Huiskopers: Vermy elektriese ellende só

Foto ter illustrasie. (Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Een van die grootste stappe wat ʼn mens in jou lewe neem, is om ʼn huis te koop. Dis tegelykertyd opwindend en angswekkend, maar wanneer jy daardie sleutel in jou hand het, voel jy soos die koning van jou eie ryk.

Tog tref die nare werklikheid ʼn mens te dikwels daarna – dakke wat skielik lek, foute wat toegeverf is of swak bouwerk wat jou slapelose nagte gee.

Een van die grootste kopsere in vandag se huismark, is die onregmatige uitreik van elektriese sertifikate van voldoening – in Engels die certificate of compliance of COC. Deesdae word daar maklik gekonkel om daardie sertifikaat uitgereik te kry, sonder om die duisende rande te spandeer wat nodig is om te verseker dat die huis geen elektriese gevaar inhou nie.

Wie se verantwoordelikheid is dit?

Cecil Lancaster, streeksdirekteur van die Elektrotegniese Aannemersvereniging van Suid-Afrika (EAV(SA) of ECA(SA)), verduidelik dat huiseienaars volgens wetgewing ten alle tye ʼn geldige elektriese sertifikaat moet hê, en dat die huis geensins aan kopers bemark mag word alvorens dit nagekom is nie. “Ons weet dat eienaars dikwels nie hierdie sertifikaat het nie of nie weet waar dit is nie. Gevolglik word dit meestal verkeerdelik agterna gedoen.”

Daar bestaan egter beduidende verwarring tussen veiligheidsertifisering en die koopooreenkoms tussen die koper en verkoper, noem Lancaster verder.

“Die koopooreenkoms beskryf wat verkoop word, die toestand en funksionering daarvan ensovoorts. Hierdie kontrak is tussen die koper en verkoper. In teenstelling daarmee staan die ooreenkoms tussen die verkoper en sy elektrisiën vir die uitreik van die elektriese sertifikaat. Dit is spesifiek vir die elektriese installasie of vaste bedrading. Daar is normaalweg geen direkte kontraktuele verbintenis tussen die elektrisiën en die koper nie.”

Die van elektriese sertifikaat van voldoening is nie ʼn waarborg vir enigiets anders as nakoming, dit wil sê veiligheid, nie. Dis ook belangrik om te besef dat toerusting slegs soverre die elektriese toevoer daarna gedek is. Probleme met die werking van toerusting is uitgesluit, en dit moet in terme van die koopooreenkoms aangespreek word.

Kortpaaie en tekortkominge

Hoewel die uitreik van elektriese sertifikate van voldoening baie belangrik is vir die bewoners van ʼn huis, stem Lancaster saam dat daar deesdae toenemend ʼn neiging is om kortpaaie te soek om die kostes daaraan verbonde te vermy. Eweneens is daar ook elektriese kontrakteurs wat op die uitkyk is vir ʼn vinnige geldjie en die sertifikaat uitreik sonder dat elektriese foute reggestel is.

“Meestal is hierdie ongeregistreerde mense wat hulleself uitgee as elektrisiëns, en ook nie lid is van die ECA(SA) nie. Die ECA(SA) se gedragskode laat dit nie toe nie, en ons voortdurende opleiding en vernuwing hou lede op hoogte van die vereistes en gevolge van oortredings.”

Die ECA(SA) ontvang op ʼn daaglikse basis navrae oor twyfelagtige elektriese sertifikate. Volgens Lancaster is die navrae dikwels ʼn dekmantel vir ʼn koper wat ontevrede geraak het met sy kopie, en probeer onttrek, of probeer om ietsie ekstra uit die kopie te kry. Andersins kry hy ook dikwels met verwarring tussen die koopooreenkoms, die elektriese sertifikaat en ʼn “waarborg” te doen. Soms het dit bloot gebeur dat die elektrisiën iets misgekyk het.

“Ons lede gaan sonder uitsondering terug en herstel op eie koste as hulle fouteer het. Dis deel van hulle inherente werk-trots en ook ons gedragskode.”

Wat is die gevolge vir oneerlike elektrisiëns?

Wetgewing maak voorsiening vir boetes en tronkstraf. Bykomend kan die hoofinspekteur van die Departement van Arbeid so ʼn elektrisiën se lisensie terugtrek of hom tydelik of voorwaardelik skors.

