Verbruikersake: Hou kos só veilig om te eet

Argieffoto (Foto: Ello/Unsplash)

Die somer is hier en dit is lekker warm, maar dit beteken ook dat verbruikers versigtiger moet wees wanneer hulle met kos werk om te voorkom dat dit besmet word en mense siek maak. Kos raak veral makliker besmet in warm weer as dit nie in die yskas of vrieskas gehou word nie. Ina Opperman vertel meer oor hoe jy voedselveiligheid in jou huis en wanneer jy kos koop kan toepas.

Dit is belangrik om kos veilig te hou vandat jy dit koop totdat dit op jou gesin se borde beland. Verskeie kinders is onlangs dood weens voedselvergiftiging, wat wys hoe belangrik dit is om te verseker dat voedsel nie besmet word nie.

Winkels wat kos verkoop het ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat die kos wat jy koop aan voedselveiligheidstandaarde voldoen, maar daar is baie wat jy self kan doen om te verseker dat die kos veilig bly van die tyd dat jy dit koop totdat jou gesin dit eet. Dit is belangrik om voedsel korrek te hanteer en te stoor sodat dit nie met bakterieë besmet raak nie.

Voedselveiligheid wanneer jy inkopies doen

  • Moenie bevrore of vars kos koop en in jou motor los terwyl jy die res van jou inkopies doen nie. Beplan jou dag sodat jy hierdie items laaste koop en neem dit reguit huis toe en sit dit in die yskas of vrieskas.
  • Moenie produkte koop wat jy nie voor die vervaldatum sal gebruik nie.

Voedselveiligheid in jou huis

Wees baie versigtig met verkoelde produkte en volg hierdie riglyne:

  • Maak seker jou yskas se temperatuur is onder 5 °C en jou vrieskas s’n onder 0 °C.
  • Hou alle verkoelde produkte in die yskas totdat jy dit eet.
  • Bêre bederfbare produkte, geriefskos en oorskietkos in die yskas of vries dit binne twee uur nadat jy dit gekoop of voorberei het.
  • Vries vars vleis, vis en pluimvee dadelik as jy dit nie binne ʼn dag of twee gaan gebruik nie.

Dit is baie belangrik om jou hande gereeld te was wanneer jy met kos werk:

  • Was jou hande met warm water en seep voor en nadat jy kos voorberei het. Was ook jou hande voordat jy met ʼn ander kossoort werk.
  • Was jou hande nadat jy badkamer toe is, nadat jy met jou troeteldiere gespeel het en nadat jy ʼn baba se doek omgeruil het.

Handhaaf ook goeie higiëne in die kombuis:

  • Was vadoeke gereeld in baie warm water in jou wasmasjien en as jy sponse gebruik, was dit gereeld in die skottelgoedwasser as jy een gebruik. Vadoeke en sponse is groot bronne vir die verspreiding van bakterieë.
  • Maak seker dat kapborde, borde, kombuisgereedskap en werkoppervlakke in jou kombuis skoon is deur dit gereeld met warm seepwater te was elke keer as jy ʼn ander kossoort voorberei. Raak ontslae van bakterieë deur die oppervlaktes skoon te maak met ʼn mengsel van twee eetlepels bleikmiddel in ʼn liter water.

Hou verskillende soorte kos uitmekaar om besmetting te voorkom

Dit is ook uiters belangrik om seker te maak dat een voedselsoort nie ʼn ander met kieme besmet nie. Volg hierdie riglyne om te verseker dat dit nie gebeur nie:

  • Berei groente en slaaie voor voordat jy pluimvee of rou vleis voorberei. As jy eers die vleis voorberei, maak seker dat jou kapborde en messe skoon is voordat jy die groente sny.
  • Maak seker dat die vloeistof van rou vleis, pluimvee en seekos nie op vooraf voorbereide kos drup in die yskas nie.
  • Moenie gekookte kos op dieselfde bord sit as wat jy vir die rou kos gebruik het nie. Die rou kos kan bakterieë op die bord laat, wat die gekookte kos kan besmet, hoewel die kookproses dit doodgemaak het.
  • Gebruik papierhanddoeke om die bloederigheid van vleis af te vee en nie vadoeke nie.

Die regte gaarmaakmetodes is ook belangrik, selfs al is jy haastig. Hou hierdie riglyne in gedagte wanneer jy kos gaarmaak:

  • Ontdooi kos in die yskas of mikrogolfoond en nie in die wasbak of op die kombuistoonbank nie.
  • Marineer vleis in die yskas.
  • Gebruik ʼn voedseltermometer om seker te maak kos is regdeur gaar.
  • Verhit souse, marinade, sop en sous totdat dit heeltemal kook om bakterieë dood te maak.
  • Maak seker dat kos wat in die mikrogolf voorberei is heeltemal gaar is. Roer of draai dit om om seker te maak daar is geen dele wat nog koud is nie.

Wanneer kos bedien word, is dit ook belangrik om hierdie riglyne te volg:

  • Gebruik skoon opdienbakke en lepels om kos op te skep.
  • Moenie bederfbare kos langer as twee ure buite die yskas laat nie. Moenie dit in die somer langer as 30 minute buite die yskas laat nie.

Dit is ook belangrik om oorskietkos korrek te hanteer om te verseker dat dit nie besmet word nie:

  • Bêre oorskietkos in die yskas in klein plastiek- of glashouers met ʼn deksel om te verseker dat dit vinnig afkoel.
  • Moenie vleis en groente saam bêre nie.
  • Gooi oorskietkos na twee tot drie dae weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.