ATKV-skryfskool ‘een van die suksesvolstes’ nóg

Prof. Bernard Odendaal, die direkteur van die ATKV-skryfskool

Die 34ste jaarlikse ATKV-skryfskool wat verlede week by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus plaasgevind het, was een die suksesvolste skryfskole tot op hede.

Só sê prof. Hans du Plessis, voormalige direkteur en een van die ervare sprekers wat sessies by vanjaar se skryfskool aangebied het.

Die ATKV-skryfskool is nou reeds ʼn bekende naam in die taalkringe. Die eerste kursus van sy soort het die vorm van ʼn Herfsskryfskool in April 1985 aangeneem, maar vir die afgelope drie jaar is dié kursus eerder ʼn Winterskool.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare dié skryfskool as ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane gesien, en vanjaar was daar weereens boeiende sprekers om hul kennis met die 28 kursusgangers te deel.

Du Plessis, Franci Greyling, Sophia Kapp, Louis Esterhuizen en Wemar Strydom was onder die bekwame sprekers. Talle verteenwoordigers van verskeie uitgewerye het ook kursusgangers toegespreek oor hoe presies opkomende skrywers te werk moet gaan om hul boek gepubliseer te kry.

Prof. Hans du Plessis. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Du Plessis meen vanjaar se skryfskool was ʼn groot sukses. “Ek dink dit was een van die heel suksesvolste skryfskole tot op hede. Dit was ʼn baie lekker groep – nie te groot of te klein nie. Partykeer voel dit of daar te veel kursusgangers is, maar vanjaar was dit net reg,” sê hy.

“Dit was so suksesvol, nie net oor die lekker groep nie, maar ook omdat die program so goed saamgestel was. Daar was ʼn baie goeie balans van inhoud en baie goeie sprekers, groepleiers en werkswinkelleiers.”

Prof. Bernard Odendaal, die direkteur van die ATKV-skryfskool, beaam Du Plessis se woorde.

“Die terugvoer wat ons gekry het, is baie positief. Die kursusgangers bedank ons nie net vir hoeveel hulle geleer het nie, maar ook vir die inspirasie wat hulle uit die sprekers en werkswinkels geput het,” sê Odendaal.

“Dit was vanjaar die agtste keer wat ek die skryfskool help organiseer en dit was opvallend dié keer hoe geesdriftig die mense was en hoeveel genot hulle daaruit geput het om daar te wees.”

Alles van beplanning, karakterisering, plotpunte, uitleg, die voorblad van ʼn boek, joernalistieke skryfwerk, toneelskryf en klankdramas is by dié kursus bespreek.

Kursusgangers moes ook ʼn kortverhaal inskryf wat tydens die kursus bespreek en geredigeer is. Odendaal, Janien Linde en Thys Human, wat literatore aan die NWU is, het dié sessies hanteer.

Die groep kursusganger het ook die geleentheid gehad om die bekendstelling van die boek P.G. du Plessis: Hy was ʼn rukkie pagter hier by te woon waarby die redakteur van dié boek, Heilna du Plooy, hulde gebring het aan die bekende televisiepersoonlikheid, skrywer, dramaturg en digter wat voor sy afsterwe ook getrou by die skryfskool betrokke was.

Volgens beide Du Plessis en Odendaal was dié geleentheid die hoogtepunt van die kursus.

Die kusrsusgangers van Winterskool 2019 (Foto: Verskaf)

Du Plessis sê die bekendstelling was vir hom bietjie hartseer en nostalgies was, maar hy het dit terselfdertyd baie geniet.

Vir Odendaal was dit spesiaal omdat P.G du Plessis sélf, asook die twee persone wat die gesprek gelei het oor sy huldeblykboek, Jacques van der Elst en Heilna du Plooy, in die verlede deel was van die skryfskool.

“Hulle was albei oor baie dekades deel van die ATKV-skryfskool. Hulle het dikwels opgetree as sprekers of werkswinkelleiers. Hulle het ook op die beheerraad van die skryfskool gedien,” het hy gesê.

Odendaal het gesê hy voel positief oor die uitkomste van vanjaar se skryfskool en dink daar is ʼn hele paar kursusgangers wie se name nog in boeke gaan verskyn.

“Ek het opgemerk dat daar mense is wat dit met baie erns aanpak. Ek het met die poësie skrywers gewerk, maar ek is seker daar was in elke genre sulke tipe mense. Ek glo daar is beslis mense uit die groep wat nog ʼn boek gaan publiseer, en dit is altyd vir my so inspirerend,” sê hy.

“Dit gee my groot genoegdoening; dat talentvolle mense die skryfskool bywoon en dat die opset daar dan ʼn vuurtjie binne hulle aansteek sodat hulle ook eendag kan publiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacolien ·

Beslis die moeite werd. Ek is bly ek was daar. Die ervaring hier sal my altyd bybly.

Kallie Grafie ·

Ek sou dit bywoon, maar kon nie die geld daarvoor bymekaar skraap nie. Hopelik is ek eendag geldelik in die posisie om dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.