Verbruikersake: Ombudsman vir Verbruikersgoedere kyk só na klagtes

(Argieffoto: Joël SAGET / AFP)

Wat is jou regte as jy probleme het met ʼn nuwe bed, ʼn handelaar weier om ʼn onderdeelbetaling terug te betaal of as jy nie kan bewys watter batterye jy vir jou omskakelaar gekoop het om dit te laat omruil nie? Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste het al hierdie klagtes hanteer en ons kan voorkom dat dit met ons ook gebeur deur te leer uit hoe dit opgelos is. Ina Opperman het gaan kyk wat verbruikers moet onthou.

Die ombudsman het R12,9 miljoen teruggekry vir verbruikers wat onregverdig behandel is deur ondernemings en meer as 10 000 klagtes in die proses hanteer. Die kantoor van die ombudsman het hierdie drie klagtes in sy jaarverslag vir die 2023-boekjaar bespreek en die oplossings wys wat jou regte is en waarvoor jy moet ligloop.

Daardie harde nuwe bed

ʼn Verbruiker het ʼn nuwe bed gekoop, maar vyf maande later het sy die verskaffer gekontak om te kla dat sy die vere in die bed kan voel, wat ook te hard vir haar smaak was. Sy het die verskaffer gevra om die bed te vervang of haar geld terug te betaal, maar die verskaffer het geweier.

Die verbruiker het toe voorgestel dat die verskaffer ʼn 20%-hanteringsfooi neem en haar 80% terugbetaal. Die verskaffer het iemand gestuur om die bed te inspekteer en toe ʼn terugbetaling van 50% aangebied, maar die verbruiker was nie gelukkig nie en het haar klagte na die ombudsman gestuur. Sy wou ʼn volle terugbetaling hê.

Die verskaffer het aan die ombudsman gesê die aanbod van ʼn terugbetaling van 50% is gebaseer op die tyd wat verloop het sedert die verbruiker die bed gekoop het en die daaropvolgende slytasie.

Die ombudsman sê in hierdie geval is artikels 55 en 56 van die Wet op Verbruikersbeskerming van toepassing. Volgens artikel 55 het elke verbruiker die reg om goedere te ontvang wat redelikerwys geskik is vir die doeleindes waarvoor dit oor die algemeen bedoel is, van goeie gehalte, in ʼn goeie werkende toestand en sonder enige gebreke.

Goedere moet ook vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees en aan enige toepaslike standaarde of enige ander openbare regulasie voldoen.

Volgens artikel 56(1) waarborg verskaffers dat goedere voldoen aan die vereistes en standaarde beoog in artikel 55 en dat ʼn oortreding van die geïmpliseerde bepaling die verbruiker die reg gee om die goedere binne ses maande na aflewering terug te besorg en te eis dat die goedere herstel, vervang of terugbetaal word.

Die ombudsman wys daarop dat enige item binne ses maande teruggestuur kan word vir terugbetaling, herstel of vervanging indien daar ʼn vervaardiger se defek ingevolge die wet is. Daarbenewens berus die keuse tussen ʼn terugbetaling, herstel of vervanging by die verbruiker en nie by die verskaffer nie.

“Uit die omstandighede van die saak was ons van mening dat die verskaffer artikels 55 en 56 van die wet oortree het. Ons het dus in daardie terme ʼn aanbeveling teen die verskaffer gemaak en aanbeveel dat die verskaffer die klaer terugbetaal aangesien sy ʼn terugbetaling wil hê.”

Die verskaffer het aan die ombudsman se aanbeveling voldoen en die volle bedrag aan die verbruiker terugbetaal.

Bêrekoop: wat as die verbruiker sterf?

ʼn Ander verbruiker het by die ombudsman gekla omdat sy nie die vuurwapenhandelaar, waar haar man ʼn vuurwapen op bêrekoop gekoop het, sover kon kry om die geld wat hy reeds betaal het terug te betaal nie. Haar man het ʼn vuurwapen op bêrekoop gekoop en R8 200 betaal, maar hy is oorlede voordat hy die totale bedrag kon vereffen.

Sy het die wapenhandelaar gekontak om ʼn terugbetaling van die bedrag wat betaal is te versoek, maar haar versoek is geweier en sy het haar tot die ombudsman gewend vir hulp.

Die verskaffer het aan die ombudsman gesê hy het die man verskeie kere probeer kontak om sy betaling vir die vuurwapen te voltooi aangesien alle items wat by die winkel gekoop is binne sestig dae betaal moet word. Dit is duidelik op die kwitansie vermeld en die handelaar het gesê die man het kontrakbreuk gepleeg aangesien hy versuim het om die betaling binne die vasgestelde tydperk te voltooi.

Die handelaar het ook gesê die standaard kansellasie-persentasie by geweerwinkels is 45% en daarom was hy bereid om slegs R4 565 terug te betaal.

In hierdie geval is artikel 62 van die wet van toepassing, wat bepaal dat indien ʼn verskaffer instem om iets aan ʼn verbruiker te verkoop en betaling daarvoor in periodieke paaiemente te aanvaar, terwyl die item gehou word totdat die verbruiker die volle prys vir die goedere betaal het, elke bedrag wat betaal is die eiendom van die verbruiker bly en onderhewig is aan artikel 65, totdat die goedere by die verbruiker afgelewer is.

Daarbenewens, as die verbruiker die ooreenkoms beëindig voordat hy ten volle betaal het of versuim om die betaling binne 60 werksdae na die verwagte datum van voltooiing te voltooi, kan die verskaffer ʼn beëindigingsboete hef en moet die balans aan die verbruiker betaal word.

ʼn Winkel mag egter nie ʼn kansellasieboete hef indien die verbruiker se versuim om betaling te voltooi weens sy dood of hospitalisasie was nie. Die ombudsman sê aangesien die verbruiker nie die betaling vir die vuurwapen kon voltooi nie omdat hy oorlede is mag die winkel dus nie die boetegeld hef nie.

Die ombudsman het aan die handelaar gesê hy mag nie die boete hef nie en het hom ook ingelig dat die maksimum bedrag van kansellasieboetes vir bêrekoop redelik moet wees en nie 1% van die volle koopprys mag oorskry nie. Die hanteringsfooi van 45% was dus ook ʼn oortreding van hierdie regulasie.

“Ongelukkig het die verskaffer nie met ons kantoor saamgewerk nie. Ons het kommunikasie ontvang dat die betrokke maatskappy nie meer bestaan nie en dat daar ʼn nuwe entiteit met nuwe eienaarskap is wat aangedui het dat hulle nie die klagte sal oplos nie aangesien die transaksie met die vorige entiteit was,” het die ombudsman gesê.

Toe die verbruiker egter die verskaffer se perseel besoek, het sy die vorige eienaar daar aangetref, maar hy het haar uit die winkel gejaag. Die ombudsman het die verbruiker versoek om die Nasionale Verbruikerskommissie te kontak om die sakepraktyk van die maatskappy te laat ondersoek.

Maak seker dat die faktuur wat jy kry korrek is

Om die gevolge van beurtkrag te probeer versag deur omskakelaars en batterye te gebruik, het reeds tot ʼn aantal klagtes gelei. ʼn Verbruiker het die ombudsman om hulp gevra nadat ʼn handelaar nie batterye vir sy omskakelaar wou ruil nie omdat die batterye wat op die faktuur aangeteken is, nie dieselfde was as die batterye wat hy wou omruil nie.

Die verbruiker het in Julie 2021 ʼn omskakelaarkragstelsel saam met batterye vir R12 860 gekoop. Met die installasie het hy besef dat die batterye nie die nodige uitset het om elektrisiteit vir sy huishouding te verskaf nie en hy het op 22 November 2021 die batterye teen ʼn koopprys van R3 700 omgeruil en die installeerder ʼn bykomende R450 betaal om die nuwe batterye te installeer.

Tussen November 2021 en Maart 2022 was daar geen buitensporige beurtkrag nie en hy het eers in April 2022 die omskakelaarstelsel gebruik toe fase 2-beurtkrag teruggekeer het. Op hierdie stadium het hy besef dat die batterye nie werk soos verwag nie en het die verskaffer in April 2022 genader om die batterye te vervang met nuwe batterye wat nie enige defekte gehad het nie of om die bedrag van R3 700 aan hom terug te betaal.

Die verskaffer het geweier om die verbruiker terug te betaal omdat die verbruiker nie ʼn faktuur kon wys wat ooreenstem met die beskrywing van die batterye nie. Die verbruiker beweer dat hy ʼn spesifieke soort batterye gekoop het en dat die verskaffer ʼn fout gemaak het deur ʼn faktuur uit te reik vir dieselfde handelsmerk as die eerste batterye wat hy teruggegee het.

Die verbruiker het nie sy nuwe faktuur nagegaan toe hy die batterye terugbesorg het nie en aanvaar dat dit die naam van die nuwe batterye sou weerspieël. Hy wou hê die handelaar moes die volle bedrag van R8 700 vir albei stelle batterye, asook die bedrag van R450 vir die installasie aan hom terugbetaal.

Die verskaffer het egter aan die ombudsman gesê die batterye is splinternuut en het ʼn waarborg. Die verskaffer het gesê hy weier nie om die batterye om te ruil nie, maar het die installeerder gevra om die presiese batterye terug te stuur soos beskryf op die faktuur.

Volgens die verskaffer het die installeerder ʼn ander produk van ʼn ander handelsmerk teruggestuur en kon ʼn terugbetaling slegs gedoen word as die verbruiker ʼn faktuur kon wys wat die betrokke batterye beskryf. Die verbruiker het ontken dat hy ʼn ander handelsmerk batterye teruggegee het en aangevoer dat hy geen rede gehad het om ʼn produk terug te gee wat anders was as wat verskaf is nie.

“Aangesien ons rol is om te bemiddel en nie ondersoek in te stel nie, kan ons assessering slegs gebaseer word op die bewyse wat deur die verbruiker en die verskaffer verskaf word. Op grond van die getuienis wat in hierdie geval ingedien is, is daar ʼn feitegeskil oor die soort batterye.

“Op ʼn oorwig van waarskynlikhede kon ons dus nie aflei wat verskaf is nie omdat die verbruiker nie ʼn faktuur gehad het om te bewys watter batterye hy ontvang het nie. Ons kon nie ʼn besluit neem oor die bewyse of oor ʼn oorwig van waarskynlikhede nie en die klagte is in ooreenstemming met ons opdrag van die hand gewys,” het die ombudsman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.