Geen plan in ‘Nasionale Leesplan’

Vir kinders om ʼn liefde vir lees aan te leer, moet hulle die boeke geniet waarmee hulle leer lees. (Foto: Louise Strydom)

Deur Daneel Knoetze en Liezl Human, GroundUp

ʼn Omvattende leesveldtog vir Suid-Afrikaanse skole wat pres. Cyril Ramaphosa al in 2019 bekend gestel het, het nooit van die grond af gekom nie – ten spyte van triomfantelike bewerings in die parlement daaroor deur die departement van basiese onderwys.

Viewfinder en GroundUp se navorsing wys dat die departement se Nasionale Leesplan – wat hy in die eerste plek nooit bekend gemaak het nie – is ʼn dokument met ernstige gebreke. Die kwansuise inwerkingstelling daarvan is ʼn versameling lukrake en ongekoördineerde aktiwiteite deur provinsiale onderwysdepartemente sonder enige behoorlike monitering.

Ramaphosa het in 2019 “vyf fundamentele doelwitte” vir die regering oor die volgende tien jaar bekend gestel. Om te verseker dat “elke tienjarige met begrip kan lees”, was een daarvan.

“Dit is noodsaaklik om kinders toe te rus om in onderwys, by die werk en in die lewe sukses te behaal – en is waarskynlik die enkele belangrikste faktor om armoede, werkloosheid en ongelykheid te oorkom,” het Ramaphosa in sy 2019-staatsrede verklaar.

“As ons wil verseker dat elke tienjarige binne die volgende dekade met begrip kan lees, gaan ons die hele land se gewig agter ʼn massiewe leesveldtog moet gooi,” het Ramaphosa ná sy herverkiesing opnuut benadruk.

In 2016 kon 78% van die land se tienjariges nie met begrip lees nie. Hoewel geletterdheid sedert 2006 gaandeweg verbeter het, verwag kenners ʼn aansienlike daling in die getal kinders wat kan lees. Dit gaan na verwagting gestaaf word in die uitslae van ʼn internasionale studie oor geletterdheid wat later vandeesmaand bekend gemaak word.

Die gevolge hiervan is kommerwekkend; nie net vir die leerders nie, maar vir die land in die geheel. Verlede jaar, teen die agtergrond van verergerende jeugwerkloosheid, het die departement van hoër onderwys en opleiding “leesbegrip” as die voorste vaardigheidstekort in die land se arbeidsmag uitgewys.

Wat het verkeerd geloop?

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede jaar die daling in lees-uitkomste aan die Covid-19-pandemie toegeskryf en gesê leerverliese is wêreldwyd ondervind. Viewfinder en GroundUp se eksklusiewe toegang tot die Nasionale Leesplan en die inwerkingstelling daarvan wys egter dat die krisis ook die gevolg is van ernstige mislukkings in Motshekga se departement.

Vroeg in 2020 het die departement die president se doelwit in sy strategiese plan opgeneem. Die departement het ʼn nuut ontwikkelende “sektorale leesplan” bekend gemaak. Dit sou volgens die departement die verspreiding van verbeterde leesmateriaal in Afrika-tale en beter onderwysersopleiding insluit.

Verlede jaar het die direkteur-generaal van die departement, Hubert Mweli, aan die parlement gesê die Nasionale Leesplan is in al nege provinsies ingestel.

“Hoe weet ek dit? Ek weet dit want ek is jaarliks die voorsitter by vergaderings waar verslae oor die inwerkingstelling van leesprogramme voorgelê word. En oor die afgelope vyf tot ses jaar, het provinsies verslae voorgelê wat op hierdie leesplan gegrond is.

“Elke provinsie het dus ʼn leesplan. Daaroor kan ek my kop op ʼn blok sit,” het Mweli benadruk.

Kenners van Reading Panel 2030 – ʼn burgerlike organisasie wat die regering se vordering monitor – het egter uitgewys dat die Nasionale Leesplan nog nooit eens algemeen bekend gemaak is nie. Daar is ook weinig bewys daarvan in die departement se jaarverslag – vir die jaar waarna Mweli verwys – om sy bewering oor sogenaamde universele inwerkingstelling te staaf.

Die plan en provinsiale onderwysdepartemente se vorderingsverslae vir 2022-’23, wat Viewfinder en GroundUp deur ʼn spesiale versoek bekom het, bevestig ook dat geen “omvattende leesveldtog” tans in Suid-Afrika aan die gang is nie.

Hierdie rekords wys dat swak beplanning van die nasionale departement, ongekoördineerde ingryping en ongeorganiseerde monitering en evaluasie alles die land se leeskrisis dryf.

Wat is die leesplan?

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die Nasionale Leesplan is ʼn dokument wat bestaan uit ʼn voorblad en ʼn tabel met 47 bedrywighede wat onder tien temas gegroepeer is. Elke “aktiwiteit” het jaarlikse teikens vir elk van die vyf jare.

Dit bevat ʼn wye verskeidendheid voorgestelde bedrywighede: van klaskamer-biblioteke en verbeterde onderwysersopleiding, tot die aanmoediging van voedselmaatskappye om die Chappies-voorbeeld te volg en leesmateriaal by hul verpakking in te sluit.

Daar is egter geen inligting oor hoe die voorstelle in werking gestel moet word, wie daarvoor aanspreeklik gehou gaan word, of selfs hoe dit gefinansier moet word nie.

Stephen Taylor, hoof van navorsingsmonitering en evaluasie by die departement, het aan die TV-program Carte Blanche gesê die plan was nooit veronderstel om bekend gemaak te word nie en is ontwikkel om provinsiale departemente “leiding” te gee oor wat hulle kan doen om lees-uitkomste te verbeter.

Taylor het op versoek die departemente se mees onlangse vorderingsverslae gedeel en dit wys ʼn ongelykheid en gebrek aan samewerking tussen hulle. Die Wes-Kaap se verslae is byvoorbeeld gedetailleerd met talle verwysings, terwyl Limpopo se verslag kwalik 200 woorde lank is.

Die leespaneel het vantevore al uitgewys dat net die Wes-Kaap ʼn begroting vir die plan toegewys en ʼn plan ingestel het.

Verslae is chaos

Prof. Sarah Chapman, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en ʼn kenner oor monitering en evaluasie, sê die leesplan makeer raamwerke vir albei hierdie elemente. ʼn Behoorlike plan, sê Chapman, sou ʼn model bevat het wat aandui presies wat om te doen, asook hoe om dit te doen.

Daar sou ook ʼn verduideliking gewees het van watter uitkomste dit tot gevolg sou hê.

Weens die gebreke in die plan is die provinsies se verslae “chaoties”.

“My indruk is dat die provinsies enigiets wat hulle al gedoen het – onderwysersopleiding, mediaverklarings, bywoningsregisters, ʼn vennootskap met ʼn nieregeringsorganisasie – hierby ingesluit het.

“Daar is geen teorie oor hoe dit bymekaar pas of hoekom sekere goed belangrik is en tot spesifieke uitkomste gaan lei nie,” sê sy.

Sy sê uit ʼn monitering- en evaluasie-oogpunt, is daar niks wat daarop dui dat die plan “suksesvol in werking gestel is nie”.

“Daar is geen bewyse daarvoor nie.”

Departement sê

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement, het nie gereageer op ʼn versoek om kommentaar oor kritiek op die leesplan nie. Op versoek het die departement inligting verskaf oor wat hy bestempel as prestasies met die inwerkingstelling van die plan. Dit sluit in die aflewering van leermateriaal aan skole.

In antwoord op ’n vraag oor of die plan ʼn “klaaglike mislukking” is, het Taylor gemeen dit sou “onbillik” wees, veral omdat die plan goedgekeur is net voor die Covid-19-pandemie uitgebreek het. Die departement moes in daardie stadium op ander prioriteite reageer.

“Ons stem saam dat hierdie ʼn prioriteit is en dit is hoekom ons werk aan ʼn hersiene weergawe van die leesplan, wat ons hoop om ʼn openbare dokument te maak.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en ʼn verkorte weergawe word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Niemand kweek meer ‘n liefde vir lees by kinders nie. Baie skole se biblioteke bestaan nie meer nie want van die kinders neem die boeke uit en bring dit nooit terug nie. Dis hoekom jong volwassenes nie kan lees of behoorlik spel nie. Hoekom betaal ouers dan so duur vir skoolgeld as die onderwysers nie hul werk behoorlik kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.