Word só geldfiks

Begin deur ‘n begroting op te stel en daarby te hou. (Foto: Unsplash)

Die Nuwejaarsvoorneme om die sente om te draai is lankal vergete, die Kersfeesbonus is geblaas en hier teen die middel van die jaar word dit al hoe moeiliker om jou maandelikse begroting te laat klop. Boonop styg jou uitgawes byna elke dag.

Nes dit egter harde werk verg om jou fiksheidsdoelwitte te behaal, verg dit ook oefening om geldfiks te word. Enigiemand wat al gewerk het om ʼn fiksheidsdoelwit te bereik, sal boonop weet dat elke klein treetjie jou eindelik oor die wenstreep help en presies dieselfde ingesteldheid kan jou help om jou finansiële doelwitte te bereik, sê Edwin Theron, hoof van die digitale versekeraar Sanlam Indie.

“Wanneer ons eerlik na ons geldgewoontes kyk, gaan baie van ons dalk nie hou van wat ons sien nie en ʼn mens besef dat dit die bestuur van jou geld intimiderend kan laat voel,” sê Theron.

“Wanneer jy egter na die syfers kyk, sal jy bestedingsneigings begin raaksien wat jou kan help om jou huidige finansiële situasie te verbeter.”

Moet dus nie moedeloos raak as jou nekhare rys wanneer jy jou persoonlike finansies van nader begin beskou nie. Gebruik dit eerder as aansporing om beter besluite in die toekoms te neem.

Theron sê daar is verskeie maniere om vandag nog beheer oor jou geldsake te neem.

Skep ʼn begroting (en hou daarby)

As jy jou langtermyn- en korttermyndoelwitte wil bereik, is dit belangrik om ʼn maandelikse begroting op te stel. Begin deur jou maandelikse inkomste sowel as al jou uitgawes neer te skryf, sê Theron. Doen dit oor ʼn paar maande sodat jy ʼn goeie aanduiding kan kry van hoeveel geld jy bestee op items soos kos, vermaak en brandstof.

Dis egter nie goed genoeg om net ʼn begroting op te stel nie, jy moet ook noukeurig boekhou van al jou finansiële bedrywighede sodat jy kan hou by die begroting wat jy opgestel het.

Identifiseer en elimineer onnodige uitgawes

Terwyl jy jou inkomste en uitgawes hersien om jou begroting op te stel, sal daar waarskynlik ʼn afdeling of twee wees waaraan jy meer geld bestee as wat jy sou wou. Theron sê hoewel daar sekere uitgawes is waarby jy nie gaan verbykom nie – soos huurgeld of motorversekering – sal daar waarskynlik plekke wees waar jy kan besnoei.

Om te besnoei op iets soos wegneemetes kan op die lang duur ʼn groot verskil aan jou beursie maak.

Kyk na jou versekering

Dit is belangrik om die regte versekeringspolisse in plek te hê, sê Theron. “Versekering gaan daaroor om risiko te bestuur – van huiseienaarsversekering tot mediese fondse, lewensversekering en inkomstebeskerming. Al hierdie dekking is ontwerp om jou te help om onvoorsiene uitgawes te hanteer,” sê hy.

Dit klink dalk soos ʼn plan om op versekering te bespaar, maar wanneer sake begin skeefloop, help versekering dat ʼn krisis jou nie finansieel ruïneer nie.

Prioritiseer spaargeld

As jy reeds sukkel om die boeke te laat klop, voel spaar soos die laaste ding wat jy kan doen. Theron sê egter as jy meer bestee as wat jy moet, kan jy oorweeg om aan die begin van die maand outomaties geld weg te sit, eerder as aan die einde van die maand wanneer daar dikwels nie veel oorbly nie. Dit help ook om finansiële dissipline te kweek.

Dit is ook ʼn slim plan om ʼn noodfonds te hê waarheen jy jou kan wend as enige onverwagte uitgawes opduik.

Kry hulp

Die meeste mense het nie die tyd, kennis of geneigdheid om hul eie finansies te bestuur nie. Daar is egter heelwat produkte en raad beskikbaar om jou persoonlike finansies te help ontrafel. As dit steeds soos ʼn berg voor jou lê, kan die hulp van ʼn finansiële raadgewer help om jou geldfiks te kry.

Theron sê eindelik gaan dit veel meer oor wat jy elke dag, elke maand en elke jaar met jou geld doen  as oor hoeveel jy maandeliks verdien.

“As jy jou finansiële situasie probeer verbeter, is dit deurslaggewend om te onthou dat jou huidige gedrag werklik ʼn groot uitwerking op jou toekomstige finansiële gesondheid gaan hê – gaan begin dus met ʼn begroting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.