Ek is dankbaar ek het dít by SA geleer

Die blomme en kerse by die hekke van Hoërskool Driehoek. Foto: Verskaf

Hier aan die onderpunt van die aarde, in Nieu-Seeland, kry ons die nuus op ‘n Saterdagoggend van ‘n tragedie aan die ander kant van die wêreld. Ons, geskok en woordeloos, lees die artikels van ‘n brug wat die lewe van ‘n hele gemeenskap kom plat val het.

Ons trane sit vlak vir mense wat ons nie ken nie, en nooit sal ontmoet nie. En ons sien oor die dae wat volg, hoe sekere mense die tragedie uitbuit. Hoe hulle dit oor ras en taal maak, eerder as die rou seer van ‘n klomp jongmense wat nooit weer heel sal wees nie. Oor ‘n klomp families wat die stukkies van hul lewe weer aanmekaar gaan probeer plak. Oor al die onderwysers wat probeer sterk staan vir hul kinders en ouers terwyl hul eie harte aan flarde is.

En tog sien ons ook die mooi. Ons sien foto’s van mense wat gaan help het ten spyte van die onveiligheid. Ons sien stories van ondersteuning en gebede. Ons sien blomme en kerse en glimlaggende kindergesiggies wat nooit weer sal glimlag nie. Ons sien stories van omgee en liefde. Ons sien ander gemeenskappe saamstaan om te help, geld in te samel en te bid. En ons sien geel en pers – oral.

Dit is wat Suid-Afrika vir my is. Dis wat my vandag in dankbaarheid my kop laat sak en laat bid vir my land.

In Suid-Afrika het ek ook geleer van empatie en gee. Nêrens waar ek al gereis het, is daar ‘n kultuur van omgee en gee soos in Suid-Afrika nie. Mense bied huisvesting en traumaberading aan vir Hoërskool Driehoek. Mense bied hulp met verblyf en kos aan ouers wat nagte in ‘n hospitaal langs ‘n gebreekte liggaam moet sit.

Vir ander wat behoefte het, het elke kerk uitreik- en sendingaksies, jeugwerkers en sopkombuise. Elke maatskappy het nou ‘n gemeenskapsprojek. Daar is honderde, dalk duisende, liefdadigheidsorganisasies. Daar is mense wat sommer net van hul eie huise af mense in nood en armoede help, soos oom Jorrie in Pretoria. Dis ook die empatie van ‘n “sorry sisi” van die skoonmaker as jy ‘n toon stamp (hier waar ek nou bly, kom ek agter dat dit eie aan ons land is en ons “jammer, man” of “siestog, shame” kan jou snaakse kyke op die hals haal.. Daai toonstamp is mos nie jou skuld nie, so hoekom sê jy jammer?).

Ek is dankbaar ek het dit geleer.

Suid-Afrikaners is gasvry. Soos met die aanbied van hulp en behuising by Driehoek, het ek dit al baie gesien op ander plekke. Dis ook oorslaap by verlangse familie op pad see toe. Dis die vakansies in Witrivier of Witsand waar elkeen vir hom ‘n plekkie skrop in jou tannie se huis, al is dit op die sitkamerbank. Of die inval vir ‘n koppie koffie by vriende op ‘n weeksaand. Alles in ons land gebeur mos rondom kos. As jy by jou ma se huis kuier, word jy gevoer. Daar is nie ‘n rugby- of sokkerwedstryd waar daar nie kos betrokke is in een of ander vorm nie – ongeag die kleur van die mense betrokke. Braai en potjie en buffet en spit het niks met die kos as sodanig te doen nie. Dis meer die gesellige gasvryheid wat daarmee gepaardgaan. Dis die uitspattige spek-en-eier-ontbyte vir die hele buurt se kinders op ‘n kampvakansie. Dis die innooi en koffie maak as jou kar onklaar raak in die Karoo en jy by wildvreemdes aanklop vir hulp.

Ek is dankbaar ek het dit geleer.

Suid-Afrika het my geleer van aanvaarding en waardering vir mense wat anders is as ek. Sê wat jy wil, maar dis ín ons. Ons neem die gumboot-dans en vuvuzelas as ons eie by geleenthede, veral as ons dit teëkom in ‘n ander land.

Ons het in elke dorp ʼn kerk, al is die populasie slegs 100 mense. Ons koop Portugese kos by die Portugese se kafee, maar kry ook sommer by hom die koeksisters en vetkoek saam met die slap tjips en peri-peri hoender. Ons almal gebruik “eish” en “aikona” en “klap” en “eina” en “lekker”, ongeag ons velkleur of taalvoorkeur.

Ek lees ‘n stukkie op Facebook van ene Gabriel Sithole. Hy vind die humor in ‘n situasie by die lisensiekantore wat menige mens al boos gemaak het. Ek geniet die stukkie. Ek verlang so na die humor van Suid-Afrikaners. Dis nie heeltemal dieselfde as die Kiwi’s se sin vir humor nie. Ons kan lag. Vir die situasie, vir mekaar en vir onsself.

Ek is dankbaar ek het dit geleer.

Ek is dankbaar vir Suid-Afrika. Desmond Tutu het dit reg gehad toe hy ons die Reënboognasie gedoop het. Daar is soveel nuanses en verskille en interessanthede wat jy eers werklik mooi kan sien as jy die perspektief van afstand het. Van hier af is my land vir my baie mooi. My mense is mooi. Al my mense, almal wat Zoeloe, Tswana of wat ook al praat ook. My mense is uniek.