“Lede van ECA(SA) sal ondersoek word en skuldiges sal aangesê word om sy foute te herstel. Indien hy nie in staat is nie (dood of oorsee is), kan ons dit in terme van sy vakmanskapswaarborg, tot ʼn maksimum van R20 000, laat herstel. Die ECA(SA) se grondwet en gedragskode bepaal ook dat ons lede beboet kan word, verplig word om bykomende opleiding te ondergaan, of geskors kan word. Daar is dan ook die risiko dat hy siviel van bedrog aangekla kan word, op sterkte van die uitreik van ʼn valse verklaring,” sê Lancaster.

Wat verkopers moet weet

Huiseienaars moet sorg dat hulle altyd oor ʼn geldige elektriese sertifikaat beskik, saam met ʼn toetsverslag van ʼn geregistreerde elektrisiën. Wanneer jy by jou huis aanbou of verander en ook bedrading aanpas, moet jy ʼn nuwe sertifikaat vir die veranderinge kry.

Jy mag ook nie jou huis verkoop met ʼn sertifikaat wat ouer as twee jaar is nie. Maak seker dat die elektrisiën wat jy gebruik, wel by die Departement van Arbeid geregistreer is om elektriese sertifikate te mag uitreik. Bykomende lidmaatskap van ECA(SA) is ʼn besliste voordeel.

Wat kopers moet weet

Lancaster verduidelik dat dit uiters moeilik is vir ʼn oningeligte persoon of nie-spesialis om self te bepaal of sy elektriese bedrading aan die nodige standaarde voldoen. “Die beste is om ʼn verhouding te kweek met ʼn elektrisiën wat jy vertrou. Maak seker dat hy korrek geregistreer is en sy getuigskrifte naspeurbaar is. Op die lang duur sal hy vertroud raak met jou eiendom en dus vinniger foute kan optel, en omdat hy verwag/ hoop dat jy hom sal gebruik vir toekomstige werk, beter diens lewer.”

Hoewel die verkoper of sy agent gewoonlik reeds ʼn elektrisiën aangestel en die elektriese sertifikaat van voldoening bekom het teen die tyd dat die koper in die prentjie kom, sê Lancaster dat die koper tog kan navraag doen oor die elektrisiën se bevoegdheid en dit beslis moet doen.

“In die wêreld van prokureurs verwys hulle graag na “caveat emptor”. Dit plaas die onus om versigtig te wees vir skelmstreke op die koper. Die ECA(SA) kan wel help om te kyk na voltooide sertifikate van voldoening, maar het ongelukkig nie die kapasiteit om al die duisende wat uitgereik word te ondersoek nie. Ons help wel waar lede betrokke is.”

Hy beveel aan dat huiseienaars vir hul eie gemoedsrus slegs van die sowat 3 500 ECA(SA)-lede gebruik maak. Dit is die enigste erkende werkgewersvereniging in die elektriese kontrakteursbedryf, wat al sedert 1948 op nasionale vlak bestaan en sowat 75% van die werksmag verteenwoordig.

Om in verbinding te kom met ʼn ECA(SA)-lid, volg die “Find Member”-skakel op die webwerf en volg die aanwysings, of skakel gerus jou naaste ECA(SA)-kantoor.

“Dit is ʼn voorvereiste vir ECA(SA)-lidmaatskap om toepaslik (tot op datum) geregistreer, gekwalifiseerd en bekwaam te wees. Daar is ook ʼn gedragskode en hulle werk is gewaarborg tot R20 000, uiteraard is daar voorwaardes en beperkings.”

Ander klagtes of navrae moet aan die Departement gerig word, hulle besonderhede is op hulle webwerf www.labour.gov.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sparky ·

Ek het in so geval tweede gekom,n huis gekoop waar ek geensins n sertifikaat gekry het nie.Ons bly nou al twee jaar hier en glo my ,het al baie elektriese foute op gespoor en laat herstel.So wat staan my as verbruiker te doen om so saak aan te meld.

koos ·

Wat is R20k se dekking nou? Belaglik, en dan laat die artikel dit klink asof ek my hele huis kan oorbou en herbedraad in die geval van ‘n eis, met ‘n lang Switserse vakansie daarna om van die trauma te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.