Verbruikers wat sonkrag laat installeer: loop lig hiervoor

(Argieffoto: Pixabay)

Verbruikers wat dit kan bekostig, staan nou tou om sonkrag te laat installeer om die gesukkel met beurtkrag die hoof te bied. Jy kan nou selfs ʼn sonkragstelsel huur en jou bank sal heel bereid wees om vir jou geld daarvoor te leen, terwyl jy ook om ʼn belastingkorting kan aansoek doen. En natuurlik staan ondernemings tou om die een te wees wat geld maak uit verbruikers se ongerief (en onkunde). Sonkragstelsels is ingewikkeld en verbruikers kan maklik ingeloop word. Ina Opperman het gaan hoor wat die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste daaroor sê.

Die Ombudsman het die afgelope tyd ʼn toename in die aantal klagtes oor die aankoop en installering van sonkragstelsels waargeneem. Oor die twaalf maande van 1 Februarie 2022 tot 9 Februarie 2023 het die kantoor 202 klagtes oor sonkragstelsels en kragopwekkers ontvang.

Die mees algemene klagtes was oor:

  • Nakomingsertifikate wat nie uitgereik is nie en dat verbruikers nie vooraf ingelig is oor maatreëls waaraan voldoen moet word vir die uitreiking van ʼn nakomingsertifikaat nie, of dat hulle ʼn bykomende fooi daarvoor moet betaal.
  • Verbruikers wat betaal het, maar die kontrakteur het nie die goedere afgelewer of die sonkragstelsels binne die ooreengekome tydraamwerk geïnstalleer nie.
  • Swak vakmanskap en installasies wat nie aan veiligheidstandaarde voldoen nie.
  • Waarborge wat nie eerbiedig word nie.
  • Verbruikers wat die verkeerde toerusting gekoop het en handelaars wat dit nie wil omruil nie.
  • Geen naverkoopdiens nie.
  • Misleidende advertensies met betrekking tot die tipe, grootte en hoeveel watt van omsetters, sonpanele en batterye.
  • Opgeblase pryse vir panele, omsetters, batterye en installasiedienste.

Van die 134 klagtes wat die ombudsman tot dusver hanteer het, is die klagtes opgelos in 36% van die gevalle en R277 273 is aan verbruikers terug betaal. Ander klagtes is opgelos deur die vervanging van foutiewe omsetters, sonpanele, kragopwekkers en batterye, asook die regstelling van substandaard vakmanskap.

Die ombudsman, Magauta Mphahlele, het opgemerk dat 46% van die klagtes egter nie opgelos kon word nie weens ʼn gebrek aan samewerking van verskaffers se kant.

“Dit bekommer ons aangesien dit beteken dat verbruikers se klagtes nie opgelos kon word nie. Dit bewys dat daar hoë vlakke van nie-nakoming rondom die Wet op Verbruikersbeskerming in hierdie sektor is. Ons doen ʼn beroep op verskaffers en installeerders van sonkragstelsels en kragopwekkers om te verseker dat hul diensstandaarde voldoen aan die vereistes van die wet en ander vervaardigings- en veiligheidstandaarde wat ingevolge ander wette vereis word.”

Volgens Mphahlele dui die aard van die klagtes wat ontvang is op lae vlakke van bewustheid en begrip onder verbruikers van die hoogs tegniese produk- en installasiespesifikasies van sonkragstelsels en kragopwekkers.

“Verbruikers is oor die algemeen nie ingelig oor die vereistes van sonkragstelsels of hul beperkings nie. Gevolglik ly verbruikers enorme finansiële verliese deur verkeerde toerusting aan te koop en/ of ongekwalifiseerde installeerders aan te stel.”

Sy waarsku verbruikers ook om nie die selfdoenroete te volg nie, aangesien dit in baie gevalle enige vervaardigers se waarborge tot niet sal maak. Haar raad aan verbruiker is:

  • Praat met ʼn gekwalifiseerde en betroubare sonkraginstalleerder om jou behoeftes en die struktuur van jou huis te bepaal om raad te gee oor die tipe stelsel wat jy moet kry. Dit is baie belangrik aangesien die wet jou nie beskerm as jy verkeerde toerusting koop nie. Jy word net beskerm as jy die regte spesifikasies verskaf het of die doel waarvoor jy die produk wil gebruik oorgedra het en die produk dan nie geskik is vir die doel wat gekommunikeer is nie.
  • Kry verskeie kwotasies en gaan die verwysings van die installeerder na.
  • Maak seker dat die sonkragstelsel deur ʼn gekwalifiseerde, geakkrediteerde installeerder geïnstalleer word en dat die kontrak wat jy onderteken die voorsiening van ʼn sertifikaat van voldoening insluit. Versekeringsmaatskappye en vervaardigers sal jou eis verwerp as die stelsel nie deur ʼn geakkrediteerde installeerder geïnstalleer is nie.
  • Maak seker dat die omskakelaar en batterye geïnstalleer is met stuwingsbeskerming, aangesien die meeste waarborge nie hierdie skade dek nie.
  • Moenie die volle bedrag vooraf betaal nie en vergewis jouself van die bepalings en voorwaardes met betrekking tot kansellasies en terugbetalings van deposito’s.
  • Maak seker wat die waarborgvoorwaardes is en moenie self probeer om enige probleme op te los of met die toerusting te peuter nie, aangesien dit die waarborg tot niet sal maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Bemagtig jouself deur kennis Google dit verstaan hoe dit werk en wat jy nodig het,en as ‘n installering by jou gedoen word kry verwysing en koop reeds alles aan dan weet jy wat jy kry en hoe dit geïnstalleer moet word .Dit is hoe ek dit benader het en nog nie probleme ondervind nie.

Nommer 7 ·

Harley, dit is nie so eenvoudig nie. Om solar te verstaan, moet jy wisselstroom (AC), gelykstroom (DC) en IT kennis he^. Die beste raad is gebruik groot en bekende maatskappye, en vertrou hulle. Moenie na pryse kyk nie.

Nommer 7 ·

Netso, hulle installeer 6 x 100watt sonpanele teen R1250.00 elk, ipv 1 x 600watt sonpaneel teen R3100.00 (Vir baie mense is 6 panele meer indrukwekkend as1 paneel, al lewer die 1 paneel dieselfde krag as die 6 panele)

VaalDonkie ·

Presies. Daar is sommige gevalle waar ek kleiner panele sou verkies, maar oor die algemeen is ek gelukkig dat my kantoortjie van een 550W paneel af werk i.p.v. 5 of 6 kleintjies. Installasie is makliker en goedkoper en daar’s minder drade en goed.

boerie ·

Wat nie algemeen bekend is nie is dat jy baie probleme het met n vooraf betaalde meter en solar. Krag kan nie terug gevoer word in die netwerk nie en as dit gebeur betaal jy daarvoor want meter neem dit as krag wat gebruik word.

Grens ·

Vra die installeerder om sy PV Green Card vir jou te wys, en volg op met verwysings. Elke ou met ‘n bakkie installeer nou sonkrag. Sonpanele op jou dak is soos een groot welder wat daar sit om jou huis af te brand. Maak seker die regulasies vir installeering word baie streng nagekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.