Verbruikersake: Hoeveel is genoeg wanneer dit by korttermynversekering kom?

(Foto: Scott Graham/Unsplash.)

Ons almal het al die gru-stories gehoor van mense wat onderverseker was, groot skade gehad het en byna niks van hul korttermynversekering uitgekry het nie. Maar dan hoor  ʼn mens ook jy moet oppas dat jy nie oorverseker is nie. Soos Gouelokkies gesê het toe sy die bababeer se pap geëet het: net genoeg, maar hoe weet jy as jy net genoeg korttermynversekering het? Ina Opperman verduidelik hoe jy dit bepaal.

Ons is al almal daardeur wanneer ons korttermynversekering uitneem: jy weet nie eintlik wat die waarde van jou huisinhoud is nie, dus raai jy maar. Jy het ʼn televisiestel, ʼn bietjie juwele, ʼn koffiemasjien, ʼn stel gholfstokke, meubels en allerhande los goed. Dis seker so… R500 000 werd. Dus neem jy versekering uit vir hierdie bedrag en jy is heel tevrede dat jy nou die regte ding gedoen het.

Dan kom jy op ʼn dag tuis en daar was ʼn inbraak en alles is weg. Jy is vies vir die rompslomp wat wag, maar jy is nie te veel bekommerd nie, want jy is mos verseker. Nou kan jy tog ʼn nuwe televisiestel kry.

Jy bel jou versekeraar en die assessor kom sien jou en jy vertel wat alles weg is. Maar hy sê alles wat gesteel is was eintlik R625 000 werd en jy was net verseker vir R500 000, dus is jy onderverseker met 25%. Ag, wat, dink jy, ek kry tog steeds R500 000 – totdat die assessor verduidelik dat die 25% afgetrek word van die R500 000 en jy kry op die ou end net R374 000 uit.

Oswald Kuyler, hoof van korttermynversekering by Consult by Momentum, sê die bedryf sien hierdie storie dikwels gebeur omdat verbruikers nie die grense van korttermynversekering begryp nie en dit sluit sake, motor, reis, troeteldier en alle risikoverskering in.

“Wanneer daar verlies is, sal die assessor kyk na die vervangingswaarde, wat veranderlikes insluit soos inflasie en die huidige ekonomiese klimaat. Indien jy nie ʼn behoorlike lys van jou goed gemaak het met vervangingspryse nie, sal jou versekeraar dit sien as vooroordeel. As jy nie jou goed verseker het teen die regte waarde nie, het jy ook nie die korrekte premie betaal nie en daarom sal die versekeraar jou penaliseer en jy sal nie uitbetaal word wat jy verwag nie.”

Kuyler waarsku dat oorversekering ook nie die antwoord is nie. “Die doel van korttermynversekering is om jou in dieselfde finansiële posisie te plaas as wat jy was voor die verlies, nie beter af nie. Dit is waar korttermynversekering verskil van langtermynversekering en beleggingspolisse.

“’n Deel van jou premie is gebaseer op die versekerde bedrag en versekeraars wil nie meer betaal as wat vereis word volgens hul evaluasie van jou verlies nie. Oorversekering is net ʼn mors van geld.”

Hy gee hierdie wenke vir verbruikers om te verseker dat hulle genoeg korttermyndekking het:

Skryf op, evalueer en verstaan

Vat jou tyd en maak ʼn korrekte lys van jou goed en maak seker dat jy die prys aandui wat dit sal kos om dit nou te vervang en nie wat jy daarvoor betaal het nie. Kuyler sê as jy sukkel hiermee, is daar professionele diensverskaffers wat jou daarmee kan help. Sommige versekeraars bied dit aan as ’n gratis diens en jy moet net vra.

“Dit is ook belangrik om die tyd in te ruim om die terme en voorwaardes van jou polis deur te lees en seker te maak wat word gedek en wat nie en ook wanneer jy nie op dekking kan staatmaak nie. As jy net aanneem dat die dekking daar is sonder om dit na te gaan kan dit net eindig in teleurstelling. Vra jou makelaar as jy nie seker is nie.”

Onthou dat inflasie ook ʼn uitwerking het op jou dekking en daarom moet jy jou versekerde bedrag jaarliks met 10% tot 15% opstoot as daar nie groot veranderinge is in wat jy besit en waar jy bly nie.

Wanneer jy ʼn mylpaal bereik, sorg dat jou dekking byhou

Dit is ʼn goeie gewoonte om met elke mylpaal wat jy bereik ook jou korttermynversekeringsdekking te hersien, sê Kuyler.

“As jy byvoorbeeld ʼn huis koop, moet jy die huis en die inhoud verseker en as jy jou motor inruil vir ʼn groter een wanneer jou gesin begin groei, moet jou versekering ook groei. Moet ook nie vergeet van karstoeltjies en stootkarretjies nie, want dit val onder risikodekking.”

Die rol van jou finansiële adviseur

Al is daar direkte versekeraars meen Kuyler jy moenie die waarde van ʼn goeie finansiële adviseur onderskat nie. “Hulle vergelyk namens jou polisse, verstaan die voorwaardes en kan jou vrae antwoord en seker maak dat jy genoeg versekering het. Wanneer jy ʼn verlies ly, sal jou finansiële adviseur ook direk met jou versekeraar skakel om seker te maak jy kry die beste uitkoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Na my mening moet kort termyn versekering gereguleer word, ek betaal sonder enige onderbreking vanaf 1985 maandeliks aan kort termyn versekering en ten spyte van min en klein eise word die premies net elke jaar meer en dit raak nou onbekostigbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.