ses Starbucks!

Musk het Twitter ná ’n uitgerekte gekwettery eindelik in Oktober bekom en besit nou sowat 82% van dié sosialemediagroep met sy sowat 240 miljoen gebruikers. Hy besit ook onder andere die vuurpylvervaardiger SpaceX.

Dié dikwels omstrede pa van nege kinders, onder wie ’n tweeling en ʼn drieling by drie verskillende vroue, het homself glo leer kodeer en sy eerste speletjie vir $500 van die hand gesit. In die jongste episode van die Twitter-sage wat volg op ’n uittog van 1 200 werknemers in November, het Musk werknemers die afgelope week in ’n nuwe ultimatumskrywe met regsaksie gedreig indien hulle enige vertroulike inligting laat uitlek.

Wie’s (nog) wie onder die rykstes

Nommer drie op die lys ($134,9 miljard) is Gautam Adani (60), voorsitter van die Adani Groep, wat belange in onder meer hawens, lughawens, kragopwekking en -transmissie, hernieubare energie, eetbare olie, sement en eiendom het. Adani beheer Mundra Port, Indië se grootste hawe, en besit ook ’n 74%-belang in die Moembai Internasionale Lughawe, Indië se tweede besigste lughawe. Adani wil die wêreld se grootste produsent van hernieubare energie wees en beplan om tot $70 miljard hierin te belê.

Jeff Bezos (58), tans nommer vier op Forbes se lys met ’n rykdom van $115,7 miljard, het die e-handelsreus Amazon in 1994 uit sy motorhuis in Seattle in die VSA op die been gebring en besit vandag sowat 10% van Amazon. Sy fortuin het heelwat gekrimp nadat hy en sy vrou, MacKenzie, in 2019 geskei en hy ’n kwart van sy Amazon-belang moes opdok. Hy het vanjaar ook meer as $400 miljoen in aandele aan maatskappye sonder winsmotief geskenk. Bezos, wat ook The Washington Post en Blue Origin, ’n lugvaartmaatskappy wat vuurpyle ontwikkel, besit, het gesê hy beplan om die grootste deel van sy fortuin in sy leeftyd weg te gee.

Twee ou bekendes op Forbes se lys, Warren Buffett ($108,3 miljard) en Bill Gates ($106,9 miljard), is onderskeidelik vyfde en sesde. Buffett (92) word beskou as een van die suksesvolste beleggers ooit en het op 11-jarige ouderdom sy eerste aandele gekoop. Hy bestuur Berkshire Hathaway, wat onder andere die batteryvervaardiger Duracell besit. Soos Bezos, het hy onderneem om 99% van sy rykdom weg te gee en het reeds bykans $50 miljard vir Microsoft-stigter Gates (67) se filantropiese stigting asook sy kinders s’n geskenk.

Vyf rykste Suid-Afrikaners op die lys

  • Johann Rupert en familie (192ste plek) – $9,7 miljard.
  • Nicky Oppenheimer en familie (229ste plek) – $8,6 miljard.
  • Patrice Motsepe (1 092ste plek) – $2,7 miljard.
  • Koos Bekker (1 222ste plek) – $2,4 miljard.
  • Michiel le Roux (2 206ste plek) – $1,4 miljard.

Bykomende bronne: Yahoo! Finance, Forbes, Market Watch en Tech Crunch.

*Die berig is gewysig sedert plasing – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mundus ·

Musk se rykdom is oorwaardeer, selfs volgens sy eie bekentenis. Forbes gebruik grotendeels die markwaarde van die rykes se aandele in hulle maatskappye, vir die ranglys. Tesla se aandeleprys is hopeloos duur in vergelyking met winste, en sal nie op die ou end daardie waardes kan realiseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.