Minder vir Jan Taks – meer vir studente

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Deur Karlynka Stafford
Fondsbestuurder: Solidariteit Helpende Hand Studietrust

Die eerste maand van 2024 is in ‘n oogwink verby en die einde van die 2023-belastingjaar klop in Februarie aan die deur. Wat staan ons as salaristrekkers nou te doen om ons belastingaanspreeklikheid te verminder? ‘n Artikel 18A-belastingsertifikaat blyk die beste en maklikste opsie te wees.

‘n Artikel 18A-belastingsertifikaat is ‘n spesiale, voorgeskrewe kwitansie – uitgereik kragtens artikel 18A van die Inkomstebelastingwet. Dit word uitgereik deur ‘n artikel 18A-goedgekeurde maatskappy. Dit maak ‘n skenker geregtig op ‘n inkomstebelastingaftrekking van tot 10% van sy of haar belasbare inkomste vir die jaar vir skenkings.

Solidariteit Helpende Hand se Studietrust is ‘n goeie opsie om ‘n donasie aan te maak indien jy ‘n bietjie minder aan Jan Taks wil skenk en dalk eerder vir ‘n student ‘n pad na die toekoms wil help oopkap.

Die Helpende Hand Studietrust is ‘n inisiatief wat in 2008 gestig is om behoeftige, Afrikaanse studente te help om met behulp van rentevrye studielenings te studeer. Die model van rentevrye studielenings is ‘n volhoubare benadering wat keer op keer nog studente die geleentheid bied om te studeer. Elke student moet sy of haar rentevrye studielening terugbetaal nadat hulle klaar gestudeer het en daardie geld is dan weer vir ‘n volgende student beskikbaar. Die terugbetalingsperiode is gelykstaande aan die tydperk wat ‘n student ‘n lening voor ontvang het.

Die Solidariteit Helpende Hand se Studietrust is ‘n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) en dus is dit ‘n artikel 18A-goedgekeurde maatskappy. Om vir ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat in aanmerking te kom, moet die skenking onvoorwaardelik (bona fide) wees, dit wil sê die skenker moet geen teenprestasie in ruil ontvang nie. So ‘n skenking kan eenmalig of maandeliks gemaak word.

Die Helpende Hand Studietrust het die afgelope 15 jaar reeds meer as 7 000 studente met ‘n totale bedrag van R300 miljoen se rentevrye studielenings gehelp. Altesaam 5 011 van hierdie studente het reeds afgestudeer en werk al. Daar is 307 donateurs betrokke by hierdie inisiatief om Afrikaanse studente in Suid-Afrika se drome te help bewaarheid.

Maniere om betrokke te raak

  • Stig jou eie studiefonds

Definieer jou eie maatstawwe en vereistes waaraan studente moet voldoen. Die Studietrust, in samewerking met die donateur, identifiseer verdienstelike studente wat aan die gespesifiseerde kriteria voldoen. Die Studietrust administreer alle studiefondse en doen verslag oor die studente se vordering. Alle donateurs van eenmalige en maandelikse skenkings is geregtig op ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat.

  • Skenk maandeliks ‘n bedrag

Dit is nie nodig om genoeg vir ‘n volle studiefonds te skenk nie. Jy kan ook ‘n maandelikse bydrae tot ‘n studiefonds maak.

  • Testamentêre bemakings

Testamentêre bemakings aan geregistreerde openbare weldaadsorganisasies (OWO’s) soos die Helpende Hand Studietrust is ingevolge artikel 4(h) van die Boedelbelastingwet belastingaftrekbaar.

As ons saamstaan en hierdie inisiatief van positiewe verandering ondersteun, kan ons saam ‘n toekoms van geleenthede en vooruitgang bou. Sluit aan by die Helpende Hand Studietrust deur die belastingveldtog te ondersteun en dra by tot ‘n samelewing waarin almal ‘n regverdige kans het om hul volle potensiaal te bereik.

Klik hier vir meer inligting.

(*Feite oor artikel 18A-belastingsertifikate is voorsien deur Ingé Fourie, Artikel 18A Admin-beampte: Helpende Hand Studietrust)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.