Akademia maak plan met dreigende tekort aan onderwysleiers

Van links na regs: prof. Danie Goosen (akademiese hoof van Akademia), dr. Pierre Edwards (bekleër van die ereleerstoel vir onderwysleierskap by Akademia) en prof. Gawie du Toit (dekaan van Akademia se Fakulteit Opvoedkunde). (Foto: Verskaf)

In antwoord oor die bekommernis oor die groot aantal onderwysers wat die beroep weens aftrede moet verlaat, het Akademia, ʼn private hoëronderwysinstelling, Woensdag gesê hulle werk reeds aan kwalifikasies om onderwysleiers vir die toekoms op te lei.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrika kan verwag om vir die volgende 20 jaar tot soveel as 17 000 onderwysers jaarliks in die openbare sektor as gevolg hiervan te verloor.

Hierdie inligting is in ʼn verslag bekendgemaak wat in Desember 2022 deur die Departement van Navorsing oor Sosio-Ekonomiese beleid by die Universiteit Stellenbosch uitgereik is.

Die noodwendige gevolg is dat daar ʼn al hoe groterbehoefte aan opgeleide onderwysleiers is. Met die oog hierop het Akademia ʼn ereleerstoel vir onderwysleierskap, wat deur dr. Pierre Edwards beklee word, ingestel en die instelling is reeds besig met voorbereiding vir toepaslike kwalifikasies in hierdie veld.

Akademia het Woensdag ʼn netwerkgeleentheid vir akademici en laerskoolbestuurders aangebied om saam oor die toekoms van onderwys te besin. Die dreigende onderwyserstekort, kommer oor bevindings van die jongste verslag van die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), en ander aktuele kwessies is ook bespreek.

Verskeie kenners het innoverende benaderings tot onderrig en leer in laerskoolonderwys bespreek, waaronder dienende leierskap, die laerskoolonderwys-legkaart, passie as die belangrikste eienskap van ʼn onderwyser en perspektiewe op vroeëkinderontwikkeling.

Hiermee wil Akademia hande met onderwysers in die praktyk vat, in ʼn strewe om toekomstige onderwysers te ontwikkel wat aan die eise en verwagting van ʼn voortdurend veranderende onderwyslandskap voldoen.

Jannie Raath, skoolhoof van Laerskool Hennopspark. (Foto: Annette Willemse/Akademia)

“Akademiese instellings, soos Akademia, wat onderwysers oplei, bemagtig hulle studente om te bou aan die legkaart wat aan die professie substansie gee.

“Dit is ʼn holistiese proses waartydens studente voorberei word op die eise wat hulle werk met kinders aan hulle gaan stel,” het Jannie Raath, skoolhoof van Laerskool Hennopspark, op sy beurt gesê.

Prof. Gawie du Toit, dekaan van Akademia se Fakulteit Opvoedkunde; dr. Pierre Edwards, bekleër van Akademia se ereleerstoel vir onderwysleierskap; Hester Hill, skoolhoof van Midstream College Primêre Skool; en Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaans Onderwysnetwerk, het ook tydens Akademia se opvoedkunde-simposium in Centurion oor hulle eie ervarings gesels en insigte gedeel.

Een van die belangrikste eienskappe van enige onderwyser, is ʼn passie vir onderwys en vir leerders, het Hill gesê. “Onderwys is ʼn edele beroep. Passie en entoesiasme is nodig om onderrig effektief te maak.”

Volgens Van Rooyen het kinders gedurende die ontwikkelingsjare waarin nuwe konsepte vasgelê word, liefdevolle ondersteuning nodig om die wêreld te verken, te ontdek, te eksploreer en te eksperimenteer.

“Hierdie tydperk is van die allergrootste belang, aangesien die brein en liggaam dan baie vinnig ontwikkel. Vroeëkinderontwikkeling is ʼn tydperk waarin gespesialiseerde opvoeding en onderrig benodig word, hetsy dit van ʼn ouer, ʼn versorger of onderwysers ontvang word.”

In Edwards se aanbieding het hy op die noue verband tussen ʼn dienende leier, sy personeel se toewyding en die gehalte van die onderwysinstelling gefokus.

“Die redes hiervoor is voor die hand liggend: ʼn dienende onderwysleier is lojaal teenoor sy personeel en bemagtig en ondersteun hulle om sukses te behaal.

“Dit ontsluit ʼn kragtige dinamika in menslike gedrag en dit skep ʼn organisasiekultuur van spontane ondersteuning. Hierdie ondersteuning stel die onderwysleier in staat om ʼn vlak van sukses te behaal wat hy nooit op sy eie sou kon bereik nie.”

Laerskool Wierdapark se skoolkoor het die simposium met ʼn kort program ingelei, waarna Akademia Uitgewers ʼn nuwe publikasie, Fontieland: ʼn Pret-aktiwiteitsboek vir kinders, bekendgestel het. Die boek is op leerders van graad vier tot sewe gemik.

Jong lesers maak in die boek met Stella en Hennie kennis, wat hulle op ʼn ontdekkingstog deur Akademia se kampus neem. Die doel is om kinders meer oor die instelling en sy vormingsideaal te leer, met behulp van prettig aktiwiteite, soos blokkiesraaisels, vind die verskille en soek die Fonties.

  • Fontieland: ʼn Pret-aktiwiteitsboek vir kinders kos R50 (prys onderworpe aan verander). Klik hier om die boek by Akademia Uitgewers aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is hier waar ons toekoms en oorlewing is,ons moet hiérdie tipe instansie sterk maak.

skurweberg ·

Wonderlike inisiatief. Julle lees die beloftes reg. Hoop die hele Suid Afrika hoor en sien dit en vol die voorberld. By

Cecilia ·

Middag, ek is bly om te hoor dat ons probeer om n plan te maak vir meer onderwysers, maar wat my die meeste bekommerd daar is diegene buite wat regtig belang stel om in die onderwys rigting te gaan maar kan dit net nie bekostig nie, die studie gelde is net belaglik en in vandag se tyd kan mens nie eers behoorlik kos bekostig nie, finansieel is dit onmoontelik om daaraan te dink om te studeer.

My dotter het vir 4 jaar BEd Grondslagfase gestudeerden gegradeer en ons moet nog vir die volgende 5 jaar haar studie gelde afbetaal wat ons geleen het want dit is haar passie in die lewe om onderwys te gee sy wil graag Intermedierevase ook gaan studeer maar ons kan dit nie bekostig nie en haar studie lenings moet eers afbetaal word voor ons daaraan kan dink, meskien moet Akademia studente en die gene wat veder will studeer begin ondersteen en finansieel probeer help en bystaan, dan sal ons meskien nie n tekort aan onderwyser eendag he nie….. Net n aanbeveling IETS OM OOR TE DINK???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.