Boesmans ontleed nou ook antieke spore

kxunta

Kxunta, ‘n spoorsnyer wat deesdae wetenskaplikes bystaan met sy inheemse kennis. Foto: Verskaf.

Boesmans se spoorsnyvermoëns is lankal legendaries, maar dit word nou ook ingespan om oeroue spore in grotte uit die voortyd te vertolk.

Boesmans van die !Xun- en Kwe-stam was in die Grensoorlog deel van die SA Weermag se elite-eenhede. Hulle kon sê of die spoor tot mans of vroue behoort het, hoe oud dit was en of die mense byvoorbeeld haastig was of swaar gedra het.

Daar is veel te leer van die historiese spore wat 15 000 jaar gelede deur antieke mense in grotte gelaat is. Rekenaarontleding en ander tegnologie het veel hiertoe bygedra. Die wetenskaplikes het ook geweet daar bestaan professionele spoorsnyers en het hulself afgevra: “Kan hierdie mense uit Afrika se jag- en versamelaargemeenskappe dalk nuwe lig op ons navorsing werp?” Die antwoord was ʼn luide “ja”.

Die drie Boesmans het ook die trapper van elke antieke spoor se ouderdom en gender bepaal.

pech-merle-spoor

‘n Spoor van ‘n antieke mens by die grotte van Pech Merle. Foto: Verskaf/Grotte du Pech Merle

Westerse wetenskaplikes het die antieke voetspore in die Pech Merle-grot in die suide van Frankryk dekades lank bestudeer. Binne enkele minute het drie Ju’/hoansi-San-spoorsnyers – Ciqae, Kxunta en Thao – verskeie spore in hul ondersoek raakgesien wat voorheen misgekyk was – al die tegnologie ten spyt.

Hulle het ook uit die grootte en vorm van die voetspore bepaal dat dit aan vyf verskillende individue behoort het waar die getal vroeër op een of twee gestel was.

Die drie Boesmans het ook die trapper van elke antieke spoor se ouderdom en gender (oftewel geslag) bepaal: Hulle is deur een ouerige man, twee jong vroue, ʼn jong man en ʼn kind gelaat.

Die Ju’/hoansi-San-spoorsnyers mag dit moeilik vind om meer antieke spore soos in die Happisburg-grot aan die VK se Norfolk-kus te ontleed omdat hulle deur ʼn vroeër menslike spesie gelaat is wat anders as ons lyk en ander gedragspatrone gehad het.

Navorsers van die Universiteit van Cambridge het die “wetenskaplike metode” van die Ju’/hoansi-San se spoorsnyers in beheerde omstandighede getoets en gevind dat hulle dierespore 98% korrek vertolk het.

Hoofstroom-wetenskap word dalk net op die regte tyd bewus van die waarde van professionele spoorsnyers, sê Louis Liebenberg, uitvoerende direkteur van die Cyber Tracker Conservation.

“In Botswana is tradisionele jagmetodes nou verbied en die meeste kenners van spoorsny gaan verdwyn as ons nie werksgeleenthede aan hulle verskaf nie.”

Hierdie organisasie, wat nie op winsbejag ingestel is nie, het die afgelope 20 jaar 5 000 kwalifiserende sertifikate uitgereik met die doel om spoorsnyvaardighede te wettig en te normaliseer sodat groter organisasies hul waarde kan besef en aan hulle ʼn heenkome kan bied.

pech-merle-rotskuns

Rotskuns in die grotte by Pech Merle. Foto: Verskaf.

“Die meeste van Afrika se spoorsnyers werk as toeristegidse en veldwagters in nasionale parke. ʼn Klein getal is deur wetenskaplikes ingespan vir dierespoor-opnames en ondersoeke na dieregewoontes.”

Hy sê ook ons begin sien hoe ongeletterde spoorsnyers as medeskrywers genoem word in wetenskaplike verhandelings vir hul belangrike bydraes tot die genereer en toetsing van hipoteses.

Die navorsers het die drie spoorsnyers in diens geneem omdat hulle ʼn aansienlike bydrae kan lewer tot ons verstaan van die antieke mense van Pech Merle. Dis ʼn eerste stap in die rigting van ʼn nuwe benadering tot argeologie wat nuwe tegnologie met inheemse kennis kombineer.

ʼn Konferensie wat gemik is op die kombinering van wetenskaplike navorsingsmetodes word vir Mei 2017 beplan.

Die Pech Merle-grot huisves ook talle uiteenlopende rotstekeninge en beeldjies en is ʼn gewilde toeristebestemming.

Bron: “The footprints of the dead have revealed more secrets”, deur Colin Barras (BBC World).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae