Leesondersoek: ‘Regering faal leerders’

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. (Foto: GCIS)

Syfers wat wys dat die meeste van die land se gr. 4-leerders nie behoorlik kan lees nie, is ʼn bewys dat die regering die land se kinders in die steek laat.

Só het AfriForum Dinsdag in reaksie op die jongste verslag van die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), ʼn internasionale opname oor geletterdheid, gesê nadat dié verslag getoon het dat 81% van gr. 4-leerders in die land nie met begrip kan lees nie.

Dit is ondanks die feit dat Suid-Afrika een van die 57 deelnemende lande is wat die meeste aan onderwys bestee. 

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê die syfers skets in die algemeen ʼn donker prentjie van die lewens- en onderwysgehalte in Suid-Afrika.

Die vergelyking tussen die deelnemende lande se agtergrondinligting is die eerste gevaarligte oor heersende toestande in Suid-Afrika, sê Bailey. Dit sluit in inwoners se lewensverwagting (gemiddeld 64 jaar), wat die laagste van al die deelnemende lande is, asook die sterftesyfer van babas wat lewend gebore word (26 per duisend geboortes).

“Die verslag toon verder dat Suid-Afrika een van vyf van die 57 deelnemende lande is wat die grootste bedrag aan onderwys bestee; 7% van sy BBP.

“Die verhouding van leerders per onderwyser in Suid-Afrika is ook die hoogste van die 57 lande, naamlik gemiddeld 30. Wat die persentasie kinders in die spesifieke ouderdomsgroep betref wat skool bywoon, is Suid-Afrika in die vierde swakste posisie, met 87%. Daarna volg Bulgarye met 86%, die Slowaakse Republiek met 83% en Jordanië met 81%.”

In die vergelykende studie van leerders se leesvaardighede in die onderskeie lande beklee Suid-Afrika die laagste plek uit 43 lande.

“Die gemiddelde syfer vir internasionale leesprestasie is 500, met die beste land, Singapoer, wat 587 behaal het. Suid-Afrika se telling is slegs 288. Die verslag wys daarop dat Suid-Afrikaanse owerhede nog die syfers ondersoek. Daar word verder genoem dat inisiatiewe aangekondig is om die land se prestasie te verbeter ná die bekendmaking van PIRLS 2016 se resultate.

“Daarvolgens het Suid-Afrika die laagste posisie beklee uit die 50 lande wat toe aan die opname deelgeneem het. Verbetering word egter nog hoegenaamd nie in die huidige resultate gesien nie.”

Die burgerregteorganisasie het groot lof vir plaaslike skole wat kinders behoorlik met geletterdheid toerus, maar Bailey sê hulle is uiters bekommerd oor onderrig in die meeste skole.

“Die Bela-wetsontwerp wat tans weer vir openbare insette beskikbaar is, fokus op allerlei administratiewe en ideologiese sake, soos skole se taal- en toelatingsbeleid. Dit bedreig die funksionele skole, maar gaan geen bydrae lewer om die res se prestasies te verbeter nie. So word ons jeug se toekoms deur ʼn wanfunksionele staat gesteel,” sê Bailey. 

Kommer oor gr. 6-leerders 

Die DA het sy kommer oor nog gegewens in die verslag uitgespreek, naamlik dat 56% van gr. 6-leerders in Suid-Afrika nie met begrip kan lees wanneer hulle op die dieselfde evaluering as gr. 4-leerders getoets word nie.

“Hoewel 21 van die 57 deelnemende lande ʼn afname in uitslae getoon het weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie, het Suid-Afrika aansienlik laer as alle vergelykende lande in die gr. 4-toetse gevaar. Trouens, Suid-Afrika het die grootste afname in leesuitkomste gehad, met ons leerders wat meer as drie jaar agter Brasiliaanse kinders was,” sê Bax Nodada, die DA se woordvoerder vir basiese onderwys.

“Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se opmerkings oor die resultate bevestig die ANC-regering se totale gebrek aan aanspreeklikheid vir die situasie wat hulle geskep het. Sy het gesê, ‘in baie Suid-Afrikaanse laerskole fokus leesonderrig dikwels net op mondelinge prestasie, verwaarlosing van leesbegrip en om sin te maak uit geskrewe woorde’.

“En soos altyd het die minister ʼn belofte gemaak om ʼn hersiening van die Nasionale Leesplan te finaliseer – en versuim om te noem dat haar departement nie die plan behoorlik kon implementeer en moniteer nie, wat nog te sê ʼn voldoende begroting vir lees toewys.”

