Drie berugte helde was drie Grey-manne

Hansie Cronje. Argieffoto.

Deur Pierre Massyn

Ek het die Springbokbaadjie so ʼn meter of drie neffens Ryk Neethling se swembroek gesien, uitgestal in die toonkas. Onder die Springbokwapen het die geborduurde goue letters jou vertel waarvoor die uitverkorene hierdie ikoniese simbool kon dra. SUID-AFRIKA – BOKS het daar gestaan. In Afrikaans. Maar dit was die naam langs die gesogte baadjie wat my aangegryp het. Robey Leibbrandt.

Hulle was drie uitskieters. Meer uiteenlopende persoonlikhede as hierdie drietal sou jy jou nooit kon voorstel nie. Die een was ʼn briljante krieketspeler, skoolkaptein van sy beroemde skool en kaptein van sy land. Die tweede een was ʼn kommunis, wie se oupa die oudste manskoshuis – Vishuis – op Die Bult in Bloemfontein sy naam laat kry het. En dan was daar Leibbrandt.

Drie van ons mense. Buitengewoon, al drie van hulle, en so Afrikaans soos pap en braaivleis.

Toe Hansie Cronje ná die krieketskandaal uit die sport geskop is, was daar gevra: Wat gaan van sy Springbok-goed word? Sy skool het egter onverbiddelik vasgeskop.

“Hansie se Springbokkleure bly” het die koerantopskrifte ná die besluit gelui. En ná hy tragies verongeluk het, het die “kleure” nog meer betekenis gekry. Die saal was volpak met sy troosdiens, een van die hartseerste dae in my en tallose ander mense – nie net Suid-Afrikaners nie – se lewe. Miljoene mense het die gebeurtenis op ʼn regstreekse uitsending op televisie gevolg. Groot mans het snikkend gesien en gehoor hoe daar hulde aan Hansie gebring is, onder andere, deur Peter Pollock, gevreesde Springboksnelbouler en broer van baaskolwer Greame, wie se Springbokdas in my besit is. Miljoene mense kon sien hoe leerders in hul netjiese skoolbaadjies vir Ali Bacher, Suid-Afrikaanse krieketsupremo, aangluur toe hy die saal binnekom.

“Wie is hy om sy gesig hier te kom wys?” was die vraag wat kwaad-kwaad tussen die trane uitgebars het. Sien, dis Bacher wat eintlik Hansie se regter, jurie en laksman was…

Peter Paul Muller het die rol van Bram Fischer vertolk in ‘n rolprent oor Fischer se lewe. (Argieffoto.)

Bram Fischer was ʼn Afrikanerkind uit een van Suid-Afrika se bekendste families. Sy oupa was Abraham Fischer, Vrystaatse leier wat voorsitter was van die Orangia Unie wat in Mei 1906 gestig is. Fischer senior word ook lid van die eerste Uniekabinet in 1910. Sy naam pryk vandag nog trots op die koshuis op die Kovsiekampus wat na hom vernoem is.

Bram Fischer se pa, Percy, was regter-president van die Vrystaat. Heel gepas was Bram as regstudent aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat dan ook ʼn inwoner van die koshuis, Huis Abraham Fischer oftewel “Vishuis”, wat na sy oupa vernoem is. Maar Bram sou weens ʼn onwaarskynlike rede roemstatus bereik. Sien, hy het nie van die politieke bestel gehou nie. Hy het gerebelleer. Kommunisme het vir hom die oplossing vir Suid-Afrika se probleme geword. Hy kry sy oomblik van glorie toe hy Nelson Mandela help verdedig in die veelbesproke Rivonia-verhoor in 1963/64. En die ANC vereer hom as een van die helde van die vryheidstryd, nes daardie ander Afrikaner, Beyers Naudé.

En dan was daar Sidney Robey Leibbrandt. Sy verhaal lees soos ʼn sprokie. Kampioenbokser vandat hy negentien jaar oud is, Springbok, Olimpiese atleet. In 1936 lei Leibbrandt die Suid-Afrikaanse span uitgedos in hul Springbokbaadjies, in die atlete se optog in die Olimpiese stadion in Berlyn waar die Nazi’s aan bewind is.

