Breek só skuld se smoorgreep  

Maroela Media gee 10 wenke om skuld se wurggreep te breek. (Foto: iStock)

Suid-Afrikaners is in ’n skuldsmoorgreep. Volgens die Experian South Africa’s Consumer Default Index beloop verbruikerskuld tans R1,9 biljoen (“trillion”), terwyl Trading Economics berig dat ons skuld-tot-inkomste-koers ’n astronomiese 77% beloop.

Volgens DebtBusters, een van die land se grootste skuldberadingsgroepe, betaal mense wat aansoek doen vir skuldberading en meer as R20 000 per maand verdien, meer as 60% van hul maandelikse netto inkomste aan skuld en het talle ’n skuld-tot-inkomste-verhouding van meer as 130%. Die grootste deel van dié skuld, sê Benay Sager, hoof van DebtBusters, is ongesekureerde skuld met ’n baie hoë rentekoers.

Die finansiëledienstemaatskappy Transaction Capital sê op sy beurt dat ongeveer 38% van lenings nie ’n goeie status het nie (“in good standing”) en dat tot 34% van huishoudings in Suid-Afrika uit die middelklas kan verdwyn.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, beskryf die invloed van Covid-19, die stygende werkloosheidsyfer en drastiese styging in lewenskoste vir verbruikers as ’n “bloedbad op straat”.

Volgens Jaco Mostert, finansiële adviseur by Solidariteit Finansiële Dienste, maak soveel as 80% van Suid-Afrikaners gebruik van onversekerde krediet- of betaaldaglenings. “Albei kos geweldig baie, gegewe die rente op die hoofleningbedrag, veral as dit van ’n geldskieter kom wat dikwels tussen 50% en 112% rente hef.

“Dit is onvolhoubaar en plaas Suid-Afrikaners in gevaarlike dryfsand waar skuld gebruik word om skuld mee te betaal. Verbruikers koop weens die stygende lewenskoste selfs kruideniersware op skuld,” sê Mostert.

As deel van Spaarmaand het Maroela Media tien skuldwenke saamgestel:

1.Betaal dít eerste

Prioritiseer jou skuld. Sommige klererekenings bied byvoorbeeld rentevrye betalingsplanne oor ses maande. Betaal eers jou rentedraende skuld, en heel eerste die skuld met die hoogste rentekoers (soos kredietkaartskuld). Bepaal presies hoeveel jy skuld en hou ’n bygewerkte lys van al jou skuld, skuldeisers, bedrae betaalbaar en sperdatums.

 2. Moenie betalings mis nie

As jy eers betalings begin mis, raak dit al hoe moeiliker om weer in te haal. Maandelikse debietorders sal jou help om op die regte spoor te bly. Swak of laat betaling beïnvloed jou kredietgradering, wat goedkeuring vir ’n huislening, voertuigfinansiering of ’n oortrokke gerief sal bemoeilik. Baie maatskappye doen kredietnavrae oor aansoekers vir poste, en jou werkvooruitsigte kan beïnvloed word deur ’n negatiewe kredietpunt. Vir sake-eienaars kan ’n swak kredietgradering lenings vir die besigheid of gunstige betalingsvoorwaardes van verskaffers in die wiele ry.

3. Vaste of wisselende rentekoers?

Wanneer jy ’n lening aangaan het jy dikwels die keuse tussen ’n vaste en wisselende rentekoers. ’n Vaste koers is gewoonlik hoër, maar stel jou in staat om akkuraat vir jou maandelikse skuldterugbetaling te begroot. ’n Wisselende koers is aan die repokoers gekoppel. As dié koers deur die Reserwebank verhoog word (en die uitleenkoers van banke gevolglik ook verhoog), sal jou terugbetalingsbedrag dienooreenkomstig styg. Met die repokoers wat tans op sy laagste vlak in bykans 50 jaar is, is die vraag of jy rentekoersstygings in jou maandelikse begroting sal kan absorbeer?

4. Betaal meer (wanneer jy kan)

Dit is ideaal om ’n bietjie ekstra te betaal as wat jy elke maand skuld. Dit sal jou afbetalingstermyn vinnig verkort. Hoewel dit nie altyd moontlik is nie, moet jy minstens die minimum maandelikse bedrag betaal om te verseker dat jou skuld nie hand uit ruk nie. As jy gelukkig genoeg is om ’n bonus by die werk te ontvang, gebruik ’n deel van dié geld om jou skuldlas draagliker te maak.

5. Bêre jou beursie!

Die versoeking om daardie spreekwoordelike hondjie (of grootskermtelevisie) in die venster te koop, is groot. Die terugbetalingsbedrag lyk dalk klein, maar dis juis klomp klein skuldjakkalsies wat die wingerd opvreet. Hoewel dit nie jou skuld sal verminder nie, moet jy ’n stokkie voor onnodige en impulsiewe inkopies steek. Sit eerder ’n paar rand per maand weg totdat jy genoeg geld het om kontant te betaal.

6. Totsiens, wit olifante

Dis nou ’n goeie tyd om bietjie orde in die huis te skep. Al is jy nie ’n opgaarder nie, is die kans groot dat jy ’n hele paar wit olifante in die huis sal vind wat jy vir kontant kan verkoop. Elke sent tel, so wend ’n daadwerklike poging aan om alles wat jy nie meer gebruik nie, te verkoop. Gebruik dié kontant om ’n duik in jou skuld te maak.

 7. Begrotingsdieet

Ons almal se begroting kan doen met ’n draffie om die blok. Wees genadeloos as jy die bestedingsgordel intrek (Onthou: Elke sent wat jy spaar, kan jou skuld verminder). Is die duurste DStv-pakket werklik nodig? Wat van Netflix of Showmax probeer? Wanneer laas was jy in die gimnasium? Kanselleer jou maandelikse lidmaatskap en raak (gratis!) aktief in en om die huis.

8. Fokus op goeie skuld

Goeie skuld is geld wat jy leen om meer geld te kan verdien. Dit is die soort skuld wat welvaart skep. Beskou dit as ’n belegging wat in waarde sal toeneem of ’n langtermyninkomste sal genereer, soos ’n studielening (wat jou sal help om ’n beter inkomste te verdien), of ’n huislening (wat jou eienaarskap van ’n eiendom gee wat met die jare in waarde sal toeneem).

 9. Oorweeg skuldkonsolidasie

Skuldkonsolidasie beteken om ’n nuwe lening aan te gaan om ’n klomp klein skuldbedrae te delg. Veelvuldige skuld word saamgevoeg in ʼn enkele, groter skuldbedrag, gewoonlik met gunstiger afbetalingsterme, soos ’n laer rentekoers, ’n laer maandelikse betaling of albei. Om al jou uitstaande skuld met ’n enkele lening te dek, is ’n eenvoudige manier om al jou krediteure tegelyk met slegs een maandelikse paaiement te betaal.

10. Vier jou skuldsuksesse

Stel duidelike skulddelgingsdoelwitte en vier die klein suksesse. Beloon jouself (natuurlik binne perke) as jy ’n rekening afbetaal het. Sluit dié afbetaalde rekening en verbind jouself daartoe om sover moontlik voortaan slegs kontant te gebruik. Sodra die meeste van jou skuld vereffen is, begin om geld in ’n noodfonds te bêre wat minstens drie maande van jou inkomste in ’n noodgeval kan vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thys

Ek het oorlog verklaar teen rente en dit werk!

koos

Skuld is nie jou vriend nie – wag totdat jy op pensioen moet gaan, dan vang die sondes van jou onbesonne jeug jou. O, jy sê dat jy maar gaan aanhou moet werk? Wag maar dat ‘n beroerte helfte van jou brein uithaal, of dat covid jou ‘n snotklap gee, of vroulief en die buurman trek weg, of jou useless broer kom trek in by julle want hy is nou werkloos, en so kan ek aangaan oor die kaarte wat die Lewe vir jou kan uitdeel. Maak dus nou dadelik ‘n dringende besluit, raak ontslae van slegte skuld soos kar… Lees meer »