Nodada sê dis duidelik dat groot tekortkominge in die Suid-Afrikaanse kurrikulum en onderrigmetodes Suid-Afrikaanse leerders laat struikel en hulle van ʼn blink toekoms beroof.

“Wes-Kaapse leerders het die hoogste tellings in die land behaal – gemiddeld 363.

Net Gauteng en KwaZulu-Natal kon ook tellings hoër as die nasionale gemiddeld te behaal. Dit is tyd dat minister Motshekga afgedank word. Sy faal generasies van leerders voortdurend.”

Wes-Kaap maak reeds planne

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê hoewel die Wes-Kaap die provinsie is wat die hoogste telling van al nege provinsies in PIRLS se opname behaal het, is dit steeds kommerwekkend dat daar ʼn daling van 14 punte was.

“Ons het reeds beslissende stappe gedoen om die Covid-19-leerverliese in grondslagfaseonderrig om te keer,” het Maynier gesê.

Dit sluit in bykomende ondersteuning van uitgesoekte skole, die beskikbaarstelling van nog geld vir onderrigprojekte en meer tyd wat aan lees bestee sal word.

“Wat die PIRLS-resultate duidelik bevestig, is dat die pandemie jare se vordering basies uitgewis het en die toekoms van ons jongste leerders ernstig in gevaar gestel het.  “Daarom belê ons ʼn verdere R1,2 miljard in ons Back On Track-program oor die volgende drie jaar, om leeruitkomste oor alle fases heen te verbeter sodat ons kinders ʼn beter toekoms in die Wes-Kaap kan hê.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Stofdonkie ·

Suid-Afrika ondersoek nog die verslag want die minister van onderwys kan seker nie met begrip lees nie en haar departement soek nog na iemand wat wel die verslag kan lees. Hulle sal ‘n kommisie van ondersoek aanstel wat ook ‘n rukkie kan neem omdat hulle nog opsoek is na ‘n BBBEE kandidaat wat kan lees met begrip om die inligting dan met die ander te kan deel.

domheks ·

10000% reg. Ek kan dit nie beter stel nie!Angie moet maar die tuig neerle. As jy iets kan doen – doen dit goed of gladnie!

Pietertjie ·

So, dis die regering se skuld. Maar Motshekga ís die regering! Of besef sy dit nie? Vat jou goed en loop, man! Maak plek vir iemand wat wél die werk kan doen!

Wielspore ·

Hierdie gr 4 gebreke dring deur tot middel vlak bestuur in besighede.

tweeling ·

Bestee baie geld, waaraan. Ek sien nie nuwe skole nie, kinders sit nog steeds onder bome

Milestone ·

My opinie. Die oplossing moet kom by hoe die kinders geleer word. Lees gebeur nie vanself nie en so ook nie begripslees nie. Kinders moet geleer word om dit ordentlik te doen. Doen kinders nog ooit begripstoetse? Ons het een ‘n week gedoen en alhoewel dit nie my gunsteling aktiwiteit was nie, het dit ‘n belangrike doel gehad. Jy kan Angie vervang, maar dit gaan nie die probleem oplos nie, want met die volgende persoon gaan dit ” same old same old” wees.

Nie Verbaas ·

Die regering sal eerder n laer standaard stel as om die situasie te verbeter.

Lillian ·

Met ‘n slaag syfer van 30% wat verwag jy? Biblioteke is toe, en onderwysers wat nie juis gedink pla is of ‘n kind leer of nie want as jy te hard praat met die ou bloedjie is jy jou werk kwyt.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die antwoord lê in moedertaalonderrig. Die alles Engels werk nie, veral in laerskole.

B-Man ·

Hoeveel van die 7% BBP wat bestem is vir onderwys eindig op in kaders se sakke?

Carl ·

Hulle moet onderwysers ordentlik laat oplei en die unies ban. Unies doen niks maar vernietig alles.

Republikein in die Wes Kaap ·

Laerskool onderwysers se hooftaak deesdae is blykbaar om kinders te leer om Engels te praat.

Talia ·

Jinne, kan hulle nou net vir Angie jaag asseblief. Na 2006 wat die oorweldigende meerderheid Gr 4 leerders nie kon lees met begrip nie moes hulle haar al uitskop. Dit is 17 jaar later en niks het verander nie. Die kinders van 2006 is nou volwassenes sonder werk met kinders op skool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.