Franse matroos hou die Kaap Hollands

pierre-andre-de-suffren

Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

In ʼn vorige artikel het ek die deurslaggewende rol wat Frankryk, en veral die Franse vloot, in die totstandkoming van die Verenigde State van Amerika gespeel het, beskryf.

As jy begin rondsnuffel in die geskiedenis, kom jy op verborge brokkies inligting af wat jou gou laat besef dat Frankryk ook hier in Suid-Afrika sy stempel afgedruk het – en ek praat nie nou hier van die Franse Hugenote nie. In Engelse bronne is die naam Pierre André de Suffren de Saint Tropez beswaarlik ʼn voetnoot, maar dan, die Britte verswyg gewoonlik hul eie neerlae en wandade, soos die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog. In dié verband het Marthinus van Bart die skokkende Britse vergrype en wreedhede tydens die slawehandel meesterlik aan die kaak gestel in sy aangrypende boek Kaap van Slawe.

In die tweede helfte van die agtiende eeu was twee van die supermoondhede van daardie era, Frankryk en Engeland, saam met Nederland, in ʼn magstryd om globale koloniale heerskappy gewikkel. Die Kaap was ʼn verafgeleë uithoek van Nederland. Maar toe die reuse in Europa begin skouers stamp, sou dit noodwendig weerklank vind in die verre suide van die Afrika-kontinent. Wat Britse bronne weerhou (om hulle die verleentheid te spaar), is dat ʼn handvol Franse soldate aan die Kaap ʼn Britse vloot só die skrik op die lyf gejaag het, dat hulle te bang was om voet aan wal te sit, en so het die Kaap Hollands gebly.

Dit was ʼn resies na die Kaap, tussen England en Frankryk, Maar laat ek die storie van voor begin…

Op 20 Desember 1780 verklaar Engeland oorlog teen Nederland. Die rede word aangevoer as Hollandse inmenging in die oorlog tussen Amerika en Engeland. Frankryk is reeds ʼn Amerikaanse bondgenoot. Die Kaap is in Hollandse hande, en is ’n belangrike skakel in die verbindingsroete tussen Europa en die Ooste. Die protagoniste besef die belangrikheid van die Kaap van Goeie Hoop terdeë.

In Maart 1781, stuur beide Frankryk en Engeland vlote na Afrika se suidwestelike hoek om Kaapstad vir hul eie skeepvaart te beveilig. Kaapstad het sedert 1652 gegroei tot veel meer as net ʼn buitepos of halfwegstasie. Dit was teen daardie tyd al ʼn florerende kolonie uit eie reg.

Die Engelse vloot, onder kaptein George Johnstone, spring ʼn week vroeër as hul Franse mededingers weg, maar, knap seeman wat hy is, bereik de Suffren se Franse taakmag Tafelbaai eerste. Suffren laat onmiddellik drie regimente Franse soldate aan wal. Toe Johnstone die Kaap bereik, sien hy nie kans vir die Franse taakmag nie. Wikipedia stel dit (sonder om doekies om te draai): “Pierre André de Suffren saved the Cape from capture by Johnstone”. In sommige kringe sou Johnstone as lafhartig beskou word. Die Britse admiraliteit het immers al vantevore hul seekapteins laat teregstel op aanklagte wat beskryf is as “failing to engage the enemy”. Hierdie lot het admiraal John Byng op 14 Maart 1757 getref nadat hy, volgens die owerhede, nie teen die Franse magte wou veg wat die Britse basis Fort St. Philip op die eiland Minorka oorrompel en verower het nie. Koning George die Tweede se woorde was: “Hierdie man wil nie veg nie!” Byng is aan boord van die lynskip Monarch gefussileer.

Maar wie was hierdie Franse seeman wat die Britse vloot uitgestof het in ʼn wedvaart na die Kaap en toegesien het dat die kolonie vir ʼn verdere vyftien jaar lank in Nederlandse besit bly? Behalwe dat (selfs) sy Engelse vyande erken hy was Frankryk se beste gesagvoerder op see in die agtiende eeu, ken die Orde van Malta aan hom die eretitel Bailli de Suffren toe. Hy word eers ridder en toe kommandeur van die Orde.

Behalwe dat hy Johnstone verneder het, het hy op sy vlagskip Cléopâtre die Britse admiraal Edward Hughes in die seeslag van Cuddalore met ʼn swakker vloot verjaag en gedwing om na Madras te vlug. En Pierre André was ʼn luitenant op die Orphée toe die Franse die Britse vesting op Minorka verower het. Hoe jy ook al daarna kyk, Suffren was in talle opsigte ʼn doring in die Engelse vlees.

Maar wat van die Franse teenwoordigheid aan die Kaap? Daar moes sonder twyfel nog Hugenote en self Hollanders wees wat Frans magtig was aan die Kaap toe Suffren sy manskappe aan wal gelaat het. Hoe lekker moes die soldate nie Frans met die plaaslikes kon gepraat het nie! Anna Böeseken skrywe in haar gesaghebbende boek Onder Suidersterre, dat die (vry-)burgers lekker geleef het terwyl die Franse soldate aan die Kaap was. “Die dames het allerhande mooi klere gekry en die mans het die Kaap spottend ‘Klein Parys‘ genoem.” Sy stel dit dat die burgers in ruil vir hul produkte “mooi meubels en weelde-artikels” kon koop. Een ding is seker: deur hierdie dapper Fransman se toedoen, het die Kaap vir vyftien jaar lank nog Hollands gebly.

Ek sou my verstout om te sê dat as daar ʼn Franse taakmag teenwoordig was toe Engeland die Kaap in 1795 aangeval het, hulle die aftog sou moes blaas…

  • Pierre Massyn is ʼn navorser, amateurhistorikus en seiljagvaarder

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans Richardt ·

Gee dit gelyk, behalwe dat die kolonie aan Kaap aan privaat Hollandse maatskappy VOC behoort het en nie aan staat nie.
Hy stel dit korrek dat Frankryk en Britse koninkryk in koloniale stryd om Kaap was, daarom word die Kaap dan ook ook die Bataavse Napoleon era Republiek en later die Britse kolonie.
Ek verbaas my dat mense oral maak asof die Kaap gekolonialiseer was deur Nederland wat onder Willem van Oranje, met hulp van Britte teen Franse, koning word in 1838 van moderne Nederland.

Oom Doug ·

Mooi, Ek geniet dit om die fein detail van ons verlede te lees, baie interesant.
Goed geskryf, Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.