Verbruikersake: Soet, suur van tweepot-aftreestelsel

(Foto: Frantisek_Krejci/pixabay)

Verbruikers wat ekstra geld nodig het, kon nie wag vir die tweepot-aftreestelsel om in te skop in Maart volgende jaar nie, maar dit is nou met ʼn jaar uitgestel. Daar is ook kommer dat dit nie goed sal wees vir verbruikers se spaargeld vir aftrede nie. Ina Opperman verduidelik waarom dit tog ʼn goeie ding sal wees.

Die tweepot-aftreestelsel wat verbruikers in staat sal stel om van hul aftreespaargeld te trek voordat hulle aftree, sal nou eers in Maart 2025 inskop, maar daar is kommer dat dit ʼn negatiewe uitwerking op aftreespaargeld sal hê.

Ten spyte van die twyfel oor die korttermyn gebruik van spaargeld, is die voordeel egter op die langtermyn die onmiddellike toegang werd, sê Michelle Acton, aftreehervormingsbestuurder by Old Mutual.

In Suid-Afrika waar verbruikers se dringende finansiële behoeftes voortdurend met langtermynbeplanning meeding, wonder mense oor die delikate balans tussen onmiddellike finansiële behoeftes en die skepping van ʼn gemaklike aftrede, sê sy.

“Hierdie nuwe stelsel, hoewel goed bedoel, laat pertinente vrae ontstaan oor of dit ongelukkig korttermyntoegang tot pensioenfondse kan aanmoedig en moontlik die grondslag van langtermyn-aftreespaargeld in gedrang kan bring.”

Acton verduidelik die hoeksteen van die tweepot-aftreestelsel lê in sy strewe om individue die buigsaamheid te bied om toegang tot ʼn gedeelte van hul pensioenspaargeld te kry voor aftrede.

“Dit maak dit eintlik ʼn tipe noodfonds, daardie lang stabiele pilaar van gesonde persoonlike finansiële bestuur wat verbruikers tyd gee om onverwagte uitgawes te finansier in plaas daarvan om hulle tot duur skuldalternatiewe te wend.”

Goeie bedoeling

Hierdie voorneme is lofwaardig, maar noop ʼn mens egter om te vra of hierdie toegang spaarders per abuis kan afskrik om toegewyd te laat bly spaar vir aftrede en om ʼn neseier op te bou wat ʼn waardige aftrede sal verseker.

“Hierdie stelsel sal waarskynlik die bestaande kultuur versterk, waar mense se huidige behoeftes voorkeur geniet bo toekomstige finansiële sekuriteit. Suid-Afrikaners sal na verwagting in beduidende getalle in daardie toeganklike potte induik om toegang te kry tot ʼn derde van hul beskikbare toekomstige aftreespaargeld.”

Sy sê egter terselfdertyd beskerm die stelsel ook mense se aftreegeld teen die groter probleem van volle toegang tot pensioenspaargeld.

“Die ware vyand is die huidige pensioenfondsstelsel wat lede in staat stel om hul volle pensioen te laat uitbetaal wanneer hulle van werk verander. Die meeste lede gebruik uiteindelik al hul spaargeld en moet van voor af begin en waardevolle saamgestelde rente misloop wat mettertyd opbou en gevolglik het hulle nie genoeg spaargeld om hul aftrede te finansier nie.”

Die Nasionale Tesourie beraam dat slegs 6% van Suid-Afrikaners kan uitsien na ʼn gemaklike aftrede en daarom sê Acton die tweepot-stelsel is die minste van die twee euwels. “Dit los ten minste een probleem op: meer Suid-Afrikaners kan beter aftree.”

Juis daarom is finansiële opvoeding belangrik en Acton sê opvoeding word dan die grondslag om hierdie probleem te navigeer.

“Die werklike uitdaging lê inderdaad daarin om individue te help verstaan dat hul finansiële keuses van vandag verreikende gevolge vir hul skemerjare inhou. Hoewel onmiddellike finansiële verligting aanloklik mag lyk, lê die werklike waarde van die tweepot-aftreestelsel in sy vermoë om individue te bemagtig om ingeligte besluite te neem wat ʼn balans handhaaf tussen die hede en die toekoms.”

Dit laat ons ook besef dat baie Suid-Afrikaanse verbruikers in ʼn onmiddellike finansiële stryd gewikkel is, sê Acton.

Tweepot-aftreestelsel sal welkom wees

“Die tweepot-aftreestelsel se aanvanklike onttrekking van 10%, wat tot R30 000 van die bestaande pensioenfonds in die spaarpot beperk is, bied ʼn welkome blaaskans vir diegene wat met inflasie en hoë lewenskoste worstel.”

Sy waarsku egter dat dit noodsaaklik is om te besef dat hierdie geldinspuiting, terwyl dit kortstondige verligting bied, nie verkeerd geïnterpreteer moet word as ʼn geneesmiddel vir alle finansiële euwels nie, maar eerder ʼn trappie na ʼn veiliger finansiële toekoms gebaseer op omsigtige finansiële beplanning en spaargeld.

Kritici kan bevraagteken hoe doeltreffend die tweepot-aftreestelsel sal wees om korttermynverligting en langtermyn-voorspoed te verseker, maar hierdie stelsel gee nie voor om die beste oplossing vir vandag se ekonomiese ellende te wees nie, sê Acton.

“In plaas daarvan poog dit om ʼn grondslag te vestig om toekomstige finansiële sekuriteit te bou. Dit gaan nie net oor die toestaan van toegang nie, maar om ʼn gevoel van verantwoordelikheid oor jou finansiële reis te kweek.”

Kan hierdie benadering ʼn gedragsverskuiwing by individue inspireer na ʼn meer holistiese begrip van hul finansiële welstand? Acton sê dit bly die kern van die saak: sal hierdie stelsel, ondersteun deur die behoorlike opvoeding en bewustheid, impulsiewe finansiële besluite in meer berekende skuiwe omskep?

Die tweepot-aftreestelsel kan verbruikers dalk twee keer laat dink

“Die stelsel sal waarskynlik lede wat toegang tot hul spaargeld wil hê, dwing om ʼn baie meer aktiewe rol in die bestuur van hul aftreespaargeld te speel. Fondslede is baie meer geneig om uit te vind tot hoeveel hulle toegang het, hoeveel hulle in hul toeganklike spaarpot het en bewus te wees van hoeveel hul spaargeld jaarliks gegroei het. Hierdie ‘gedwonge’ belang sal meer effektief wees as enige verbruikersopvoedingsveldtog oor hoe belangrik dit is om vir jou aftrede te spaar.”

Terwyl ons wag vir hierdie revolusionêre verskuiwing in pensioenbestuur, moet ons vrede maak met die nuanses, sê sy. “Die tweepot-aftreestelsel is ʼn reis na ʼn veiliger finansiële toekoms. Dit vereis dat verbruikers verstaan dat vandag se keuses uitkring oor dekades heen en dat omsigtigheid nie ʼn kortstondige deug is nie, maar ʼn lewenslange praktyk.”

Acton wys daarop dat die pad na finansiële sekuriteit, gelei deur die tweepot-aftreestelsel, afhang van ons vermoë om ʼn balans tussen onmiddellike behoeftes en langtermyndrome te vind. “Dit bied ʼn waardevolle veiligheidsnet aangesien dit waarborg dat alle pensioenfondslede ten minste daarop kan reken dat twee derdes van hul spaargeld tot aftrede beskerm word.”

Daarom sê sy dat ons hierdie pad moet loop met bewustheid, opvoeding en die wysheid om die werklike waarde van die tweepot-aftreestelsel te erken, nie as ʼn kortpad nie, maar as ʼn kompas wat ons lei na finansiële welstand in ʼn aftreespaarkrisis.

“Hoewel dit nie onmiddellik duidelik is nie, dui ʼn nugtere ontleding aan dat die antwoord uitdruklik is: hierdie nuwe stelsel is ʼn monumentale stap vorentoe in die stryd teen die finansiële stryd wat die meeste Suid-Afrikaners teëkom wanneer hulle aftree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koen ·

Mense leef bokant hul vermoë en dan wil hulle van hulle aftreegeld gebruik.Verstommend.

Santie Gildenhuys ·

Jou onmiddellike omstandighede laat jou maklik oorweldig voel en dan maak jy dom finansiële besluite wat jou met jou aftrede suur gaan bekom. Kry ‘n ekstra inkomste, leef konserwatiewer, maar LOS jou volle aftrede spaargeld tot wanneer jy aftree. Jy gaan hierdie eenderde wat jy nou onder druk van kind en kraai gaan onttrek OOK nodig hê eendag. Jou tweederde pensioen gaan onvoldoende wees en jy kan dan hierdie lompsom eenderde belê vir ‘n ekstra rente inkomste. Ek praat vanuit my eie ervaring deur reg te besluit . Hou jou doof vir hierdie slim set. Sterkte!

Santie Gildenhuys ·

….mag ek byvoeg…
Met aftrede kry jy belastingkwytskelding van R550 000 op jou aftree lompsom ( die eenderde). Indien jy dus hierdie lompsom voortydig, geleidelik erodeer, gaan jy hierdie fantastiese voordeel uiteindelik verloor en jy gaan al die pad hoes met belasting betaal. Lees baie mooi tussen die politieke lyne deur…

Santie Gildenhuys ·

….ekskuus…my verkeerd uitgedruk…
Jy het belastingkwytskelding op die eerste R550 000 van jou lompsom met aftrede.

OW ·

Ek stem 100% met jou saam.Jou beskrywing is die regte ding om te doen.As jy peuter aan jou pensioen geld voor aftrede soek jy moeilikheid vir jou pensioen jare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.