Mag ons die vermenging van die reënboog stop voor dit soos klei een vaal Engelse deurmekaarspul is wat nooit weer uitmekaar gehaal kan word nie. Mag ons pers en geel kleure hou. Mag dit vandag die kleure wees wat ons in ons andersheid saambind. Mag ons in dankbaarheid ons eie kultuur vier. Mag ons met daardie selfde dankbaarheid ons buurman se andersheid en kultuur vier. Want van hier waar ek staan, klink kea lebohangiyabonga en dankie vir my ewe mooi.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Agie ·

Baie, baie dankie René
Jy het ‘n pragtige gees.
Dankie vir die wakker maak gedagtes wat so uit jou skrywe borrel. Vanoggend het jy my hart gevat en ek het die GEES ervaar.
Daar by jou in Nieu-Seeland is ‘n kosbare Afrikaanse niggie van my en terwyl ek so lekker lees besef ek dat die groot water nie regtig mense skei nie. Afstand het niks geword.
Afrikaanse Bosveld groete🤗

Willie ·

Baie mooi skrywe.. SA is n besonderse land, met besonderse mense.. Net jammer dat hier mense is wat rassehaat aanpor, en afstootlikke dinge kwytraak.. Die onbenullige plaas moorde, ons praat hier van brutale marteling van ou mense wat weerloos is, wat pas uit oggend dienste uitkom… Hier is veel trane te huil in hierdie land, mens kry soms n gevoel van magtelooshied.. Dan gebeur so n tragedie, en mens besef weereens van wat se stofasie die Afrikaner van aanmekaar gesit is.. Die gasvryheid en naaste liefde, saamstaan in tye van nood.. Saam bid en huil, en n helpende hand uitsteek..

RHG ·

Wat ‘n pragtige skrywe! Alles is so waar. Dankie, René, vir die herinnering dat ons ‘n lieflike land het, met lieflike mense.

Anoniem ·

Het presies dieselfde ervaar toe ek ander lande besoek het. Daar is iets uniek aan onse mense wat jy nêrens anders kry nie. Glo my jy mis dit in ander lande.

Susan ·

Jy het waarlik ‘n besonderse perspektief. Dankie vir die deel wat die res van ons bietjie aan die dink sit! Met al die negatiwiteit en lelik in die koerante, is dit waarlik ‘n seën om jou stukkies te lees!

Perspektief ·

Ek verkies die positiewe perspektief. Maar liewe René, kom doen as nuut-gegradueerde aansoek vir werk in hierdie land. Probeer om daar tussen jou romantiek van van ‘ngiyabonga’ en ‘klap’ die realiteit van Suid-Afrika te vind. Nie die een wat jy van jou kinderdae onthou nie. Die BEE een. Die een wat soveel verskil van die prentjie wat jy in jou kop het.

Ervaar die vernedering om as wit mens, wat ná 1994 gebore is, gemarginaliseer en geviktimiseer te word oor dinge wat ek self nie ken of verstaan nie. En tog is my graad, my optimistiese geaardheid, my lojaliteit en dissipline, my mede-menslikheid – tog word die dinge nie erken waar ek aansoek doen vir ‘n werk nie.

Weet jy hoeveel aansoeke vir werk ek al uitgestuur het? Ek het geen ander keuse as om na die geleenthede in die buiteland te kyk nie.

Liewe René, romantiek betaal nie die rekenings nie!

Rene ·

Perspektief, dankie vir jou opinie. Ek hoor die seer in daardie antwoord. Ek dink nie ek is een an dié wat Suid-Afrika romantiseer nie. Kyk bietjie na my ander stukkies, dalk sien jy bietjie van jouself daar. Ek weet hoe die jeug veral nie n plekkie in die son het in SA nie. Vir my was dit een van die redes dat my gesin die land moes verlaat. Nie almal kan nie. Ek hoop daar kom beter dae vir jou en ander vorentoe.

Nicolene ·

Ongelukkig… Is hierdie realiteit van ons wat moes agterbly en nie oorsee kon gaan nes skop nie…. En die seerste is my 8 jarige kleinkind wat ek nie weet wat gaan word in hierdie withaat wat nou heers nie.

koos ·

haal jou grade AF vanaf jou CV en doen aansoek vir meer “mediocre” werk. dan kry darem makliker werk. En as jy eers “mediocre” werk het, doen dan aansoek vir werk waar jou grade veronderstel is om te tel.
Ek het dit gedoen. Eks n man, so dit tel ook nog teen my. so as ek dit kon regkry, kan jy ook.

JAN ·

Met trane mag ek jou verwys na Herman Charles Bosman se skitterende letterkunde in Engels. Word beskou as een van die 5 bestes in Engels ooit. Hy het oor die Boere Afrikaners geskryf. Veral oor die ABO omtrent soos volg;
Toe die boer na 4 jaar op kommando se onbeskryflike ontberings , weer sy vrou ontmoet op hul verwoeste plaas wie 2 jaar in die konsentrasiekamp hul 2 kinders verloor het – toe besef hy met die grootste skok , dat hy self nooit die oorlog gesien het nie. !!
Lees gerus sy meesterlike beskrywings van die Afrikaner Boere volkie.
Dankie vir jou liefde.

Out of Africa ·

Nee wat, my herinneringe van SA is net geweld, misdaad, lawaai en rommel orals. Mens kan dit mos nie mis nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.