Verbruikersake: Pleeg jy miskien versekeringsbedrog?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

Sou jy jouself beskryf as iemand wat versekeringsbedrog sou pleeg as jy iets bysit wat nie gesteel is wanneer jy eis nie? Die meeste mense sal dadelik opspring en sê hulle sal nooit so iets doen nie. Maar dink weer: dalk het jy al so ʼn bietjie by gelieg wanneer jy van jou versekeraar geëis het. Ina Opperman het meer gaan uitvind oor versekeringsbedrog.

Versekeringsbedrog het ʼn verrassende kant: alledaagse mense wat klein leuens vertel. Die woorde versekeringsbedrog laat jou waarskynlik dink aan kriminele sindikate wat voertuigongelukke uit hul duime suig of mense wat hul dood vervals om multimiljoen-rand-uitbetalings te kry.

Hoewel hierdie voorvalle koerantopskrifte oorheers, vorm dit slegs ʼn gedeelte van die geraamde R6 miljard tot R8 miljard wat die Suid-Afrikaanse versekeringsbedryf jaarliks weens bedrog verloor, sê Ernest North, medestigter van die digitale versekeringsplatform, Naked.

“Baie bedrog, indien nie die meeste nie, neem die vorm aan van kleiner eise van mense wat nie aan hulself as misdadigers dink nie. Dit kan iemand wees wat jy ken, soos ʼn vriend wat ʼn Kindle byvoeg wat hulle nooit besit het nadat hul huis beroof is nie. Baie bedrieglike versekeringseise word gemaak deur mense wat dink hulle vertel ʼn klein leuentjie aan ʼn groot korporasie.”

North verduidelik dat baie verbruikers se logika is dat dit ʼn slagofferlose leuen is omdat die versekeringsmaatskappy dit kan bekostig om te betaal en oor die jare winste uit die kliënt se premies gebank het.

“Tog kan die persoonlike gevolge ernstig wees as jy betrap word dat jy versekeringsbedrog pleeg. En selfs al is jy nie, benadeel versekeringsbedrog versekeringskliënte en nie net versekeringsmaatskappye nie.”

Versekeringsbedrog het gevolge vir almal. “As jy betrap word dat jy een van hierdie leuens vertel, sal jou versekeraar jou dekking kanselleer, jou eis verwerp en poog om enige geld wat hy reeds uitbetaal het, te verhaal. Jy kan by die databasis vir versekeringsbedrog gevoeg word, wat die koop van dekking in die toekoms moeilik sal maak.”

North sê in sommige gevalle sal jou versekeraar ook ʼn strafregtelike saak teen jou aanhangig maak. “Dit is nie ʼn risiko wat enigiemand moet loop om ʼn paar honderd rand per maand op hul premie te spaar of ʼn nuwe grootskerm-TV op hul versekeraar se koste te kry nie.”

Selfs al kan jy wegkom met ʼn klein leuentjie vir die versekeraar, raak jou bedrieglike gedrag steeds almal wat versekering koop. “Dit verhoog die algehele koste van premies weens eiskoste en die geld wat versekeraars bestee om bedrog te voorkom en op te spoor. Dit kan versekering minder bekostigbaar maak vir baie mense wat finansieel kwesbaar is en beskerming nodig het.”

Hoë vlakke van bedrog beteken ook dat dit langer neem vir versekeraars om eise te bekragtig en te betaal, wat frustrerend is vir eerlike kliënte wat langer moet wag vir hul nuwe motor of foon.

Ja, dit is versekeringsbedrog

Wat is versekeringsbedrog? North sê die definisie van bedrog is breër as wat baie kliënte dink. ʼn Paar voorbeelde van bedrieglike gedrag sluit in:

  • Leuens oor jou versekeringsgeskiedenis soos byvoorbeeld om nie jou vorige eise bekend te maak nie of om te noem dat jou vorige versekeraar jou dekking gekanselleer het nie.
  • Vals inligting, soos om te beweer jou huis het diefwering en veiligheidshekke op al die vensters en deure wanneer dit nie die geval is nie.
  • Versuim om alles in jou vermoë te doen om verlies of skade te voorkom, soos om jou skootrekenaar in jou ongesluite motor te laat lê terwyl jy by die winkel inloer.
  • Oneerlikheid oor eise se omstandighede, soos om voor te gee dat jy die motor bestuur het ten tyde van ʼn ongeluk eerder as jou man.
  • Eise vir items wat gebreek, verlore of gesteel is voordat jy versekering gekry het, soos om jou foon te verseker wat reeds skermskade het met die plan om oor ʼn paar maande te eis.
  • Oordrywing van die grootte van jou verlies, soos om voor te gee dat jou gesteelde klere almal van duur handelsmerke was of om ʼn paar ekstra items by die eislys te voeg na ʼn inbraak.
  • Vervalsing van fakture om eienaarskap te bewys. Jou versekeraar sal vra vir bewys van eienaarskap van die item wat jy verseker, gewoonlik in die vorm van fakture. Dit kan aanloklik wees om een te vervals as jy bekommerd is dat jou eis verwerp sal word. Wees liewer eerlik met jou versekeraar sodat hulle jou kan toelaat om eienaarskap op alternatiewe maniere te bewys.

Kunsmatige intelligensie (KI) word nou ook gebruik om kliënte te beskerm en premies te verminder. North sê versekeringsmaatskappye verhoog beleggings in outomatisering en kunsmatige intelligensie om bedrog met meer spoed en akkuraatheid op te spoor.

“Dit transformeer die versekeringservaring, wat versekeringsmaatskappye in staat stel om ʼn groeiende deel van eise in reële tyd, of byna reële tyd, te vereffen. Dit beteken jy sal jou eis vinniger afgehandel kry as dit geldig is.”

KI stel versekeraars ook in staat om afwykings vir ondersoek te merk. Hierdie eise word nie outomaties verwerp nie, maar deur ʼn menslike assessor hersien. Namate die tegnologie verbeter, sal dit moeiliker wees vir misdadigers om met bedrog weg te kom en hopelik tot ʼn beter ervaring en laer premies vir almal te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ek het al vir jare en jare geen versekering nie.
Toe ek nog gehad het, het my premie elke jaar met presies 25% gestyg. Nie 24% of 26% nie. Elke jaar met presies 25%. Ek het nooit in daai tyd geëis nie.
Pleeg die maatskappye nie ook bedrog nie?

Koen ·

Jy kan negotiate. Of na ‘n ander maatskappy gaan of soos jy, verkies om geen versekering te he nie. Jy word gedwing as jy ‘n huisverband of motor finansiering het. Klaarblyklik is jy skuldvry. Hoop nie jou huis brand af of jy ry in ‘n R3M motor vas nie.

Steyn ·

Is selfde soos motor versekering, motor verloor waarde maar premies bly styg?

Kwikkie12 ·

Versekering is ‘n “twoway street” , hulle weet met sekere dinge is dit ‘n groter risiko van mense wat valse eiese insit maar hulle laat nog steeds versekering daarvoor toe soos byvoorbeeld selfone, juwele en mediese toestelle soos brille of gehoorapte ens. Mense gaan hou vakansie met die geld… Maar daar is ‘n Oog in die hemel wat jou sien en Hy doen verslag elke dag oor wat jy doen!

chris ·

Ja,maar wat van die versekeraar.Ek het sopas die skok van my lewe gekry. My kortermyn versekeringspremie is so pas verhoog van R2650pm na R3350pm , ‘n 26.4% verhoging .Dit na geen eise vir 4jr nie.Ek het altyd sonder ‘n makelaar gewerk,maar nou vir ‘n makelaar gevra vir kwotasies.Ek het twee vir R1600pm gekry en een vir R2000pm.Ek het probeer om Afrikaans te ondersteun al was dit ‘n bietjie duurder,maar hierdie het ek gevoel was absolute uitbuiting deur die versekeraar.Die fynskrif beskerm hulle en hulle is maar net so oneerlik.

Janine ·

Ek het ook laas Des. my Afrikaanse versekering gekanselleer. 2006 voertuig, nuwe premie van R3 400, na geen eise in 7JAAR! Het ongelukkig my bonus verloor, maar spaar huidiglik in elk geval meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.