Hy is ʼn ligswaargewig en veg met ʼn gebreekte hand teen ʼn Fransman genaamd Roger Michelot in die halfeindronde. Hoewel hy “verloor”, het hy volgens vele kontemporêre sportkorrespondente en kommentators die geveg met een hand en al gewen. Michelot wen uiteindelik die goue medalje.

Die Duitsers bewonder die Suid-Afrikaner se fanatisme en ysere dissipline – soos die feit dat hy op die grond slaap. Robey Leibbrandt praat vlot Duits. Boonop is hy – soos Adolf Hitler self – ʼn vegetariër. Leibbrandt word geïnspireer deur die Führer en sy ideologieë en projekteer sy sienswyses op Suid-Afrika. Nazi-Duitsland besluit hulle kan só ʼn man gebruik in hul oorlogspoging in die Tweede Wêreldoorlog. Die Nazi’s gee hom Duitse burgerskap.

Onder leiding van die Abwehr[1] van Admiraal Wilhelm Franz Canaris word hy as saboteur opgelei en touwys gemaak in die fyner kunsies van spioenasiewerk. Sy nuwe meesters besef deeglik ʼn pro-Duitse regering in die Unie sal hulle, onder meer, onmiddellik toegang kan bied tot Suid-Afrika se waardevolle mineraleskatte.

Leibbrandt word met ʼn seiljag (die Kyloe) langs die kus van Namakwaland aan wal gesit[2]. Sy missie: werf steun vir Duitsland en vermoor eersteminister Jan Smuts, ʼn lid van Winston Churchill se oorlogskabinet!

Suid-Afrika was middeldeur geskeur oor ons toetrede tot die oorlog. Die Ossewabrandwag, gelei deur dr. Hans van Rensburg, kommandant-generaal, is die felste Smuts-kritici en Duitsland se grootste aanhangers in Suid-Afrika. Dis hierdie pro-Duitse element wat Leibbrandt as uitvoerder van Operasie Weissdorn as bondgenote moet mobiliseer om die regering tot ʼn val te bring.

Hy slaag egter nie daarin nie, grootliks omdat hy te staan kom teen ʼn knap speurder met die naam van kaptein Jan Taillard. Leibbrandt word op 11 Maart 1943 ter dood veroordeel. Toe die regter die doodsvonnis oor hom uitspreek, gee hy die Nazi-saluut[3] en skree: “Ek groet die dood! Die Vierkleur hoog!”

Leibbrandt word egter nie gehang nie. Net voor Kersfees 1943 begenadig eersteminister Jan Smuts hom en verander sy vonnis na lewenslank. Smuts verklaar: “Ek kan nie die seun van ʼn dapper makker wat saam met  my in die Anglo-Boereoorlog geveg het hang nie.”

Leibbrandt het net vyf jaar van sy vonnis uitgedien. Daar is veel meer omtrent hierdie uitsonderlike verhaal te vertel, maar hierdie storie gaan meer om die drie hooffigure in hierdie artikel se wortels: Grey Kollege in Bloemfontein – die gemene deler.

Hansie, Fischer en Leibbrandt was al drie leerlinge aan die beroemde skool in Bloemfontein wat in op 13 Oktober 1855 deur Sir George Grey, eerste minister van die Kaapkolonie, gestig is toe hy die Republiek van die Oranje Vrystaat besoek het.

Wat vertel dit jou van die karakter en gees van ʼn skool wat individue wat só uiteenlopend van aard is, oplewer? Ook drie Springbokrugbykapteins (Morné du Plessis, Theuns Stofberg en Adriaan Strauss) en die Springbokrugbyspelers Jannie en Bismarck du Plessis en Helgardt Muller en dosyne ander. In Grey Kollege was daar meer Springbokrugbyspelers as in enige ander skool, behalwe Paul Roos.

Grey Kollege, die skool wat alle teenstand voor hom weggevee het en keer op keer die seisoen onoorwonne kon eindig.

Daar was ook talle ander uitblinkers op verskillende terreine, soos Steve Hofmeyer of Lappies Labuschagne, kaptein van Japan wat Ierland so pas in die Wêreldbeker-rugbytoernooi geklop het.

Dit is die tradisie dat elke oudleerling van Grey sy eerste Bokbaadjie of -trui aan die skool skenk waar dit in die “heldesaal”, oftewel die skoolsaal uitgestal word. Gaan Lappies sy Cherry Blossom-trui skenk? Wel,  Ryk Neethling, Olimpiese goue medaljewenner en internasionale kampioen, het sy swembroek geskenk!

Ek was nie op Grey nie. Trouens, toe ek die eerste keer  met ʼn Grey-kêrel te doen gekry het in 1972 op die trein van Bloemfontein na Simonstad om vir volk en vaderland diens te gaan doen in die vloot, het ek gedink hy is ietwat rammetjie-uitnek! Ek het sedertdien toenemend agtergekom Grey Kollege van Bloemfontein is inderdaad ʼn skool wat ryk is aan geskiedenis en tradisie. Ek hou veral van die skool omdat hulle gereeld Auckland Boys High van Nieu-Seeland met haka en al die loesing van hul lewe toedien.

Ek sal Cronje, Leibbrandt en Fischer nooit as swartskape brandmerk nie – hulle staan ongetwyfeld uit as drie talentvolle jong manne. Twee sportsterre, een intellektuele reus. Manne uit verskillende eras, wat mekaar nooit geken het nie. Saamgesnoer deur een bindende vormingsfaktor: Grey Kollege, wat hulle lewens gesmee het.

Soos almal van ons, het hulle foute gemaak. Dat hulle egter uitsonderlike persoonlikhede was, staan soos ʼn paal bo water. Grey Kollege vergeet nooit sy waardes en sy sterre nie. Selfs al jaag hulle aan. In hierdie storie is die drie hooffigure ʼn kommunis, ʼn Nazi en ʼn gevalle sportheld. Drie internasionale figure, al drie omstrede. Drie Grey-manne. In die woorde van Johan Volsteedt, voormalige skoolhoof van Grey Kollege: “ ’n Grey-man kan foute maak, maar hy sal altyd ʼn Grey-man bly.”

  • Pierre Massyn is ʼn historiese navorser en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

Bron:

Vir Volk en Führer: Robey Leibbrandt & Operasie Weissdorn, Hans Strydom, 1983.

Voetnote:

[1] Abwehr: die Duitse militêre intelligensiediens, oftewel geheime diens of spioenasienetwerk.

[2] Leibbrandt sou later vertel dit was ʼn duikboot wat hom aan wal gesit het. Hy het dit glo gedoen om sy avontuur te verromantiseer. Om dieselfde rede het hy ook beweer dat hy byna verdrink het toe hy in ʼn rubberboortjie na die kus naby Lambertsbaai moes roei. Dat hy byna kon verdrink het, is waarskynlik nie ʼn versinsel nie, aangesien die verraderlike kus tallose slagoffers geëis het. Die roman Power of the Sword van Wilbur Smith is ten dele op hierdie gebeurtenis gebaseer.

[3] Waarnemers wys daarop dat dié tipe saluut deur die Romeine gebruik is en dat Hitler hulle nagevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

susan ·

Laat my dink aan die grappie van die man wat langs die kis gesê het nadat die predikant vra wil iemand iets sê: “wil net sê ek was in Grey College”

Liendempers ·

Gewoonlik kom die tipe “grappies” van mense wat nie in Grey was nie………..

Danie Malan (Domeritus) ·

Ek’s nou ‘n baie teleurgestelde leser! So pas het ek op 2 berigte breedvoerig en tog myns insiens wel ter sake gereageer. Net toe ek dit wou stuur, verskyn jul ontnugterende kennisgewing : Kommentaar gesluit! Ja-nee, in die Ruwe SA moet alles mos kits gedoen word en word die kraalhek woes en harteloos in die ou agteros se gesig toegeklap! Eina!
Oor die opskrif van Pierre Massyn se pennevrug: “Drie berugte helde..” voel ek ook erg gesteurd. Dis m. i. ‘n uiters ongevoelige betiteling! Die woord “omstrede” is mos baie meer gepas, nie waar nie?

SjN ·

Liendempers, so jy erken dat die grappie n feit is, maak nie van jou n chopper Pilot nie.

Pietsnot ·

Dr Bacher het seker die geld gevat en Mandela het mos in 1995 die wen-skepdoel oorgesit. Pateties!
Terloops, ek dank my others dat ek nie in Grey was nie.

Swanna ·

Pietsnot ek voel dieselfde nadat ek Liendempers se kommentaar gelees het. Amper gedink sy\hy se naam is rinnerpes.Hi hi hi. Danie goeie punt.

susan ·

Liendempers moenie my tipeer nie. Wat maak Grey so anders? Redelik deurgeloop afgelope jaar met verkeerde besluite. Ontspan en geniet jou lewe

Catherine ·

Ek weet die die ander twee se storie en hoe hul lewens was nie maar verseker was Hansie gevang deur die duiwel. En hy het vergifnis gevra. Eerstens sy lewe weer voor ons enigste koning Jesus herstel en of die wereld dit wil weet of nie. SA wat die wil van die Here ken weet Hansie is vergewe en is vandag saam met Jesus.

Benneman ·

Werklik mooi geskryf. Tussen al die berigte van moord, doodslag en korrupsie het ek hierdie blik van ons geskiedenis mateloos geniet, dankie.

Therese van Schalkwyk ·

Weer ‘n skitterende stuk, Pierre Massyn!
Grey Kollege Bloem, Paul Roos en al die ander topskole soos Paarl Hoër Jongensskool, Afrikaans Hoër Seunsskool ens. is Suid-Afrika se trots, en in dieselfde klas of béter as die wêreld se beste.
Hansie se storie bring wraggies nou nog ‘n knop in die keel …
Wie weet, het Ali Bacher maar net ‘n fraksie van die onwrikbare trots en liefde vir sy eie mense gehad as Jan Smuts, het die Hansie-drama moontlik hééltemal anders verloop.

susan ·

Therese hy het verseker berou betoon. In die proses sy vrou en ouers baie hartseer veroorsaak. Maak geen ophef van ‘n mens al was hy dan ook in Koppies Hoërskool. Grey is nie meer die Grey van Hansie se tyd.

Derick ·

So iemand wat dink kommunisme kan werk, word in 2019 as n akademiese reus beskryf. Aangesien daar so baie suksesvolle kommunistiese lande is, is dit seker reg so. :):)

Rubber ·

Mooi geskryf. Dink net ‘n opskrif soos Grey College se gevalle helde, sou beter gepas wees.

Ruben ·

Hansie is geen held nie…geen verskil tussen hom en Zuma.Lief vir geld en korrup…klaar so baie geld gehad maar wou meer en meer he.

EK ·

Ruben, “laat die een way sonder sonde is die eerste klip gooi”. Hansie het sy foute erken en vergifnis gevra – groooot verskil tussen hom en Zuma. GROOT verskil

sannie ·

Lees nou van Bishops in Kaap waar onderwyseres verhouding met 18 jarige seun en dit nie wil agterlaat. Die berig dui aan dat hy die seun is van twee bekende dokters. Die sogenaamde elite skole meen hulle is verhewe bo enige kritiek. Al was hy ‘n karwag se kind wat daarvan? Klim van julle kroontjie af.

gawie ·

Catherene. Hansie gevang deur die duiwel ?? Basta die beste manier om die duiwel te sien is om in die spieël te kyk, niemand wil gewoonlik hul skuld of foute erken nie want as jy nie jou man of iemand ander kan beskuldig nie dan moet dit kwansuis die duiwel wees. So sien ek elke oggend die duiwel as ek in die spieël kyk, kyk maar jy sal hom ook sien.

Catherine ·

Gawie ons praat hier nie van jou of myself nie. Ek dank die Here elke dag dat Hy my sondes vergewe het. So ver as die ooste van die weste. Ek sien die duiwel nie in die spieel nie. Vra die Here dat Hy daardie spieel van jou sal breek en jy in volmaaktheid vir Hom kan lewe. Die Here het nie witbroodjies nie. Hy IS liefde.

Bertus ·

Lekker stuk Pierre, maar ek dink nie Braam Fischer was in Vishuis nie. Ek was wel, en ek dink dit sou oorvertel gewees het, veral oor CR Swart ook daar was.

Jerry ·

Dit wys ook maar weer dat selfs n instelling soos Grey wat leiers en helde kweek, iewers gefaal het met die onderrig en opvoeding van die drie omstrede en gevalle helde. Ten minste bly die meeste helde darem staande en net die tyd sal leer of Steve gaan staande bly!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.