Ons Winkels maak dit makliker vir jong paartjies om nuwe huis in te rig

Argieffoto (Foto: Pexels / Pixabay)

Deur Marné du Plessis, hoof van bemarking by die Ons Winkels  

Deesdae raak dit al moeiliker vir jong paartjies om met ʼn nuwe huis te begin. Met die groot uitgawes van daaglikse lewenskoste kan dit ʼn reuse-uitdaging wees om jou en jou lewensmaat se nuwe nessie in te rig, om nie eens te praat van moontlike studieskuld of ʼn bruilofrekening wat afbetaal moet word nie. Dan moet daar nog gespaar word ook. Dit maak die inrig van ʼn nuwe huis ʼn al groter uitdaging.

Baie handelaars verkoop deesdae meubels en huisware, maar die aankoop van basiese items kan vinnig ʼn stewige rekening opjaag. Aan die ander kant wil baie van die ouer garde weer ontslae raak van baie items wat hulle oor die jare bymekaargemaak het. Die ware wat op jou naaste Ons Winkel se rakke beland, skep ʼn gulde geleentheid vir paartjies om te kry waarna hulle op soek is.

Vir jonggetroude paartjies wat nesskrop, is hul naaste Ons Winkel ʼn wonderlike plek. Nog nie gehoor van Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels nie? Die Ons Winkels is tweedehandseskenkingswinkels wat items uit hul gemeenskap as skenkings ontvang en dit dan weer aan die publiek verkoop teen ‘n bekostigbare prys. Deesdae word daar ook na dié soort winkels verwys as “thrift shops” of “snuffelwinkels” en omtrent elke Ons Winkel is ‘n skatkis.

Ek het onlangs een van die Ons Winkels in Pretoria besoek en op ‘n spieël afgekom wat baie potensiaal het. Ek het ‘n jaar of twee gelede ‘n idee gesien van ‘n soortgelyke spieël en dadelik besluit om die spieël te koop. Dieselfde dag nog het ek besluit om die raam van die spieël te verf en siedaar, daar het my Ons Winkel-aankoop ‘n nuwe lewe gekry.

(Foto verskaf)

Elkeen van die 125 Ons Winkels oor die land heen se voorraad verskil van dié van die ander winkels. Daar is van bedkassies, kombuisware, gordyne en dekor tot matte, kopstukke en ander meubels – en alles is winskopies. Tweedehandse meubels het werklik soveel potensiaal; dit kort dalk net ‘n bietjie verf en ‘n nuwe handvatsel en siedaar, jou “thrift” kry nuwe lewe. So wanneer jy weer in ‘n Ons Winkel instap, probeer om die potensiaal van die items raak te sien, jy mag dalk net vinnig-vinnig jou nessie ingerig kry. Hier is nog ʼn paar Ons Winkel items nuwe lewe gekry het:

Ons verwys graag na elke winkel as ‘n baken van hoop, en dit is so gepas, want ‘n Ons Winkel gaan nie jou sak ruk nie; jy kan items van goeie gehalte teen bekostigbare pryse aankoop. Jongmense wat op soek is na huisware, kan gerus die Ons Winkel-webtuiste by www.onswinkel.co.za besoek om hul naaste Ons Winkel op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.